Goss-verwelksiekte, wat die afgelope seisoen kop uitgesteek het in Suid-Afrika, is ’n uitdaging vir mielieprodusente. Dit word veroorsaak deur die bakterie Clavibacter michiganensis subsp. nebraskensis, wat hoofsaaklik mielies en sekere grasse affekteer, insluitend sorghum, foxtail-spesies en verwante gewasse. Die bakterie besmet nie groente nie, aangesien sy gasheerreeks spesifiek tot graan- en grasspesies beperk is.
Dié plantsiekte veroorsaak ernstige blaarskroei, sistemiese infeksie en groeivertraging, wat uiteindelik tot opbrengsverlies lei. Die siekte word versprei deur besmette gewasreste, windgedrewe reën, besproeiing en besmette toerusting. Dit dring plante binne deur wonde wat veroorsaak word deur hael, peste of meganiese skade.
Gedurende die 2023/2024-groeiseisoen is ’n toename in ongewone simptome in mielielande gerapporteer wat wetenskaplike ondersoeke tot gevolg gehad het. Gegewe die potensiële impak op opbrengs en handel, het die Departement van Landbou (DoA) ’n siektestuurkomitee, bestaande uit kenners van die departement, Graan SA, die Suid-Afrikaanse Nasionale Saadorganisasie (SANSOR), saadmaatskappye en die navorsingsgemeenskap, saamgestel om strategieë vir beheer en bestuur te ontwikkel.
Dr Godfrey Kgatle, navorsingskoördineerder by Graan SA, het aan SA Graan/Grain die belangrikste uitkomste van die stuurkomiteebesprekings, die risiko’s wat met Goss-verwelksiekte geassosieer word asook bestuurspraktyke wat produsente kan implementeer om die impak daarvan te beperk, uitgewys.
“Simptome sluit onreëlmatige, waterdeurdrenkte letsels op blare in wat geel, bruin of brons met donker rante word. Dit kan ook misvormde are en pluime veroorsaak. Wanneer die stingel gesny word, kan bruin of rooierige strepe in die vaatweefsel gesien word, en slymerige en onwelriekende bakteriese afskeidings kan uit die snit vloei, veral onder druk,” het dr Kgatle verduidelik. “Die siekte floreer in warm, vogtige toestande en versprei deur plantskade of fisiese stres. ’n Gesonde stingel vertoon normaal, stewig en sonder enige verkleuring, letsels of abnormale groei. Verwelksimptome kan ook deur droogte of ander faktore veroorsaak word. Produsente word dus aangemoedig om monsters waaroor twyfel bestaan vir toetsing aan Graan SA voor te lê.”
Die patogeen versprei deur besmette saad te plant (alhoewel op ’n onbeduidende vlak van 0,05%), gewasreste, grond en sekondêre gasheerplante. Windgedrewe reën, besproeiing en besmette toerusting dra verder tot verspreiding by. Dit dring die plant binne deur wonde wat veroorsaak is deur hael, peste of meganiese skade. Hoewel dit onwaarskynlik is dat saad die siekte sal oordra, kan dit steeds die siekte na nuwe gebiede versprei.

“Die 2023/2024-seisoen vir somergewasse was buitengewoon warm en droog, wat daartoe gelei het dat produsente onbekende simptome in hul mielielande opgemerk het. Monsters wat aan die LNR-Graangewasse, FABI (die Bosbou- en Landboutegnologie-instituut) by die Universiteit van Pretoria asook die Universiteit Stellenbosch verskaf is, het bevestig dat Goss-verwelksiekte in Suid-Afrika voorkom aangesien dit amptelik positief getoets het,” het dr Kgatle bevestig. Die siekte is in vier provinsies geïsoleer, naamlik die Vrystaat, Noordwes, Mpumalanga en Limpopo.
Gewasse wat met Goss-verwelksiekte besmet is en vir graan of veevoer gebruik word, hou geen direkte bedreiging vir mens of dier in nie, aangesien die patogeen slegs plante affekteer. “Graan dra nie die siekte oor nie. Terwyl saad ’n rol in siekteoordrag speel omdat dit plante laat voortplant, word graan geoes vir verbruik en word dit nie gewoonlik as saad gebruik nie.”
Die teenwoordigheid van Goss-verwelksiekte het kommer in boerderygemeenskappe en by handelsvennote veroorsaak. Botswana en Namibië het handelsbeperkings op Suid-Afrikaanse mielies ingestel, wat daartoe gelei het dat die DoA amptelik gereageer het. Deur die siekte wetenskaplik te verduidelik en só te verdedig, kon Botswana en Namibië die verbod binne ’n week ophef.
Aangesien voorkoming noodsaaklik is, ontwikkel die LNR-Graangewasse ’n bestuurstrategie vir die siekte. Aanbevole praktyke sluit die volgende in:
- Voorkoming of vermyding: Maak toerusting deeglik skoon en oes besmette lande laaste om verspreiding te minimaliseer.
- Vermindering van besmette plantreste en gasheerplante: Beoefen wisselbou met niegasheergewasse soos sojabone, en gebruik diep bewerking om besmette plantreste te verminder.
- Weerstandbiedende basters: Kies mieliebasters wat weerstandig is teen Goss-verwelksiekte (moontlike weerstandsindeks in Suid-Afrika ontwikkel).
- Chemiese beheer: Geen doeltreffende chemiese behandelings is tans beskikbaar nie.
- Bestuur van grasonkruid, aangesien dit alternatiewe gashere kan wees.
Produsente wat onbekende simptome opmerk, word aangemoedig om met Graan SA in verbinding te tree om in kontak met diagnostiese klinieke gebring te word. Hierdie klinieke kan akkurate siekte-identifikasie en verdere riglyne vir bestuur verskaf. “Deur hierdie strategieë te volg en op hoogte te bly van die stuurkomitee-inisiatiewe, kan Suid-Afrikaanse mielieprodusente die impak van Goss-verwelksiekte beperk en volhoubare landboupraktyke vir die toekoms verseker.”
Vir meer inligting, kontak dr Godfrey Kgatle by 079 489 5966 of godfrey@grainsa.co.za.