Beste Grootneef
Toe ons in die aanloop tot die feesdae van ’n Somerkersfees gesing het, kon niemand voorsien wat ’n dorre Kersdag op pad was nie.
Ou Neef, op Kersdag was dit asof ’n Aga-stoof oor die Vrystaat staangemaak is. Die dwarrelwinde het oor die droë vlaktes gedraai, met net wolke van stof op die horison. Die gras was soos winterveld. Die droogte het só hard gebyt, dat jy dit tot in jou murg kon voel.
In die nagte was die veld doodstil. Net die dakplate het gekraak soos dit deur die nag effe afgekoel het.
Die belofte van ’n plantseisoen het daagliks voor die hittegolf vervaag. Die trekkers het in stille afwagting by die sakke saad, wat hoog in die stoor gestapel was, bly staan. Waar sou ons hulp vandaan kom?
En toe kom die dans van die reën oor die Nuwejaar: Vlaag na vlaag vol genade oor die vlaktes. Die aand na die eerste reën het die vleie gedreun met die danklied van die padda- en kriekekoor, wat ’n halleluja vir die reën gesing het.
Die volgende dag het jy die trekkers oor die bulte hoor dreun om die kosbare saad betyds in die grond te kry.
Ou Neef, as die reën een week later gekom het, sou nie net die treine in die Vrystaat se waaisand vasgeval het nie. Al loop NASA se karretjies op Mars rond, bly die mens ’n nietige wese wanneer die droogte se winde uit die weste waai.
Die lot vir die someroes is nou gewerp, met soveel hektare as wat voor die winter se eerste byt geplant kon word. Of dit genoeg vir die Suidland sal wees, sal net die tyd en die midsomer ons leer.
In my oorle jong dae het my pa ’n perd by Koos Mononye gekoop om as rydier vir die skaapwagter te dien. Die perd was egter sy lewe lank ’n karperd wat op sy beste oorgeslaan het in ’n ongemaklike galop, maar eintlik meer gehou het van ’n draffie in derde rat. Die ou perd was skimmelgrys – nie van Arabiese afkoms nie, maar van ouderdom. En met ’n nuk om te skop as jy te na aan die stertkant verbygestap het. Van daar die naam, “Ou Pasop”. Dié het later sommer kortweg in die volksmond na “Oupa Sop” verander.
Wanneer Ou Pasop nie lus was vir ’n ruiter nie, het hy bloot sy gatkant gedraai wanneer hy iemand met ’n toom sien aankom. Met al die skop in sy lyf, moes Ou Pasop maar versigtig benader word. Maar as die toom eers oor sy kop getrek was, het dit klopdisselboom gegaan. Dan was Ou Pasop pure perd.
Ou Neef, sy een geit was egter om sy pens op te blaas sodra hy ’n buikgord gevoel het. Dit was raadsaam om so ’n entjie uit die perdekamp die buikgord en die saal weer vas te trek – net so vir die wis en die onwis. Swaartekrag is ’n blikskottel wanneer die saal stadig maar seker begin kantel wanneer Ou Pasop na sy karperd-draffie oorgeskakel het.
Vanoggend lyk die jaar net soos “Ou Pasop” van ouds. Maak maar seker dat die buikgord vasgetrek is, want met die verkiesing op hande, deurmekaar weer en grondsake op die koop toe, is ons vanjaar in vir ’n uithourit.
Groete op die Oosgrens.
Publication: February 2019
Section: Features