September 2017

Dr Sonia Steenkamp, LNR-Graangewasse, Potchefstroom

Zacharias Janssen en sy seun was Hollandse brilmakers wat in die 16de eeu geleef het. Die twee brilmakers het ‘n bietjie met lense rondgespeel en in 1590 die heel eerste mikroskoop ontwikkel. Skielik kon ons ‘n onsigbare wêreld sien – wat ons nie geweet het bestaan nie.

Anton van Leeuwenhoek het die mikroskoop in die 17de eeu verder ontwikkel en verbeter. Vandag het ons mikroskope wat hierdie klein wêreldjie letterlik duisende kere kan vergroot.

Needham was die eerste persoon wat in 1743 besef het dat daar aalwurms bestaan wat op plante parasiteer.

Dit is danksy die vernuftige Hollanders en Needham dat ons vandag bewus is van aalwurms en weet dat dit hulle is wat die lewe vir ons produsente moeilik kan maak.

Ons weet nou dat daar heelwat plant-parasitiese aalwurms be­staan wat op ons gewasse kan parasiteer. Die mens was ook nie links nie en het oorlog teen die klein peste verklaar. Die eerste hoogs suksesvolle aalwurmdoders het in die veertigerjare van die vorige eeu die lig gesien.

Hierdie aalwurmdoders was só suksesvol in die beheer van aalwurms dat telers hulle meer daarop kon toespits om vir beter oesopbrengste te teel, sonder om bekommerd te wees of die plante nog weerstand teen aalwurms sou hê of nie.

Vandag sit ons met die tameletjie dat daar maar relatief min gewasse en kultivars is wat nog natuurlike weerstand teen aalwurms het.

Die feit dat daar min natuurlike weerstand teen aalwurms is, bringnatuurlik eiesoortige probleme mee. Somtyds is dit nie genoeg om net aalwurmdoders te gebruik nie. Verskeie faktore kan ‘n rol hierin speel, soos byvoorbeeld baie reën net nadat die aalwurmdoder toegedien is. Die reën sal die aalwurmdoder afwas.

Nog ‘n voorbeeld is waar mikroskopiese klein organismes die aalwurmdoders te vinnig afbreek sodat dit nie die aalwurms suksesvol kan beheer nie. Aalwurmkundiges moes daarom weer terug in tyd beweeg om te gaan soek na die weerstand wat ons weens selektiewe teling vir beter opbrengste verloor het. Gelukkig is Moeder Natuur soms vergewensgesind en het sy so ʼn bietjie weerstand hier en daar gered. Ons moet net hard genoeg daarna soek.

Daar is heelparty plant-parasitiese aalwurms wat ons versondig, maar nie almal is so gevaarlik vir al die gewasse nie. ‘n Sprekende voorbeeld hiervan is die peulaalwurm. Peulaalwurms is ‘n wesenlike probleem vir ‘n grondboonprodusent en kan vir hom groot finansiële skade berokken.

Alhoewel die produsent se grondbone daarmee heen sal wees, sal die peulaalwurm glad nie skade aan enige van sy ander gewasse aanrig nie. Knopwortel- en letselaalwurms is nou weer perde van ‘n heel ander kleur.

Hierdie aalwurms het ‘n baie wye gasheerreeks en is in staat om op feitlik enige gewas te parasiteer en skade aan te rig. Aalwurmkundiges sal dus eerste weerstand gaan soek teen knopwortel- of letselaalwurms.

Kan ‘n gewas/ kultivar weerstand teen al die aalwurms hê?
Ongelukkig is dit so dat ‘n gewas of kultivar van ‘n gewas nie sommer weerstand teen meer as een aalwurmspesie het nie. Die besluit moet dus vooraf geneem word oor watter aalwurmspesie op ‘n gegewe stadium die meeste probleme vir die oorgrote aantal produsente sal gee en dan moet daar op daardie aalwurmspesie gekonsentreer word.

Weerstand teen knopwortelaalwurm
Opnames wat deur LNR-Graangewasse en Noordwes-Universiteit gedoen is, toon dat knopwortelaalwurm op hierdie stadium die grootste probleem vir die meeste eenjarige gewasse is.

Twee knopwortelaalwurmspesies steek keer op keer kop uit en in die meeste lande bestaan ‘n knopwortelaalwurmpopulasie uit ‘n gemengde populasie van Meloidogyne incognita en M. javanica.

Om só ‘n populasie suksesvol te kan beheer, moet die plant weerstand hê teen beide van hierdie knopwortelaalwurmspesies. Saadmaatskappye het hul gewildste mielie-, sonneblom-, hawer- en koringkultivars gestuur sodat LNR-Graangewasse dit kon toets vir weerstand teen een of beide van hierdie knopwortelaalwurmspesies. Sien Tabel 1 tot Tabel 3 vir die resultate daarvan.

Feitlik geen sonneblomkultivars wat tot dusver getoets is, toon weerstand teen knopwortelaalwurm nie. Slegs Prosol 101CL van Sensako het weerstand teen M. incognita.

Slegs kultivars met weerstand teen beide van die aalwurmspesies sal deur ons aanbeveel word. Saadmaatskappye gebruik die inligting om weerstandbiedende kultivars weer in hulle teelprogram in te sluit as bron van weerstand vir nuwe kultivars.

Deur van gasheerweerstand gebruik te maak, kan knopwortel­aalwurmpopulasies effektief beheer word – mits die aalwurmbesmetting nie uit die staanspoor buitensporig hoog is nie. Produsente word aanbeveel om van die kundige advies van die area-agent gebruik te maak om sodoende kultivars te selekteer wat in die produsent se area aangepas is en daarom die beste sal presteer.

Gasheerweerstand is ‘n veilige en goedkoper manier om aalwurms te beheer, maar is nie noodwendig die alfa en die omega van aalwurmbeheer nie. ‘n Geïntegreerde benadering wat byvoorbeeld ook chemiese of biologiese beheer, asook wisselboupraktyke, insluit kan die produsent help om die aalwurmbevolking te verminder.

Kontak dr Sonia Steenkamp by steenkamps@arc.agric.za in verband met vrae oor die artikel.

Publication: September 2017

Section: Focus on