April 2018

ANDRIES WIESE, hoof: Landbou, Hollard

Die Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande (Wet 101 van 1998) is hierdie jaar 20 jaar oud. Heelwat vrae oor wat die implikasies van die wet vir hulle is en wat hulle te doen staan word steeds deur produsente gevra.

Dit is kommerwekkend dat só ‘n mate van onkunde bestaan oor wetgewing waaraan grondeienaars reeds twee dekades lank be-hoort te voldoen. Deur die wet en sy implikasies so bietjie uit te pluis kan ons sin daarvan maak en sien dat hierdie stuk wetgewing eintlik ‘n uiters handige stuk gereedskap is in die produsent se deurlopende risikobestuursplan en die aksies wat hy moet uitvoer om sy eiendom te beskerm.

Dit is amper soos ‘n handleiding vir brandbestuur op die plaas, nie volledig nie, maar definitief ‘n duidelike maatstaf vir die minimum wat gedoen moet word.

Die logiese beginpunt sou wees om te verstaan wat die wetgewer se doel met die wet was en steeds is. Die doel van hierdie wet is om veldbrande, bosbrande en bergbrande te voorkom en te bestry. Die wet maak voorsiening vir ‘n hele handvol maniere, mense en metodes om dit reg te kry. Nie-voldoening kan jou ‘n swaar boete of selfs tronkstraf op die hals haal.

So, wat sê die wet dan nou eintlik? Indien ‘n brand op jou eiendom kan begin of daaroor versprei, het jy ‘n plig om aan die wet te voldoen. Dit beteken jy moet darem voldoen aan die volgende basiese vereistes:

  • ‘n Brandbaan op die grens van jou eiendom, wat “lank genoeg en breed genoeg moet wees om redelikerwys die verspreiding van ‘n brand te kan voorkom”, is dié deel waaraan ons almal altyd dink. Jou buurman het dieselfde plig – wat dan beteken dat daar as’t ware ‘n dubbele baan op die grens sal wees (weerskante van die draad). Dit is belangrik om te weet dat “eienaar” hier ook huurder beteken.
  • Die brandbaan hoef nie gebrand te word nie, maar kan ook skoongeskoffel of chemies behandel word om dit skoon en vry van brandbare materiaal te maak. Die wet gee egter vir jou die ruimte om dit alles te doen met inagname van die plaaslike klimaat, weerpatrone, terrein en plantegroei. Onthou: Jy mag nie gronderosie veroorsaak nie.
  • Jy moet werkers met beskermende klere hê – en die nodige toerusting beskikbaar om brande te bestry.
  • In die geval van ‘n brand moet jy jou bure en ander belanghebbendes onmiddellik laat weet.
  • Jy moet alles in jou vermoë doen om die brand te bestry en te verhoed dat dit versprei.

Ek dink nogal hierdie lysie is, alhoewel voorgeskryf deur die wet, eintlik ‘n logiese lys van aspekte wat in plek moet wees alvorens
die gevaartyd begin.

Brandbestrydingsvereniging
Daar is natuurlik dan die vraag wat almal vra en dit is of dit enige sin maak om aan ‘n brandbestrydingsvereniging te behoort. As ek al die bogenoemde voldoen, dan is ek mos reg?

Die wet is nie voorskriftelik daaroor dat jy aan ‘n brandbestrydingsvereniging moet behoort nie, maar daar is duidelik twee of drie groot voordele daaraan verbonde om wel aan te sluit:

  • Omgekeerde aanspreeklikheid: As grondeienaar geld daar outomaties ‘n vermoede van nalatigheid teen jou indien jy nie lid van die brandbestrydingsvereniging in jou omgewing is nie. Indien jy wel ‘n lid is, dan rus die onus op die eiser om jou nalatigheid te bewys.
  • Indien jy deel is van ‘n brandbestrydingsvereniging, het julle ‘n gesamentlike plan en hulpmiddels wat julle kan gebruik om brande te bestry. Ons sou selfs as brandbestrydingsvereniging by die minister kon aansoek doen om kwytskelding vir die maak van brandbane in sekere omstandighede soos per julle brandplan.
  • In alle waarskynlikheid sal jou versekeraar jou tegemoetkom indien jy wel ‘n lid van jou plaaslike brandbestrydingsvereniging is en só kan jy dalk geld spaar.

Die inligting in die artikel verskaf ‘n goeie aanduiding van die basiese punte waaraan voldoen moet word. Die hele gesprek oor ‘n behoorlik-hersiene versekeringspolis regverdig ‘n artikel op sigself: Veral vir produsente wie se hele oes op die land staan en wat blootgestel is wanneer die winde waai en vure versprei. Daar is allerlei maniere om dié risiko met behulp van ‘n behoorlik-opgeleide en geregistreerde makelaar te verskans. Gesels gerus met jou makelaar hieroor.

Die koste van vuur bestry, behels dikwels heelwat meer as net die oopdraai van ‘n kraan en die vashou van ‘n paar brandplakke. Is jy gereed daarvoor en toegerus om sinvol te help veg teen onwelkome vuur?

Kontak Andries Wiese by driesw@hollard.co.za.

Publication: April 2018

Section: Relevant