Waar laat dalings in die reële waarde van die oes die mielieprodusent?

1338
Theo Vorster,
uitvoerende hoof,
Galileo Capital

Wanneer daar na die vooruitskatting vir mieliepryse wêreldwyd gekyk word, lyk dit asof die verwagting is dat pryse nie werklik gaan styg in die volgende vyf tot tien jaar nie – hoewel dieselfde vooruitskattings baie positief is dat volumes steeds gaan aanhou styg soos die vraag na proteïene aanhou klim.

As mielieprodusente dan nie op prysstygings kan steun nie, beteken dit eenvoudig dat hulle baie meer sal moet fokus op produktiwiteit en om hul besighede so effektief moontlik te bestuur – en dit is waar inflasie en die reële waarde van die jaarlikse totale mielie-oes inkom.

Vir hierdie artikel is gekyk na die totale waarde van die mielie-oes in Mpumalanga, die Vrystaat en die Noordwes Provinsie en hierdie tonne is met die gemiddelde prys vir die betrokke jaar vermenigvuldig. Om hierdie syfer sinvol te kry, is die waarde met die offisiële inflasiekoers oor die periode aangepas, om die relatiewe koopkrag van elke jaar se oes met die koopkrag van die oes van ander jare te vergelyk oor ’n twintigjaarperiode – vanaf 2000 tot die jongste 2019-oesskatting en die huidige pryse.

Die reële waarde van die mielie-oes vir Mpumalanga, die Vrystaat en die Noordwes Provinsie saamgetel (Grafiek 1), het ’n twintigjaarhoogtepunt in 2015 bereik. Van daar af het dinge egter begin skeefloop as daar na die totale waarde van die oes gekyk word. Inteendeel, die afgelope paar jaar se waarde is, koopkraggewys, sowat 20% kleiner as die gemiddelde waarde in die vier jaar voor 2015. Dit is dus geen wonder dat die balansstate van produsente onder druk begin kom nie.

In die Vrystaat (Grafiek 2) lyk die prentjie baie soos die gemiddeld vir die land – die 2015-oes se reële waarde was die hoogste in die afgelope 20 jaar en dit is tans reëel meer as 30% laer as daardie hoogtepunt.

Die opvallende koopkragdalings kom in die Noordwes Provinsie voor. Aan koopkrag gemeet, is die huidige paar jare saam met die 2004-oes die laagste ooit en die tendens beweeg steeds in die verkeerde rigting. Wat Mpumalanga anders maak, is dat die volumes minder wisselvallig is en dat die waarde meer ’n afleiding is van die prys wat dan die totale waarde van die oes bepaal – van daar die amper inverse verhouding tussen die Noordwes Provinsie en Mpumalanga (Grafiek 3) die afgelope sewe jaar, hoewel steeds in ’n afwaartse tendens.

Nou is die vraag sekerlik waar dit produsente laat as daar aangeneem word dat die pryse nie reële inkomste gaan laat groei nie, maar dat reële groei-inkomste gaan afhang daarvan om groter volumes meer effektief te produseer.

Drie opmerkings oor hoe mielieprodusente moontlik hierdie uitdaging moet benader:

  • Die eerste is dat produsente baie versigtig moet wees vir die Russiese roulette-opsie: Wanneer dinge druk gaan, kan ’n mens se risiko-aptyt ’n mens baie maklik in die steek laat en dan word goeie gesonde oordeel oorboord gegooi. Met die Russiese roulette-opsie word bedoel dat die produsent ’n risiko neem wat gewoonlik in sy guns sal werk, maar as hy die dag verkeerd is, kan dit die doodskoot vir hom wees. Hoewel die risiko op papier dalk aanloklik mag lyk, is die probleem dat as dit die verkeerde opsie is, daar geen omdraai of herstel is nie.
  • Die tweede is dat ’n mens dieselfde tyd daaraan moet spandeer om so kostedoeltreffend moontlik te boer as om die verkoopprys en bemarking van die oes te bestuur. Dit is absoluut onmoontlik om die boonste en onderste draaipunte van enige mark vooruit reg te raai. Die kuns is egter om die prysrisiko te verminder deur ’n deel van die oes op ekonomiese vlakke te verkoop wanneer moontlik en nie te wag vir daardie laaste paar rand nie. Daar is eenvoudig te veel produsente wat hulle oeste uiteindelik onder die gemiddelde prys vir die jaar verkoop, juis omdat hulle probeer uithou vir daardie magiese, ekstra 10%.
  • Die belangrikste is egter om so effektief moontlik te boer, deur beide die volume van die oes en die koste waarteen die volume geproduseer word, te bestuur. Ongelukkig gaan hierdie uitdaging daartoe lei dat landbou weer eens op die vooraand staan van ’n verdere rondte van konsolidasie soos die rol van skaalvoordele en kundigheid al meer beklemtoon word.

Die reële inkomste van die 2019-oes mik om R10 miljard minder te wees as die 2015-oes – wat beteken dat die totale koopkrag van die mielie-oes op R25 miljard nie veel verligting gaan bring vir dié wie se balansstate reeds aan die dun kant is nie.

Gesels vroegtydig met finansiers en konsolideer vir ’n jaar of drie eerder as om ’n Russiese roulette-opsie te oorweeg.