Is diep skeurploeg elke jaar nodig?

3694
Martiens du Plessis, grondkundige, NWK

Die kosteknyptang in saaiboerdery vreet elke jaar ’n bietjie meer van die boerderywins weg. Dit noop saaiprodusente om die skroef in kostebestuur elke seisoen nog ’n bietjie verder aan te draai.

Oor tyd is produksiekoste reeds dermate besnoei dat daar min plek oor is om nog te bespaar. Is dit uit hierdie oogpunt beskou moontlik om dalk op duur diep skeurploegbewerkings te sny? Hierdie artikel poog om dié aktuele onderwerp toe te lig.

Wat word met diep skeurploeg, oftewel rip, bedoel?
In die volksmond beteken diep skeurploeg dat daar dieper as 30 cm met ’n tandimplement gewerk word. In sommige gevalle word daar so diep as 90 cm gewerk.

Doelwitte van diep skeurploeg
Die primêre rede vir diep skeurploegbewerkings is om beperkende lae in die grond op te breek en daardeur diep wortelpenetrasie te stimuleer ten einde water en plantvoedingstowwe uit die dieper grondlae te kan onttrek. Dit word gedoen deur ’n gunstige ondergrondstruktuur te skep deur verdigte sones op te breek en so gronddeurlugting te bevorder.

Die vraag is: Hoe diep penetreer gewaswortels die grond sodat die produsent daarvoor voorsiening kan maak? Tabel 1 dui die effektiewe bewortelingsdiepte van ’n aantal gewasse aan.

Skep ’n gunstige ondergrondstruktuur
Verreweg die belangrikste rede waarom diep skeurploegbewerkings gedoen word, is om diepliggende verdigte sones op te breek. Verdigte sones word deur landverkeer veroorsaak, met trekkers as die grootste sondebok (Foto 1).

In klam sandgrond verdig ’n trekkerwiel die grond wortelbeperkend vir tot 400 mm diep, met oor die algemeen tot 300 mm diep. ’n Trekkerwiel wat in ’n holvoor loop, verdig sandgrond maklik vir 300 mm gemeet vanaf die basis van die holvoor, wat beteken dat indien daar 250 mm diep geploeg word, die verdigte sone tot by 550 mm kan strek.

Hierdie gekompakteerde ondergrondstruktuur moet met ’n diep skeurploegbewerking opgebreek word om die gewaswortels die geleentheid te bied om tot hul effektiewe worteldiepte te groei.

Deurlugting
Gronde met tydelike, vlak watertafels kan wortelgroei weens anaërobiese toestande beperk. Aangesien daar diep tot in die vrywater bewerk word, word suurstof in die suurstofarm grondlaag ingebring wat wortelontwikkeling daar sal bevorder.

Rol van grondtipe
Die grondtipe speel ’n betekenisvolle rol in hoe dikwels grond diep bewerk moet word. In hierdie verband is die grond se tekstuur, waterinhoud tydens bewerking, die grondvorm asook versuiping belangrik.

Tekstuur (sand-, klei- en slikinhoud)
As ’n reël kompakteer sandgrond makliker en dieper as leemgrond, terwyl kleieriger gronde vlakker en minder dig kompakteer en ook meer energie vereis om te kompakteer. Dit impliseer dat sandgrond meer gereeld en ook dieper bewerk moet word as leemgrond. Diep skeurploegbewerkings is selde in kleigrond nodig en indien dit gedoen is, hou die effek van die diep bewerking lank.

Klipperige grond is minder geneig tot verdigting, omdat die landverkeer se massa deur die klippe gedra word. Indien die grond tussen die klippe oor tyd verdig raak, sal ’n vlak skeurploegbewerking wat selde dieper as 300 mm hoef te wees, nodig wees.

Waterinhoud tydens bewerking
Grond is in ’n klam toestand op sy gevoeligste vir kompaksie. Droë grond kompakteer baie moeilik, maar die meeste grondbewerkingsaksies vind egter juis tydens klam grondtoestande plaas. Wanneer die grond teen strooptyd klam is, verdig die stroper die grond ook wesenlik, maar as die grond dan droog is, is die stroper se effek heelwat kleiner.

Grondvorm
Die grondvorm volgens die Grondklassifikasiesisteem vir Suid-Afrika is ook hier van wesenlike belang. Diep gedreineerde apedale (swak/geen ontwikkelde struktuur) gronde is baie geneig om diep te kompakteer, sodat diep skeurploegbewerkings meer gereeld uitgevoer moet word. Voorbeelde hiervan is die Hutton-, Clovelly-, Avalon- en Pindene-grondvorms.

Hierteenoor is gestruktuurde grond soos dié van die Rensburg-, Arcadia-, Valsrivier-, Bonheim- en Shortlands-grondvorms min tot verdigting geneig en sal diep skeurploegbewerkings selde nodig wees.

Gronde wat geneig is om te versuip, soos die Westleigh-, Kroonstad- en Longlands-grondvorms, moet meer dikwels diep geskeurploeg word om die versuipte lae te deurlug.

Gronde met sanderige E-horisonte, soos die Kroonstad- en Longlands-vorms, is uiters gevoelig vir verdigting. Hulle moet gereeld vir die vorming van kompaksielae geëvalueer word en diep met ’n skeurploeg bewerk word indien dit nodig blyk.

Organiese koolstof
Gronde met ’n hoë organiese koolstofinhoud (meer as ongeveer 6% organiese koolstof) oor ’n diepte van minstens 300 mm, is minder aan kompaksie onderhewig en jaarlikse diep skeurploegbewerkings sal sekerlik nie nodig wees nie. Daar is egter min van hierdie gronde in Suid-Afrika en waarskynlik weinig (indien enige) onder kommersiële kontantgewasverbouing. Die meeste saaigronde het tipies minder as 0,7% organiese koolstof in die boonste 300 mm gronddiepte, wat ons laat met gronde waarvan die effek van organiese materiaal in terme van kompaksiebestuur waarskynlik buite rekening gelaat kan word.

Die rol van bewerkingsgeskiedenis
Skaar- en skottelploegbewerkings met die trekkerwiel in die holvoor, was ’n algemene praktyk in die jare voor die draai van die vorige eeu. Sedertdien het werktuie al groter geword en is werktuie wat slegs op die grondoppervlak beweeg baie meer algemeen.

Trekkerwiele in die holvoor is feitlik uitsluitlik die oorsaak van subploeglaagverdigtings. In grondvorms met swak/geen struktuur­ontwikkeling, soos hierbo genoem, kan daar dus aanvaar word dat daardie verdigte sones steeds bestaan indien dit nog nie meganies opgebreek is nie.

Indien implementbewegings in die toekoms tot die grondoppervlak beperk word, is dit onwaarskynlik dat ’n diep skeurploegbewerking gou weer nodig sal wees.

Ondoeltreffende skeurploeg
Skeurploegbewerkings se doeltreffendheid word dikwels oorskat. Die redes hiervoor is dat daar nie diep genoeg bewerk word nie, dat die onderkant van die verdigte sone nie akkuraat bepaal is nie, en omdat skeurploeë se tande te wyd gespasieer is (Foto 2).

Dit bring mee dat ou verdigte sones steeds in die lande teenwoordig is. Sulke verdigte sones moet (dikwels eenmalig) behoorlik opgebreek word.

Beitelploeg- en snybewerkings
Beitelploeg- en snybewerkings in sanderige gronde is as ’n reël nie diep genoeg om die kompaksie weens trekkerwiele op te hef nie. Dit het tot gevolg dat ’n baie nadelige verdigte laag net onder die diepte van bewerking ontstaan (Foto 3).

Dit word dikwels foutiewelik aan die beitelploeg of snyeg toegedig, maar is in wese deur trekkerwiele veroorsaak. Dit moet doeltreffend geïdentifiseer en opgebreek word.

Die rol van die bewerkingstelsel
Die bewerkingstelsel speel ’n groot rol in hoe dikwels diep skeurploegbewerkings uitgevoer moet word. Hoe meer kere daar met ongekontroleerde spore in die land gery word, hoe meer dikwels moet diep losgemaak word. Hiermee saam speel die tekstuur ’n baie groot rol.

Konvensionele bewerking
Konvensionele skoonbewerking (skaarploeg-, skottelploeg- en snybewerkings) en konvensionele tandbewerkings (beitelploeg en vlak skeurploeg) kan vir die doel van hierdie bespreking saamgevoeg word. Hierdie bewerkings word dikwels as primêre bewerkings uitgevoer.

Sekondêre bewerkings behels gewoonlik ’n bewerking om opslag en onkruid te beheer asook ’n saadbedbewerking. Hierdie bewerkings word as ’n reël in ’n ander rigting as die plantrigting uitgevoer. Neem as voorbeeld ’n trekker met 700 mm-wye bande wat ’n skoffelbewerking van 7 m wyd uitvoer. Die trekker trap 20% van die oppervlakte vas, waarvan die boonste skoffellaag weer losgemaak word.

As daar vervolgens ’n saadbedbewerking in ’n ander rigting uitgevoer word, word ’n verdere 16% van die land vasgetrap – dus 36% tot voor plant. Dit beteken dat 36% van die plante op spore geplant gaan word. Tydens plant word ’n verdere 13% vasgetrap – dus trek dit al by 49% van die land.

Verder word daar gespuit, geskoffel, gestroop en met die tapkar in die land gery, wat wel in die plantrigting is, maar nie noodwendig ooreenstem met die planterspore nie. Dan word daar maklik geëindig met 70% van die land wat vasgetrap is. Dit laat die produsent met geen ander keuse as om jaarliks diep los te maak nie.

Eenjarige beheerde spoorverkeer
In ’n beheerde spoorverkeerstelsel word die land algeheel behoorlik los gemaak, waarna die planterspore uitgemerk word (verkieslik met ’n trekker met ’n gekorrigeerde GPS-sein). Al die verkeer vir die res van die seisoen word hierna tot hierdie spore beperk.

Dit beteken dat al die gewasrye op los grond geplant word. Die daaropvolgende jaar kan net die spore diep losgemaak word en die res van die land hoef slegs vlak bewerk te word. Dit bring ’n betekenisvolle besparing mee.

Meerjarige beheerde spoorverkeer
Die kersie op die koek is wanneer die spore in bogenoemde stelsel eenmalig uitgemerk en dan permanent gebruik word. Dit beteken dat al die werktuie so wyd soos die planter moet wees, of veelvoude daarvan (byvoorbeeld die spuitwydte is dubbeld die planterwydte). So word daar elke jaar op dieselfde rye geplant.

’n Voorwaarde hiervoor is dat die planter aangepas moet wees om in stoppel te kan plant, of alternatiewelik kan die land vlak bewerk word om die wortelknoetse uit te haal en die plantsone plantbaar te maak. ’n Rolmoer, gevolg deur ’n snybewerking, is baie geskik hiervoor.

In hierdie stelsel kan diep skeurploegbewerkings vir etlike jare uitgestel word. Die nodigheid vir so ’n bewerking moet jaarliks geëvalueer word en weer uitgevoer word wanneer dit nodig raak.

Trekkers moet verkieslik almal met GPS’e met gekorrigeerde navigasiesatellietseine toegerus wees, of ten minste die trekkers wat jaarliks weer die spore moet uitmerk. Hierdie stelsel moet vooraf in fyn detail en deeglik beplan word om vir al die gewasse wat op die plaas aangeplant word, voorsiening te maak. Dit verg fyner bestuur, maar die resultate maak dit die moeite werd.

Dit is die outeur se mening dat hierdie stelsel volhoubaar op die meeste gronde onder graangewasverbouing toegepas kan word. In Australië word dit met groot sukses op swart kleigronde toegepas en in die Noordwes Provinsie op sandleemgronde.

Is hierdie stelsel al getoets? Dié stelsel funksioneer nou al vir tien jaar suksesvol op ’n kommersiële saaiplaas naby Lichtenburg, waarvan die gronde hoofsaaklik sandleem is. Dit word ook reeds vir meer as vyf jaar suksesvol op verskeie ander plase in die Noordwes Provinsie toegepas en word al vir etlike jare in die suikerindustrie in Suid-Afrika en in Australië gebruik.

Waar pas geenbewerking in hierdie prentjie?
Die outeur is van mening dat permanente spoorverkeer een van die sleutels is om geenbewerking op ’n volhoubare spoor te plaas. Dit is ook die wyse om geenbewerking suksesvol op sandgronde toe te pas.

Samevatting
Moet daar elke jaar diep geskeurploeg (gerip) word? Dit is beslis nie nodig nie, maar hou die volgende in gedagte:

  • Die stelsel moet deeglik beplan word.
  • Die grondtipes moet met omsigtigheid in ag geneem word.
  • Die stelsel moet verkieslik met ’n permanente spoorverkeerstelsel met gekorrigeerdenavigasie-GPS’e gekombineer word.
  • Die stelsel moet deurentyd gemoniteer word.

Bronnelys
Bennie, ATP, Strydom, MG & Vrey, HS. 1998. Gebruik van rekenaarmodelle vir landboukundige waterbestuur op ekotoopvlak. WNK Verslag No. TT 102/98. Waternavorsingskommissie. Pretoria.