Leer by ander en uit jou foute

Magda du Toit, namens Graan SA
Gepubliseer: 9 Desember

1172

Johan Meyer

Deeglike beplanning is deurslag­gewend, meen Johan Meyer van Hartbeesfontein. Johan bestee net soveel tyd en aandag aan nabetragting ook, want hy glo ’n terugblik oor die seisoen wys jou foute uit. Deur die seisoen te ontleed, leer en maak hy planne om daardie foute in die toekoms te vermy.

Johan het die sonneblomafdeling in die Groei vir Goud-opbrengskompetisie gewen met 4,44 t/ha met Agricol se AGSUN 8251. Sy direkte insetkoste was R1 144/ton en volgens Johan is die koste verteenwoordigend van die totale sonneblomaanplantings.

Sonneblom maak ’n derde van die saaiboerdery uit. Hoewel witmielies die hoofgewas is, speel die geelmielies en sonneblom ’n belangrike rol in hulle wisselbou­stelsel. Hulle plant twee derdes van die lande met mielies en die ander derde met sonneblom in ’n rotasiestelsel.

Hul grootste uitdaging is wisselvallige en onreëlmatige reënval. Johan meen dit is van kritieke belang om opbrengs te meet teenoor die beskikbare vog. In die sonneblomland waar hy die uitstekende opbrengs behaal het, was sy opbrengs 10 kg graan/mm reën. Die hele saaiboerdery se opbrengs word so gemeet. “Ons was gelukkig dat ons ten spyte van die droë jare nog steeds winsgewend kon boer. Ek skryf dit toe aan baie genade en die feit dat ons ons vog noukeurig bestuur. Ons pas minimumbewerking toe en gee baie aandag aan grond­gesondheid,” sê Johan.

Hulle is egter genoodsaak om elke jaar op ’n rotasiebasisstrookbewerking op 15% van die grond te doen om die hidrouliese verdigtingslaag in die sandgronde te takel.

Grondmonsters word jaarliks van ’n derde van die lande geneem. Hoewel die resultate van die grondontleding die same­stelling van die totale bemestingsprogram bepaal, strooi hy hoendermis en kalk op die lande waar hulle sonneblom gaan plant. Al hulle grond is gekarteer en Johan weet presies waar sy hoë- en laerpotensiaalgronde is, ook binne die lande. Die stroperkaarte word op die grondklaskaarte geplaas en daar­volgens bepaal hulle die variërende bemestingsprogram.

Johan Meyer, wenner in die sonneblom­afdeling en sy gesin.

Johan sê hy stroop altyd meer as waarvoor hy bemes het, omdat die grond se chemiese samestelling en voedingsvlakke reg is. “Ek belê in my grond se gesondheid en maak seker dat ek nie die grond uitput nie. Ons belê in ons grond en pluk die vrugte.”

Hy is oortuig daarvan dat die 80%-grondbedekking wat hulle op die lande probeer handhaaf, geweldig baie help met vogbewaring omdat die son nie direk op die grond bak nie. Die deklaag help verder dat die reënwater in die grond in filtreer en nie wegspoel nie. Nog ’n belangrike voordeel van die deklaag is dat dit help keer dat die wind die boonste grondlaag wegwaai.

Oor die afgelope tien jaar kon hulle ’n merkbare verbetering in die samestelling van die boonste 5 cm van die grondlaag sien. “Die grond is definitief donkerder met meer organiese materiaal. Die koolstof­vlakke in die grond het ook toegeneem en verlede jaar het ons erdwurms in die grond gekry waar ons sonneblom geplant het.”

Hoewel Johan se pa, Johan Meyer snr., sy mentor is, hou hy daarvan om by ander produsente ook te gaan kers opsteek. Hy glo dit is waardevol om kontak te maak met ander wat sukses met een of meer faset van hul boerdery behaal het. Hy hou daarvan om te gaan kyk en vrae te vra. As hy iets sien wat hy dink in sy opset kan werk, bring hy die idee plaas toe en toets dit uit. Verder maak hy gebruik van die dienste van ’n onafhanklike landboukundige en hy glo vas dat ’n mens jou met kundiges op elke terrein van die boer­dery moet omring.

Johan woon graag boeredae by en identifiseer nuwe kultivars wat moontlik op sy plaas sal aard. Hy koop dan twee of drie van die nuwe kultivars aan en vergelyk dit met mekaar in stand-, bemestings- en bewerkingsproewe op sowat 50 ha. “Ek glo op hierdie manier kan ek beter resultate kry en sien hoe kultivars op ons plaas binne ons bewerkings- en bestuurspraktyke presteer.”

Johan se raad aan produsente is: “Meet jouself. Leer by ander en uit jou foute.”