Koringkultivarontwikkeling wys die weg na winsgewendheid

659
Dr Robbie Lindeque,
LNR-Kleingraan,
Bethlehem
Dr Chrissie Miles,
LNR-Kleingraan,
Bethlehem

Die kortste paadjie is nie altyd die beste paadjie nie. Die effek van omgewing, uitgedruk as vogbeskikbaarheid tydens kritieke groeiperiodes, is deurslaggewend vir optimale winsgewendheid. Omgewing word deur klimaatsfaktore sowel as produksiepraktyke gedefinieer.

Die reusekoringgenoom bevat unieke genetiese permutasies wat aanpasbaarheid onder uiteenlopende produksiestreke en praktyke regoor die wêreld verseker. Koringtelers moet hierdie effek van omgewing sorgvuldig in ag neem voordat ’n regmerkie agter ’n wenkultivar gemaak word.

Die kortste paadjie gaan deur omgewing
In LNR-Kleingraan se droëlandteelproewe van 2018 in die Vrystaat het die omgewingseffek as enkel variasiebron of in interaksie met genotipe, ’n hoofaandeel in die variasie van opbrengs en hektolitermassa gehad (Tabel 1).

’n Koringteler kan genotipe manipuleer deur ’n nageslag met spesifieke eienskappe te ontwikkel, maar die bestuur van omgewing is meer kompleks. Multilokaliteit-opbrengsproewe met gepaardgaande statistiese analise wat prestasie oor lokaliteite vergelyk, moet ingespan word. LNR-Kleingraan se droëlandteelprogram vir die somerreënvalgebied fokus histories op die ontwikkeling van wintertipe koring (lang groeiers), met ’n plantdatum in Junie en intermediêre koring (kort groeiers), wat in Julie tot Augustus geplant word.

Die uitstel van plantdatums na einde Julie of selfs later lyk na ’n maklike oplossing vir hoër opbrengste in die lig van die huidige veranderinge in reënvalpatrone. Indien opbrengste en reënvalpatrone van 2017, 2018 en die lang termyn egter vergelyk word, is dit dalk nie so ’n eenvoudige uitweg nie.

Graanopbrengste van droëlandproewe by Bethlehem en Kransfontein toon duidelik die belangrikheid en rol van reënval voor plant en gedurende die groei­seisoen aan (Grafiek 1).

Graanopbrengs van die vroeë sowel as later aanplantings in 2017 by Bethlehem was bokant 2,3 t/ha (Grafiek 1) as gevolg van bogemiddelde reënval voor planttyd en gedurende die groeiseisoen (Grafiek 2).

In 2018 verander die prentjie en lewer die later aanplanting 1,13 t/ha minder as die vroeë aanplanting, grotendeels as gevolg van die swak reënval gedurende Augustus tot November (Grafiek 2).

By Kransfontein is daar ’n geringe hoër graanopbrengs by die later aanplanting van 2017 (Grafiek 1), moontlik omdat beide reënvalhoeveelhede voor planttyd en gedurende Augustus tot November bokant die langtermyngemiddeldes was (Grafiek 3).

In 2018 is die reënval voor planttyd 160 mm bokant die langtermyngemiddeld, maar 50 mm minder van Augustus tot November (Grafiek 3) wat lei tot bykans 1 ton minder in vergelyking met die vroeë aanplanting (Grafiek 1).

Die reënvalperiode tussen Januarie en April word geassosieer met koringprodusente se voorneme om koring te plant in die nuwe seisoen, maar is ook deurslaggewend vir goeie ontkieming en saailingontwikkeling asook die vaslê van opbrengspotensiaal. Goeie reën tydens Augustus tot November fikseer opbrengspotensiaal, maar bepaal ook graankwaliteit.

Die kortste paadjie…en die opbrengsgogga
Die huidige strewe na hoë-opbrengskoringkultivars wat belowe om eensklaps alle voedselprobleme soos mis voor die son te laat verdwyn, het ’n nare “gogga” geskep. Hierdie “opbrengsgogga” vertroebel logiese denke deurdat tonne per hektaar as die enigste doelwit gestel word terwyl tonne en graad albei noodsaaklik is vir winsgewende koringverbouing.

Volsakkoringjare is in verhouding tot gemiddelde jare minder algemeen onder droëlandverbouingstoestande in die somerreënvalstreek. Die genetiese samestelling van hoë-opbrengskultivars vereis ruim hoeveelhede grondvog, sonlig en voeding voordat optimale graanopbrengste behaal kan word.

Grondvog is waarskynlik die element waaroor ’n koringprodusent die minste beheer het en reënvalpatrone wissel toenemend van een seisoen na die volgende.

Hoë opbrengs van nuwe kultivars plaas ’n hoë premie op produksiepraktyke en bestuur en hierdie drie komponente moet bymekaarkom voordat die volle genetiese opbrengspotensiaal ontsluit kan word.

Aan die ander kant is kultivars met ’n gemiddelde opbrengs meer stabiel oor goeie en swak seisoene en is die waarskynlikheid minder dat hektolitermassa, proteïeninhoud of valgetal vir opbrengs ingeboet gaan word. Die negatiewe korrelasie tussen opbrengs en veral proteïeninhoud is ’n navorsingsonderwerp wat nog steeds nie heeltemal ontrafel is nie.

In nasionale kultivarproewe van 2016 tot 2018 in die Oos-Vrystaat kom negatiewe korrelasies tussen opbrengs en proteïen by die vroeë aanplanting in 2017 en 2016 voor (Tabel 2). Hierdie twee seisoene het hoër opbrengsgemiddeldes van onderskeidelik 2,43 t/ha en 3,26 t/ha gehad teenoor 2,02 t/ha in 2018.

’n Negatiewe korrelasie kom ook by die later aanplanting van 2016 voor waar die opbrengsgemiddeld 4,14 t/ha (Tabel 2) was teenoor 2,67 t/ha in 2017 en 2,09 t/ha in 2018.

In die Noordwes-Vrystaat herhaal die prentjie met ’n negatiewe korrelasie in 2018 by die vroeë aanplanting (Tabel 3). Hierdie seisoen het die hoogste gemiddelde opbrengs gehad, naamlik 2,98 t/ha teenoor 1,41 t/ha in 2017 en 2,55 t/ha in 2016.

Die negatiewe korrelasie by die later aanplanting in die Noordwes-Vrystaat in 2017 (Tabel 3) is egter ’n uitskieter aangesien die gemiddelde opbrengs van 1,58 t/ha laer was as 3,01 t/ha in 2018 en 2,28 t/ha in 2016.

Uit dié resultate kom dit voor asof negatiewe korrelasies tussen graanopbrengs en proteïene meer algemeen is tydens hoë-opbrengsseisoene. Die fisiologiese prosesse wat opbrengs en kwaliteit bepaal, kompeteer dan met mekaar as gevolg van die “beperkte” voedingsbronne in hierdie tipe seisoen.

Wat wag in die pyplyn?
Drie kandidate, wat reeds oor omgewings getoets is (Foto 1), sal oor die volgende twee seisoene voorgelê word vir voorlopige maal en bakkwaliteitevaluasies.

In vergelyking met Matlabas is die opbrengs van die drie kandidate onder hoë-opbrengstoestande beter, maar onder medium toestande dieselfde. ’n Lang koleoptiel word as ’n voordeel beskou aangesien dieper plant moontlik word (Tabel 4). Vatbaarheid teen uitloop in die aar van kandidate 1 en 2 sal in gedagte gehou moet word indien hulle vrygestel word, terwyl kandidate 1 en 3 goeie volwasse plantweerstand teen geelroes toon (Tabel 4).

Kortom
Omgewing gaan ’n onbekende faktor oor produksiestreke en seisoene bly wat die koringteler en -produsent se taak nie makliker gaan maak nie. Koringprodusente kan die risiko van vogtekorte tydens kritieke groeiperiodes verminder deur op ’n kultivarpakket te besluit wat tydens optimale grondvogtoestande geplant moet word.

Kultivarkeuse moet nie net berus op hoë tonne per hektaar nie, maar moet ook hektolitermassa, proteïeninhoud en valgetal inreken aangesien hierdie hele pakkie winsgewende koringproduksie bepaal.

Vir addisionele inligting kontak dr Robbie Lindeque by 058 307 3439 of lindequerc@arc.agric.za.