Oorsig van 2018 se garsoes in Suid-Afrika

832

Frikkie Lubbe,
landboubestuurder:
Suid-Afrika, AB InBev

Die 2018-garsseisoen is gekenmerk deur radikale weersomstandighede. In dele van die droëlandproduksiegebied het die seisoen goed begin, maar in ander areas moes produsente steeds noodgedwonge gars in die droë grond plant om binne die optimale planttydperk te bly. Die reënval was minder as die langtermyngemiddeld vir die area, maar dit het mooi op die regte tye geval.

Boerderypraktyke soos minimumbewerking en beter garskultivars het produsente in staat gestel om die onvoorspelbaarheid van die seisoen te oorkom en sodoende ’n gemiddelde tot bogemiddelde oes te lewer.

Verder noord in die besproeiingsgebiede, was plantdatums later as ander jare weens mielie-oeste wat stadig van die lande af gekom het. Produsente in die besproeiingsgebiede het ook uitdagings beleef met die weer, veral in areas wat deur hael geteister is. Die korrelvulperiode was baie gunstig en het die oes so bevoordeel dat ’n bogemiddelde gars­oes in die produksiegebied gerealiseer het.

Die Suid-Afrikaanse moutgarsoes onder kontrak van AB InBev het uiteindelik op 399 066 ton te staan gekom, wat ongeveer 140 000 ton meer is as die oes in 2017.

Soos uit Tabel 1 afgelei kan word, was die uitdagings in die SSK-gebied heelwat meer as in die ander droëlandgebiede. Die rede hiervoor was die droogte en die baie laat voorkoms van reën, beide om die seisoen af te skop sowel as reën laat in die seisoen wat die gars laat hergroei het. Ten spyte hiervan het die gars steeds bo verwagting presteer. Alhoewel die korrelstikstofinhoud baie hoog was in hierdie gebied, was die kwaliteit steeds aanvaarbaar as moutgars.

Die Swartland-gebied het ’n goeie jaar beleef, gekenmerk deur hoë opbrengste en goeie kwaliteit. Windskade het die meeste gewasse nadelig beïnvloed, maar die gars het steeds baie goed presteer.

Nie net die opbrengs nie, maar ook die kwaliteit het radikaal verbeter. Gedurende die 2018-seisoen is 100% van die Swartland se produksie as moutgraad gelewer teenoor die 30% van die droogtegeteisterde 2017-seisoen.

In die Overberg-bedieningsgebied was die weer meer gematig en het die meeste gewasse goed presteer. Die voorkoms van ryp gedurende die week van 20 September en sterk winde net voor oestyd het gewasse soos koring en kanola egter nadelig beïnvloed. Die produksiegebiede wes van Caledon het ’n droër korrelvultydperk beleef, wat die vetkorrel van latere garsaanplantings nadelig beïnvloed het.

Besproeiingsgebiede
Gunstige klimaatstoestande gedurende die 2018-seisoen in die meeste van die besproeiingsproduksiegebiede het uitstekende opbrengste en goeie kwaliteit tot gevolg gehad. Met die uitsondering van korrelstikstofinhoud het die ander kwaliteitsparameters soos vetkorrel en sifsels, positief gereageer op die gunstige toestande. Korrelstikstofinhoud was effens laer as normaal as gevolg van die uitsonderlike hoë opbrengste en koeler korrelvulperiode.

In die noordelike besproeiingsgebiede was die gemiddelde temperatuur deurgaans effens hoër as die langtermyngemiddeld. Opbrengste was dus nie drasties hoër as wat verwag is nie, alhoewel dit tog hoër was as die gemiddeld vir hierdie area.

Die verhoging in opbrengs kan eerder toegeskryf word aan die infasering van ’n groeireguleerder met gevolglike afname in omval. Hierdie gebied het ook aan die einde van die seisoen die ergste onder hael deurgeloop. Ongeveer 1 000 ton van die oes het verlore gegaan, wat die ekwivalent van ±0,5 t/ha is op die gemiddeld van die area. Opbrengste was laer in hierdie gebied as in die ander twee gebiede. Korrelstikstofinhoud was hoër, maar vetkorrel, sifsels en hektolitermassa was steeds beter as vorige seisoene.

Die gemiddelde temperatuur gedurende die seisoen in die sentrale besproeiingsgebiede was deurgaans laer as die langtermyngemiddeld vir die area. Dit het aanleiding gegee tot uitstekende groeitoestande, veral gedurende die korrelvulperiode, wat gelei het tot die beste gemiddelde opbrengs ooit in die gebied, met uitstekende vetkorrel- en sifselsyfers.

Sporadiese koueskade is aangemeld in die laagliggende gebiede, maar dit het nie ’n drastiese invloed op die opbrengs gehad nie. Die voorkoms van koue, tesame met die uitsonderlike hoë opbrengs het wel tot gevolg gehad dat die korrelstikstofinhoud laer was. Die vetkorrel- en sifselsyfers was egter weer beter.

Wat die suidelike besproeiingsgebiede betref, was die gemiddelde temperature gedurende Augustus, September en die eerste helfte van Oktober ook laer as die langtermyngemiddeld. Dit het aanleiding gegee tot baie gunstige korrelvultoestande, wat weer ’n positiewe uitwerking op die opbrengs en kwaliteit gehad het.

Net soos in die geval van die sentrale besproeiingsgebiede het die korrelstikstofinhoud ook laer geneig om dieselfde redes as reeds bespreek. In albei hierdie twee gebiede het ’n fraksie van die gars nie aan die kwaliteitspesifikasies vir moutgars voldoen nie, as gevolg van korrelstikstofvlakke wat te laag was.

In die droëland- sowel as in die besproeiingsgebiede het SAB/AB InBev egter begrip getoon vir die buitengewone weersomstandighede en permitte is toegestaan om wel die meeste van hierdie gars op te neem.

AB InBev is positief oor en toegewyd aan die bevordering en groei van die garsbedryf in Suid-Afrika. Ons is steeds op koers om die Suid-Afrikaanse moutgarsbedryf selfonderhoudend te maak en sien uit na ’n volhoubare pad vorentoe saam met die Suid-Afrikaanse garsprodusente.