Dié gids maak netwerk maklik

Valerie Cilliers, redakteur, SA Graan/Grain
Gepubliseer: 6 Februarie 2024

222

Graan SA se inligtingsbylaag, die Graangids wat jaarliks in Afrikaans en Engels uitgegee word, is ’n onmisbare stuk gereedskap in enige graanprodusent se hand. Met praktiese en waardevolle inligting rakende saad, werktuie, toerusting, bemesting, onkruid- en plaagbeheer, diere en markte asook nuttige kontakbesonderhede van insetverskaffers, bly die Graangids hoog in aanvraag.

Vir Derek Mathews, voorsitter van Graan SA, is die Graangids ook vir Graan SA ’n handige hulpmiddel om te verseker dat lede ingelig bly om volhoubaar vooruit te kan boer. “Met die Graangids het jy bykans die hele waardeketting in die palm van jou hand tot voordeel van jou as produ­sent en tot voordeel van elke skakel in die ketting.”

Die eerste Grypgids wat as bylaag in die Mielies Maize-tydskrif verskyn het.

Waar het die Graangids begin?
As ’n bylaag in die Mielies/Maize-tydskrif het die Graangids aanvanklik as die Grypgids bekend gestaan. Johan van Onselen, wat vir jare die bemarking en advertensies vir Mielies/Maize en later SA Graan/Grain behartig het, vertel dat die bylaag deur die jare met die tye aangepas het, maar dat dit steeds ’n belangrike doel dien – om belangrike bedryfsinligting op een plek beskikbaar te stel.

“Om advertensieverkope te verhoog, maar ook om belangrike inligting rakende aspekte soos bemesting, saad en meganisasie by produsente uit te kry, het ons reeds in die beginjare elke maand ’n fokusbylaag in die tydskrif gepubliseer. Januarie was egter altyd baie stil, want die boere het klaar geplant en gewag vir die reën. Hulle het dus tyd gehad om uit te kyk vir nuwe produkte of toerus­ting. Ek het dit aan die redaksie voorgelê dat ons ’n gids saamstel wat vir die boer al die nodige kontaknommers in een bylaag saamvat en adverteerders die geleentheid gee om hul produkte onder oë te kry.”

Die redaksie het die voorstel aanvaar en die eerste Grypgids het as ’n los bylaag in die Mielies/Maize-tydskrif van Januarie 1997 verskyn. Dit was ideaal vir kitsverwysing met telefoonnommers maklik bekombaar. Twee jaar later in 1999 het die produsente-organisasies NAMPO (mielies), NOPO (oliesade), die WPO (wintergrane) en die SPO (sorghum) ontbind om saam Graan SA te vorm. Deur die samesmelting is kundigheid wat oor jare in die leierskap en personeel van die verskeie organisasies opgebou is in een organi­sasie saamgevoeg, met ooglopende voordele. Verskillende diensstrukture is gekombineer tot voordeel van al die lede en een hiervan was die tydskrifte. So het
SA Graan/Grain sy ontstaan gehad en ’n nuwe mashoof is op 1 Januarie 2000 bekendgestel.

In 2007 verskyn die nuwe A5-formaat en sedertdien staan die gids as die Graangids bekend.

Selfs met die nuwe rigting waarin die tydskrif beweeg het, was die Grypgids steeds jaarliks ’n bylaag in SA Graan/Grain. In 2007 is daar besluit om die gids in ’n kleiner formaat en met ’n nuwe naam – die Graangids – uit te gee. Die handige A5-formaat, wat vandag steeds bestaan, het ook nou kort artikels bevat. In daardie eerste uitgawe is daar onder andere geskryf oor hoe landbouchemikalieë hanteer moet word, wie die mielie-oesskatting behartig en raad rakende veiligheid op plase. Soos vandag was daar ook inligting oor Graan SA as organisasie, hoe om ’n lid te word, inligting oor die Dagbestuur, Hoofbestuur, werkgroepe en komitees en wie aan die stuur van elk staan.

Om met die tyd tred te hou, is die Graangids ook nou aanlyn as ’n blaaiboek beskikbaar. Jy kan dus Graangids 2024 op jou foon of rekenaar deurblaai.

Vir enige voorstelle oor wat jy as leser graag in die Graangids sal wil sien, kontak die besturende redakteur, Johan Smit, deur ’n e-pos te stuur aan johan@infoworks.biz.