Bly bestendig in die storm (en/of droogte)

Gepubliseer: 31 Augustus 2023

427
Dr Dirk Strydom
hoof: Bemarking, NAMPO en Navorsingskoördinering

Corné Louw
hoof: Toegepaste Ekonomie en Lededienste

In die landbougemeenskap is ons gewoond aan veranderinge en die verskuiwing van risiko’s. As daar tans na die breër omgewing gekyk word, is daar verskeie storms en onsekerhede wat broei.

Op ekonomiese gebied kom die plaaslike ekonomie net nie uit die greep van swak groei nie. Dit is belangrik vir die graanbedryf, want ons benodig groter verbruik van nie net stapelvoedsel soos brood en mieliemeel nie, maar ook van vleis en veevoer. Op politieke vlak nader ons weer ’n verkie­singsjaar: Ons weet al dat dit ’n tydperk is waar polarisering plaasvind en uitsprake gemaak word wat gewoonlik nie gunstig vir die landbouomgewing is nie.

Wat landbouproduksie betref, is daar ook ’n klomp vrae wat aan die huidige klimaatsomstandighede gekoppel is. Wat is die werklike omstandighede in die VSA, hoe gaan die verwagte El Niño plaaslike oeste beïnvloed of gaan dit enigsins ’n impak hê? Hierdie is alles risiko’s wat produsente se besluitneming bemoeilik.

Dit is alombekend dat die meeste klimaatmodelle ’n groot waarskynlikheid van ’n El Niño-verskynsel toon vir die komende somerreënvalseisoen. Dit is beslis nie iets ongewoons vir Suid-Afrika se graanprodusente wat gewoond is aan midsomerdroogtes nie. As gevolg van die afgelope drie jaar se hoë reënval het produsente – veral in die weste – aanpassings gemaak om die oormaat reën te bestuur. Een van hierdie bestuursmaatreëls was om meer sojabone aan te plant omdat dié gewas die oormaat vog kon gebruik en beter in versuiptoestande gevaar het. Dit laat die vraag ontstaan: Hoe moet ’n gewas soos sojabone in ’n droër jaar bestuur word, veral in die weste van die somerreënvalstreek? En gaan produsente beweeg na groter aanplantings van gewasse soos sonneblomsaad, graan­sorghum, grondbone en mielies, wat dalk meer droogteverdraagsaam is?

In die aanloop tot die nuwe somergraanplantseisoen, het kunsmispryse gedaal tot by vlakke soos voor Covid-19 en die Rusland/Oekraïne-oorlog, terwyl energiekoste soos dieselpryse ook sowat 18% laer as ’n jaar gelede is. Dit is goeie nuus nadat die afgelope seisoen se oes met rekordhoë insetpryse in die grond gesit is.

Alhoewel dit lyk of die produksiekoste van grane afgeneem het teenoor verlede jaar, is graanpryse ook in ’n afwaartse tendens. Dit verhoog die risiko wat ’n verwagte El Niño kan bring nog meer. As die kosteknyptang veroorsaak dat produsente onder normale omstandighede sukkel om geld te maak, is die risiko van ’n droë en warm klimaat vir die komende seisoen net nog soveel groter!

Dit is belangrik om in tye soos hierdie kop te hou en boeke te vat oor wat die eksterne faktore is wat ’n impak op die boerdery het. Produsente moet seker maak dat dit wat wel binne hulle beheer is, so goed as moontlik bestuur word. Om in hierdie tye onnodige en onberekende kanse te vat is taboe. Oom Kallie Schoeman herinner ons gereeld om ’n lys te maak van dinge wat ons bekommer. Ons sal vinnig sien dat die meeste daarvan aspekte is wat heeltemal buite ons beheer is. Hierdie oefening help om bewus te wees van die volgende:

  • Alles wat ’n invloed op jou en jou boerdery uitoefen;
  • aspekte wat totaal buite jou beheer is (gee dit oor); en
  • dan die sake waaraan jy wel iets kan doen. Fokus op laasgenoemde.

Gegewe die perspektiewe wat in hierdie hoofartikel genoem is, kan ’n mens maklik mismoedig raak en emosionele besluite neem weens al die onsekerhede. Bepaal mooi waaroor jy as produsent beheer het en waaroor nie. Maak gebruik van historiese besluitnemings wat vrugte afgewerp het en hou by die bestuursplan wat jou tot hier gebring het.

Een van Warren Buffet se bekendste wenke is uiters relevant in hierdie situasie: “Om suksesvol oor ’n leeftyd te belê, vereis nie ’n stratosferiese IK, ongewone besigheids­insigte of binne-inligting nie. Wat nodig is, is ’n gesonde intellektuele raamwerk om besluite te neem en die vermoë om te keer dat emosies daardie raamwerk korrodeer. Jy moet die emosionele dissipline verskaf.”

Baie sterkte vir die wintergraanprodu­sente wat nou die vrugte gaan pluk van hul harde werk en beplanning met die oesseisoen wat nader kom. Wat die somergraanprodusente betref, sterkte met julle beplanning in die aanloop tot ’n nuwe seisoen. Hou gerus Graan SA se bronne dop vir goeie inligting en terugvoer om jou as produsent te ondersteun om effektiewe besluite te neem.