Maak goeie finansiële besluite met meganisasie-aankope

Gepubliseer: 11 Augustus 2021

907
Jacques Taylor, besturende direkteur, Northmec/Case IH Suider-Afrika

Die goeie vertoning van die landbousektor in die 2020/2021-seisoen is verblydende nuus vir almal. Belangriker nog, was dit ’n hersteljaar vir landbouproduksie in byna alle subsektore na ’n klompie maer jare – en vir baie ’n welkome verligting na ’n tydperk van moeilike landboutoestande.

Ter samevatting het Suid-Afrika in 2020 sy naasgrootste graanoes behaal. Daarby het die land oor die algemeen ’n goeie vrugte-oes geniet, met die uitvoer van sitrus wat ’n rekord van 146 miljoen kartonhouers behaal het. Daar was ook ’n breë herstel in die produksie van sagtevrugte en ’n algemene herstel in die veebedryf.

Boonop het sentiment in die Suid-Afrikaanse landbousektor in die tweede kwartaal vanjaar tot ’n nuwe hoogtepunt gestyg, ondersteun deur die verwagting van rekordoeste en goeie kommoditeits­pryse. Gunstige weerstoestande wat produsente in staat gestel het om betyds te plant en aanplantings vir gewasse te verhoog tesame met hoër kommoditeitspryse wat produsente se finansies versterk, het volgens ’n gewilde plaaslike landbousakevertroue-indeks tot aansienlik beter sentiment bygedra. Trouens, die sakevertroue-indeks spog nou met sy hoogste telling sedert die stigting van die indeks in 2001.

In ’n jaar soos vanjaar bestaan die geleentheid om die positiewe kontantvloei binne boerdery-ondernemings te gebruik om eerstens – waar van toepassing – skuld te delg tot by aanvaarbare vlakke. Dan behoort produsente te kyk na kapitale investering – veral waar die boerdery nie oor ’n verlengde periode kon belê of uitbrei om nuwe tegnologie, werktuie en toerusting te bekom nie.

Kapitale investering om produksie te verhoog
Waar boerdery-ondernemings wel die kapasiteit vir kapitale investe­ring het, moet die fokus en die voorkeur op produktiewe bates wees. Dit wil sê bates wat die onderneming ondersteun om skaal, produk­tiwiteit en winsgewendheid daadwerklik te bevorder.

Investering in meganisasie en tegnologie moet ten doel hê om die boerdery-onderneming te bevorder. Dit is daarom belangrik dat dié besluite goed deurdink word.

Meganisasie dek alle vlakke van boerdery- en verwerkingstegnologieë – van eenvoudige en basiese handgereedskap tot meer gesofistikeerde en gemotoriseerde toerusting. Dit vergemaklik en verminder harde arbeid, verlig arbeidstekorte, verbeter die produktiwiteit en tydigheid van landboubedrywighede asook die doeltreffende gebruik van hulpbronne, vergemaklik marktoegang en dra by tot die vermindering van klimaatsverwante risiko’s.

As dit kom by werktuie soos trekkers en stropers, word produsente aangeraai om eerstens te kyk na aspekte soos die ouderdom van hul huidige vloot werktuie asook die doeltreffendheid van die vloot – veral tydens die belangrike vensterperiodes soos plant- en strooptyd. Kyk ook na die vlak van die tegno­logie vervat in die vloot en die geleentheid om doeltreffendheid binne die onderneming te verhoog deur nuwer tegnologie in te bring.

Ideaal gesproke sou ’n boerdery-onderneming elke drie tot vyf jaar sy vloot vervang, afhangende van die ure wat per jaar gedoen word. Ons lewe egter nie in ’n ideale wêreld nie en besluite moet geneem word om prioriteite binne die vloot te bepaal, gewoonlik deur risiko’s en geleenthede op te weeg.

Die Suid-Afrikaanse meganisasiebedryf is gelukkig goed gevestig en ontwikkel, met sterk handelsmerke, goeie handelaarsnet­werke en gesonde onderlinge kompetisie. Dit maak dit moontlik vir produsente om ’n keuse te maak gebaseer op, onder meer, die reputasie en integriteit van die handelsmerk en die ondersteuning van sy produkte, die betroubaarheid van die werktuie en toerus­ting, die prys met aankoop – maar dalk die belangrikste – die tweedehandse waarde veral waar werktuie binne drie tot vyf jaar vervang word.

Doeltreffendheid wat betref onderhoud, brandstofverbruik en verlengde waarborge moet ook oorweeg word.

Tegnologie speel ’n al hoe belangriker rol by presisieboerdery en die vryheid om die plaas deur middel van kommunikasie- en inligtingstegnologie meer effektief van ’n sentrale punt af te kan bestuur.

Goeie finansiële besluite met meganisasie-aankope is onteenseglik ’n waardevolle belegging in enige landbou-onderneming se toekoms.