Kwaliteit van kunsmis en kalk weer getoets

1596
Mariëtta Cronjé,
SA Graan/Grain medewerker

‘n Moniteringsprojek oor die gehalte van beskikbare kunsmis- en kalkprodukte op die Suid-Afrikaanse mark, se resultate is onlangs vrygestel. Die doel van hierdie projek was om vorige ondersoeke voort te sit en vas te stel in watter mate kunsmis- en kalkgehalte gehandhaaf word volgens die bepalings van die Wet op Misstowwe, Veevoedsel, Landboumiddels en Veemiddels (Wet Nr. 36 van 1947).

Die resultate word as betroubaar beskou danksy die professionele wyse waarop dit gedoen is asook die geloofwaardigheid van die betrokke partye. Die projek is aangepak deur middel van ’n memorandum van verstandhouding tussen die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye (nou die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling), die Fertilizer Association of Southern Africa (Fertasa), Graan SA en die Sasol-landboutrust.

Deelnemers
Graan SA het produsente op ’n semilukrake wyse vir deelname geïdentifiseer en was verantwoordelik vir die koördinering en die verkryging van monsters wat deur amptenare van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye op plase en by kunsmismaatskappye geneem is. Fertasa was verantwoordelik vir die administrasie van die fondse van die Sasol-landboutrust asook vir fondse wat deur hulself verskaf is.

Mnr William Deale en dr André Nel, wat as onafhanklike deelnemers opgetree het, het die ontledings van monsters georganiseer, die resultate beoordeel en die bevindinge aan die betrokke partye oorgedra. As ’n eerste punt van toetsing het Omnia hul AgriLASA-geakkrediteerde laboratorium teen kosprys beskikbaar gestel.

Kunsmis
’n Totaal van 98 kunsmisstowwe afkomstig vanaf 17 kunsmismaatskappye is geanaliseer vir makrovoedingstowwe, naamlik stikstof, fosfor, kalium, kalsium, magnesium en swael asook vir mikrovoedingstowwe, naamlik boor, koper, yster, mangaan, molibdeen en sink soos aangedui op die houer of sak. 39 en 59 kunsmisstowwe vanuit die winter- en somerreënvalgebiede onderskeidelik is getoets.

Laer drempelwaardes van die toelaatbare afwykings vir voedingstowwe in droëkunsmismengsels, chemiese mengsels en mikrovoedingstowwe is bereken deur middel van afsonderlike nielineêre glyskale soos bepaal in die wet. Die toelaatbare afwyking wat uitgedruk is as ’n persentasie word kleiner namate die voedingstofinhoud verhoog. 22 kunsmisstowwe is vir ’n tweede keer en nege kunsmisstowwe is vir ’n derde keer by ander onafhanklike laboratoriums, volgens die ooreengekome protokol, ontleed.