Herfskommandowurm: Toevlugsoord benadruk

2217
Dr Annemie Erasmus,
LNR-Graangewasse, Potchefstroom

Die herfskommandowurm (Foto 3) is ’n ernstige plaag op mielies in Suid-Afrika wat skade aanrig aan die kelkblare en aan mieliekoppe. Hierdie kommandowurm kan betekenisvolle opbrengsverliese veroorsaak en moet daarom dringend beheer word.

Bt-mielies wat geneties gemanipuleer is om larwes soos die herfskommandowurm te beheer, word suksesvol in Amerika en in ander dele van die wêreld geplant. Dit is egter nie voldoende om slegs op een beheermaatreël soos Bt-mielies staat te maak om die herfskommandowurm in Suid-Afrika te beheer nie. Daar moet altyd ’n geïntegreerde plaagbeheerstelsel in gedagte gehou word om beheermaatreëls te kombineer en af te wissel.

Geïntegreerde plaagbeheerstelsel
Bt-mielies wat in Suid-Afrika verbou word, kan een van drie Bt-uitdrukkings bevat, MON810 (YieldGard), MON89034 (YieldGardII) en Bt11 (AgriSure). Al is Bt-mielies ’n goeie beheermaatreël om te gebruik vir die beheer van die herfskommandowurm, is dit duidelik dat dit op sy eie nie ’n volhoubare opsie vir die toekoms is nie.

Tesame met die beheer van herfskommandowurm deur middel van Bt-mielies, is dit belangrik om ook ’n effektiewe insekdoderspuitprogram te volg om sodoende effektiewe beheer te verseker.

70% van mielies bevat Bt-geen
Meer as 70% van mielies wat in Suid-Afrika aangeplant word, bevat die Bt-geen, daarom is daar altyd ’n risiko vir weerstandsontwikkeling deur teikenplae. Die hoofbekommernis is die tempo waarteen hierdie teikenplae weerstand kan ontwikkel.

Produsente moet die ontwikkeling van weerstand voorkom deur gebruik te maak van ’n spesifieke, goedgekeurde weerstandsbeheerstrategie. Om weerstandsontwikkeling te voorkom, moet daar gebruik gemaak word van die hoëdosis-toevlugsoordstrategie.

Hoëdosis-toevlugsoordstrategie
Hierdie strategie is gebaseer op die kombinasie van Bt-mielies wat hoë dosisse toksien produseer, met die nabyheid van nie-Bt-mielies as ’n toevlugsoord. Die doel van die hoëdosis-toevlugsoordstrategie is om so veel as moontlik van die teikenplaag te dood.

Die daarstel van die toevlugsoord is om motte van die teikenplaag te produseer wat oorleef op nie-Bt-mielies. Die doel is om seker te maak dat ’n skaars, weerstandbiedende mot afkomstig van Bt-mielies nie totale weerstandbiedende nakomelinge produseer deur met ander weerstandbiedende motte te paar nie.

Inteendeel, vatbare motte afkomstig van die nie-Bt-toevlugsoord is veronderstel om te paar met die weerstandbiedende individue wat oorleef op die Bt-mielies. Die nakomelinge van die paring word verwag om ’n lae tot matige vlak van weerstand te hê en het dan nie die vermoë om te oorleef op mielies met hoë Bt-vlakke nie (Figuur 1).

Die basis van geïntegreerde weerstandsbestuur is dat produsente voldoende hektare nie-Bt-gewasse aanplant wat dien as toevlugsoord vir die plaag. Dit verminder die seleksiedruk vir die ontwikkeling van Bt-weerstandbiedende insekte en waarborg dat Bt-vatbare plae beskikbaar sal wees om te paar met Bt-weerstandbiedende insekte, indien daar van hulle voorkom.

Daar is sekere voorgeskrewe riglyne wat gevolg moet word indien die produsent Bt-mielies plant in Suid-Afrika. Daar is twee opsies wat gevolg kan word: ’n 5%-toevlugsoord van nie-Bt-mielies, waar larwes nie chemies beheer mag word nie of ’n 20%-toevlugsoord van nie-Bt-mielies waar larwes wel chemies beheer mag word.

Indien die 5%-opsie toegepas word, moet die produsent 5 ha nie-Bt-mielies en 95 ha Bt-mielies plant vir elke 100 ha mielies. In die geval van die 20%-opsie moet die produsent 20 ha nie-Bt-mielies en 80 ha Bt-mielies plant vir elke 100 ha mielies.

Aksiedrempelwaarde
Die volgende aksiedrempelwaarde word aanbeveel (opsommend in Tabel 1):

Afrika-mieliestamboorder en Chilo-boorder
Vir Busseola fusca (Afrika-mieliestamboorder) (Foto 1) en Chilo partellus (Chilo-boorder) (Foto 2) – Bt-mielie-aanplanting: Insekdodertoediening as 5% tot 10% van die plante stamboorderskade toon (5% voorkomend, 10% aksiedrempelwaarde); nie-Bt-mielie-toevlugsoord: 5%-toevlugsoord – geen insekdodertoediening nie, 20%-toevlugsoord – insekdodertoediening as 10% van die plante stamboorderskade toon.

Herfskommandowurm
Vir Spodoptera frugiperda (herfskommandowurm) (Foto 3) – Bt-mielie-aanplanting: Insekdodertoediening as 5% tot 10% van die plante skade toon met ’n Davis-skaal van 3 of meer (5% voorkomend, 10% aksiedrempelwaarde); nie-Bt-mielie-toevlugsoord: 5%-toevlugsoord – geen insekdodertoediening nie, 20%-toevlugsoord –insekdodertoediening as 20% plante skade toon met ’n Davis-skaal van 3 of meer.

Slegs vir Spodoptera frugiperda (herfs­kommandowurm) – in gevalle van ekstreme besmettings (>20% van plante met skade met ’n Davis-skaal van 3 of meer) in die 5%-toevlugsoord waar geen insekdoder toegedien is nie, kan dit nodig wees om larwes te beheer deur insekdoder toe te dien. Indien die toevlugsoord in hierdie geval
bespuit word, moet die Bt-aanplanting ook bespuit word.

Geneties gemanipuleerde boerdery
In die produkhandleiding van geneties gemanipuleerde boer word die volgende aspekte uitgelig:

  • Die veld van ’n naburige produsent kwalifiseer nie as ’n voldoende toevlugsoord nie.
  • Die meng van Bt- en nie-Bt-saad is nie aanvaarbaar in die gebruik van ’n toevlugsoord nie.
  • Die toevlugsoord moet op dieselfde land geplant word en dieselfde groeikondisies hê as die Bt-mielies.
  • Indien die Bt-mielies onder spilpunt verbou word, moet die toevlugsoord ook onder spilpunt wees.
  • Produsente moet lande gereeld monitor vir insekskade.

Indien die bogenoemde riglyne gevolg word, kan Bt-mielies volhoubaar geproduseer word om belangrike plae soos stamboorders en die herfskommandowurm te beheer.

Die inligting weergegee in hierdie artikel is soos saamgevat in die dokument Integrated Pest Management (IPM) & Insect Resistance Management (IRM) for Fall Armyworm in South African Maize saamgestel deur die Insecticide Resistance Action Committee (IRAC) Suid-Afrika, Mei 2018 (https://www.irac-online.org/) met die insekweerstandsbestuuraanbevelings soos deur The South African National Seed Organisation (SANSOR) verskaf.