Is dit selfopgelegde onteiening?

902
Jannie de Villiers
HUB,
Graan SA jannie@grainsa.co.za

Ek luister onlangs na ’n werknemer wat sy lot bekla oor ’n maatskappy waarvan die aandeelprys buitensporig gedaal het en wat toe selfs verhandeling moes staak. In die onlangse verlede is ons deur die Steinhoff-sage waarin baie van die landboutrusts, Agri SA en selfs Graan SA belê het en die gevolge moes dra. Party moes groot gevolge dra en ander, soos Graan SA, baie min.

Tog laat dit ’n wrang smaak in die mond. ‘n Paar van ons genoteerde landbouverwante maatskappye worstel tans met verskeie ernstige kwessies. Van die redes hou verband met wat die waarheid is en wat nie. Albei se aandeelprys daal met sowat 75%. Dit is substansieel! Een van hulle se verhandeling op die JSE is selfs gestaak. Chaos.

Ek het geen dieptestudie oor die redes gemaak nie, maar dis nie moeilik om die berigte in die media te volg om te verstaan dat die eiendomswaarde in die boeke van een so ’n maatskappy totaal oorwaardeer was nie. Dit sluit hulle landbougrond en ander grond in. Die substansiële verlies aan die waarde van die aandele klink vir my soos selfopgelegde onteiening sonder vergoeding. Soos ons egter weet, is baie onskuldige mense se pensioengeld daarin belê. Selfs produsente se surplusse (as daar so iets is!) kon daarin belê gewees het.

Ons is so gefokus op die staat se onteiening sonder vergoeding, maar ons sien nie dié raak wat dit hier onder ons neuse toepas nie. Daar is groot ontnugtering by beleggers en personeel. Dink vir ’n oomblik aan hulle wat dag en nag alles gee om die maatskappy se naam op te bou en hoog te hou, net om dan ontnugter te word deur mense wat met kwade bedoelings of uit onkunde die waarde vernietig.

Produsente word voortdurend aangemoedig om te diversifiseer deur aandele in die waardeketting (insette en verwerkers) op te neem. Hierdie voorbeelde maak ’n mens skrikkerig en selfs benoud: Wie is volgende?

Hoe raak dit landbou en dalk ook jou onderneming? Ons het gesien dat ’n “betroubare” verskaffer sommer op ’n dag kan ophou om produkte en dienste te verskaf. Is jou onderneming so gediversifiseer dat jy sal kan aanpas sou een van jou insetverskaffers môre nie meer bestaan nie?

Dit geld vir almal, nie net dié waarvan jy weet wat tans in die moeilikheid is nie.

’n Ander voorbeeld is dat ’n moontlike aankoper van jou graan dalk nie meer sy aankoopkontrakte kan nakom nie. Hierdie scenario’s is miskien oordrewe, maar dit is alles moontlik.

Dan kom dit nader aan jou plaas: Hoe word jou eiendomme gewaardeer? Is jy as eienaar direk daarby betrokke of is dit ’n funksie wat jy na die rekenkundige dienste delegeer? Die lesse wat ek hieruit geleer het, is dat jy as produsent betrokke moet wees en fyn moet dophou hoe dit met jou insetverskaffers, aankopers en selfs jou boekhouer en ouditeure gaan. Dit is nie net die staat wat dalk lê en loer waar hulle iets kan vat nie…

Laastens moet elkeen van ons weet wat ons eie, ons geliefdes en ons ondersteuningstelsels se regte waarde is. Moenie jouself oorskat as jy in gesprekke gaan, veral rondom die braaivleisvuur en voor die bankbestuurder nie. Dit mag jou dalk net duur te staan kom.

Jy moet ook nie jou werksmag se waarde onderskat nie. Dit is hulle wat soggens vroeg en saans laat saam met jou opstaan om te help boer of vuur te slaan. Na byna 34 jaar se getroude lewe het ek ook al besef wat die waarde van my lewensmaat is. Sy is daar as dit goed gaan en as dit swaar gaan. Vir my is haar waarde veel meer as dié van pêrels. Dit is verseker.