05/02/2019
Winsgewendheid: Hoe vergelyk gewasse oor tyd?

1346
Luan van der Walt Landbou-ekonoom,
Graan SA luan@grainsa.co.za
Ruan Schutte Junior landbou-ekonoom en bemarker,
Graan SA ruan@grainsa.co.za

Die winsgewendheid van die graanbedryf is een van die aspekte wat veral die afgelope drie tot vier jaar dikwels in die kollig was. Dit is hoofsaaklik as gevolg van die moeilike omstandighede en onsekerhede wat in die tydperk in landbou geheers het.

Hierdie omstandighede sluit aspekte soos ongunstige klimaatstoestande, produksierisiko’s, prysrisiko’s asook politieke onsekerheid in. Voeg daarby die stygende koste van produksie-insette saam met reële pryse van graan wat daal, dan is dit duidelik dat dit inderdaad baie uitdagend is om ’n produsent in Suid-Afrika te wees.

Die kosteknyptang wat in die graanbedryf heers, het veroorsaak dat “gemiddeld” nie noodwendig meer goed genoeg is nie. ’n Bogemiddelde uitset is uiters noodsaaklik om winsgewend en volhoubaar te boer. Suid-Afrika het van die beste landbouers in die wêreld – dit kan gesien word in die ywer waarmee produsente voortgaan en goeie resultate lewer ten spyte van die uitdagings waarmee hulle gekonfronteer word.

Winsgewendheid is belangrik vir volhoubare produksie en in hierdie artikel word gekyk na die winsgewendheid van die verskillende grane en oliesade oor die afgelope 17 jaar.

Mielies
Grafiek 1 dui die winsgewendheid per hektaar van mielies as ’n persentasie van die totale produksiekoste per hektaar per seisoen sedert 2000/2001 aan. Dit is duidelik uit Grafiek 1 dat die winsgewendheid van mielies oor die afgelope 17 jaar baie wisselvallig was, maar meestal ’n afwaartse tendens getoon het.

Dit kan grootliks toegeskryf word aan die stygende koste van produksie-insette, terwyl die pryse in reële terme gedaal het. Suid-Afrika is ook oor die algemeen ’n netto uitvoerder van mielies, aangesien die land onder normale omstandighede meer produseer as wat plaaslik verbruik word.

Dit plaas die land se mielieprodusente in kompetisie met die internasionale mark waar die pryse reeds vir die afgelope vier seisoene naby aan ’n tienjaarlaagtepunt verhandel. Alhoewel daar seisoene is waar goeie winsmarges gerealiseer het, is dit moeilik om te herstel vanaf ’n negatiewe of laewinsgrensjaar weens die omvang van die koste en krediet verbonde aan aspekte soos oorlaatskuld.

Sojabone
Grafiek 2 toon die wins per hektaar van sojabone as ’n persentasie van die totale produksiekoste per seisoen sedert 2000/2001. Dit blyk duidelik uit Grafiek 2 dat die winsmarge van sojabone ’n goeie toename getoon het sedert die 2000/2001-seisoen. Die beter winsgewendheid van sojabone het bygedra tot die gesonde groei in die plaaslike produksie wat oor die afgelope paar jaar in die land plaasgevind het.

Beter produksiepraktyke en toenames in die opbrengs met relatiewe laer insetkoste van die gewas is van die aspekte wat bygedra het tot die toename in die winsmarge wat waargeneem is oor hierdie tydperk.

Sonneblomsaad
Grafiek 3 toon die winsgewendheid per hektaar van sonneblomsaad as ’n persentasie van die totale produksiekoste. Alhoewel die sonneblomsaad se winsgewendheid ook effens toegeneem het oor hierdie tydperk, was dit nie so groot soos dié van sojabone nie.

Die produksie van sonneblomsaad speel ’n belangrike rol in die westelike gedeeltes van die land en dit was veral die afgelope drie tot vier jaar waardevol vir hiérdie produsente. Die moeilike produksieomstandighede wat in die westelike deel van die land geheers het, het veroorsaak dat produsente in baie gevalle genoodsaak was om sonneblomme aan te plant aangesien die seisoene baie laat was.

Hulle kon dus nie ander gewasse soos beplan binne die optimale plantvenster aanplant nie.

Koring
Die Suid-Afrikaanse koringbedryf is gedurig onder druk en dit kan gesien word in die wisselvalligheid van die winsgewendheid wat Grafiek 4 uitwys. Die groot variasie in die winsgewendheid van plaaslike koringprodusente is ’n aanduiding van die risiko verbonde aan die produksie van dié gewas.

Aspekte soos die vinnig toenemende koste van produksie-insette en die stadige toename in opbrengs asook prys, plaas hierdie bedryf onder druk. Die plaaslike koringmark ding ook direk mee met die internasionale mark, aangesien ongeveer die helfte van die plaaslike koringverbruik ingevoer word.

Behalwe vir die hoër opbrengste wat in die grootste koringproduserende lande verkry word, is daar in die meeste van die lande waarvandaan Suid-Afrika koring invoer, ook redelike sterk subsidiesisteme in plek. Dit plaas die internasionale mededingendheid van koring verder onder die vergrootglas.

Ten spyte van hierdie uitdagende omstandighede, is daar wel positiewe vooruitsigte wat wag vir die plaaslike koringbedryf in die volgende paar seisoene.

Ten slotte
Dit is duidelik uit die bostaande inligting dat die winsmarges van die verskillende gewasse baie wisselvallig is en groot risiko’s vir die produsente daarvan inhou. Alhoewel die langtermyntendens ’n goeie aanduiding is van die gewas se winsgewendheid oor ’n sekere tydperk, is dit ook belangrik om die risiko’s verbonde aan die aanplant van die spesifieke gewas te oorweeg.

Die wisselvalligheid van die winsmarges van die verskillende gewasse dui op die risiko verbonde aan die produksie daarvan. Dit is belangrik om die omvang van die koste verbonde aan die produksie van graan in ag te neem wanneer die winsmarges van die gewasse geanaliseer word.

Vrywaring
Sover moontlik is alles gedoen om die akkuraatheid van hierdie inligting te verseker. Graan SA aanvaar egter geen verantwoordelikheid vir enige skade of verliese wat gely word as gevolg van die gebruik van hierdie inligting nie.