Die raaisel van plantdiepte ondersoek

4473

Vir enige saad om optimaal te ontkiem, is die volgende faktore nodig: Lewende saad, genoeg vog, ’n gunstige temperatuur en ’n medium waardeur die koleoptiel/hipokotiel maklik kan groei.

Die fondasie vir optimale gewasprestasie is ’n egalige en eweredige opkoms. Daar is ’n groot verskil tussen monokotiele en dikotiele. Monokotiele of die sogenaamde eensaadlobbige plante soos mielies, beskik oor ’n koleoptiel wat deur die grond druk en dan blare bokant die grond oopmaak, teenoor die dikotiele of tweesaadlobbige plante, soos sonneblomme en boontjietipes wat eintlik in die saad ontkiem en die hipokotiel deur die grond trek om bogronds te ontvou.

Temperatuur
Op Foto 1 kan gesien word dat saad hitte benodig om te kan ontkiem. Die optimale temperatuur sal wissel tussen verskillende gewasse. Bokwiet kan nog by 40,5°C ontkiem, terwyl sade van sekere grasse sal doodgaan teen sulke hoë temperature. Mielies se optimale ontkiemingstemperatuur is 25°C.

Hoe dieper daar geplant word, hoe koeler word die grond. Indien die plantdatum buite die normale plantvenster sou wees, sal temperature en ander omgewingsinvloede uit die aard van die saak ’n effek op die ontkieming hê.

Indien daar vroeg geplant word, is dit raadsaam om vlakker te plant om sodoende meer hitte by die ontkiemde saad te kry, maar dan moet die vogtoestande van die grond in gedagte gehou word. Met later plantdatums is grond geneig tot hoër temperature en kan dieper geplant word om saad teen uitdroging te beskerm.

Plantdatum is en bly ’n kritiese bestuursfaktor en ag moet geslaan word op die risiko wat tydens sub-optimale ontkiemingstoestande ondervind kan word. Die oomblik as daar dieper of vlakker as die optimale diepte geplant word, is daar ’n risiko aan verbonde.

Uit Foto 1 kan ook duidelik gesien word dat sade eerste ’n wortelstelsel sal begin ontwikkel en daarna die koleoptiel dit is hoe ’n mielie normaal ontkiem. Sade moet vir ten minste 48 uur aan optimale vogtoestande blootgestel word om genoegsame vog op te neem vir ontkieming.

Vog
Die oomblik wanneer saad in kontak met vog kom, sal dit die vog begin absorbeer. Indien lewende saad lank genoeg aan voldoende vog en ’n gunstige temperatuur blootgestel word, sal ontkieming plaasvind.

Plantdiepte is baie belangrik sodat die saad genoegsame vog kan absorbeer en ook in staat is om deur die grondoppervlak te breek. Indien saad te diep geplant is, kan dit gebeur dat dit begin ontkiem en nie deurdring na die
oppervlak toe nie. Indien dit baie diep geplant word, kan dit gebeur dat saad net swel en geen verdere sigbare tekens van ontkieming toon nie.

Plantdiepte
Hoe groter die saadjie, hoe dieper sal dit kan ontkiem en bokant die grond verskyn. ’n Kleiner saadjie soos byvoorbeeld tef, kan nie so diep ontkiem soos wat die geval by mielies is nie. Plantdiepte is ’n belangrike faktor wat bydra tot goeie plantpopulasies en saailingvestiging en uiteindelik tot ’n goeie opbrengs.

Uit Foto 2a en Foto 2c kan gesien word dat mielies redelik diep kan ontkiem. Die oomblik as die plantdiepte te diep is, kan geen ontkieming plaasvind nie en daardie saad sal doodgaan. Foto 2b toon die voordeel van die optimale plantdiepte teenoor waar daar te vlak of te diep geplant is.

Daar moet verder in gedagte gehou word dat pitgroottes verskil en dat daar ook verskille tussen kultivars voorkom ten opsigte van die plantdiepte vir optimale ontkieming. Dieper plant kan daartoe lei dat plante eers heelwat later bo die grond verskyn. Dit kan dan aanleiding gee tot ’n swakker plantestand weens die koleoptiel wat onder die grond draai of selfs oopmaak, grasdoderskade weens die langer blootstelling van die koleoptiel aan die grasdoder asook ’n verhoogde kans op kop- en pluimbrand weens verlengde blootstelling onder die grond wat tot infeksie kan lei.

Die koleoptiel het sy drukkrag te danke aan die energie wat in die endosperm gestoor word. Deur te diep te plant, kan die kiemplantjie se reserwes opraak en nooit bokant die grond verskyn nie.

Uit ’n proef wat in Vaalharts uitgevoer is (Grafiek 1), kan gesien word dat indien mieliesaad te vlak geplant word, dit die opbrengs nadelig kan beïnvloed.

Wortels
Die sekondêre of hoofwortelstelsel van mielies wat te vlak geplant word, word nadelig beïnvloed. Vlak plant gee aanleiding tot ’n kleiner wortelstelsel wat op sy beurt swakker opname van water en voedingstowwe teweeg bring. Plante wat te naby aan die oppervlak ontkiem het, kan dan maklik as klein plantjies omval. Die verskynsel kom veral voor tydens uiters droë toestande asook waar swaar reën opgevolg word deur ’n sterk wind.

Sade het die vermoë om selfs bo-op die grond te ontkiem indien vog en temperatuur na wense is. Daar word dikwels gesien dat afgebreekte koppe se pitte op die oppervlak ontkiem (Foto 3). Indien daar lewende saad en genoegsame vog en hitte is, sal ontkieming plaasvind.

Korsvorming
Ernstige korsvorming op die grondoppervlak of enige verdigting sal die koleoptiel se drukvermoë beperk en veroorsaak dat dit onder die grond oopgaan, of dit laat afsterf. Indien die grond baie kluiterig is, kan die sonstrale tussen die kluite indring en veroorsaak dat die koleoptiel voortydig onder die kluite oopgaan as gevolg van die blootstelling daarvan aan lig.

Vermy oormatige bewerking van die saadbed net voor plant, veral as reën ná plant en vóór opkoms voorspel word. ’n Poeieragtige saadbed vorm maklik ’n kors.

Vermy ook oormatige afwaartse druk op die toemaak-wieletjies van die planter, veral as die grond baie nat is. In té nat toestande kan die plantervoor toesmeer, wat swak saailinge tot gevolg kan hê.

Stoppel
Hoë volumes stoppel op die oppervlak verg hoë bestuursinsette. Stoppel hou op sigself ’n hoeveelheid water en die grond is gewoonlik koeler op ’n land waarop stoppel voorkom. Verder ontneem dit die saad van waardevolle hitte-eenhede wat nodig is vir ontkieming.

Daar is egter groot uitdagings as dit by bewaringsboerderypraktyke soos geenbewerking of no-till-lande kom, veral wat die bestuur daarvan betref. Om net ’n paar te noem: Die temperatuur van die grond, die weerstand wat die stoppel bied tydens die plantproses en oneweredige plantdiepte wat aanleiding kan gee tot verpotte plantjies.

Waar te veel stoppel voorkom, word aanbeveel om gebruik te maak van ’n ry-skoonmaker soos in die geval van strookbewerking (strip-till). ’n Ry-skoonmaker skuif die stoppel op die ry om sodoende ’n skoon strook sonder plantreste voor te berei (Foto 4). Dit gee die grond die geleentheid om vinniger hitte in die plantry op te neem as die onbewerkte grond aangrensend. Sodoende word sade dan nie blootgestel aan kouer temperature en ’n lae imbibisietemperatuur nie (die opname van koue vog deur die saad).

Die voorkoms van saailingsiektes en insekte word hierdeur verminder. Saadbehandeling verminder die effek hiervan dramaties, maar hoe langer die saad neem om te ontkiem, hoe groter is die risiko vir skade. Indien dit koud genoeg is, sal daar gewoonlik skade voorkom ten spyte van die beste genetika en saadkwaliteit.

Gemiddelde plantdiepte vir verskillende gewasse word in Tabel 1 gegee. Hou altyd die temperatuur in gedagte tydens die plantproses.