Veediefstal neem aansienlik toe

Gerhard Schutte, hoof- uitvoerende beampte, RPO
Gepubliseer: 30 September 2020

139

Tydens die grendelperiode het die voorkoms van veediefstal in die meeste dele van Suid-Afrika aansienlik toegeneem. Dit word onder meer toegeskryf aan die feit dat plaaspatrollies nie tydens dié tydperk toegelaat is om te patrolleer nie.

Die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) se Handleiding vir Veediefstalvoorkoming is elke produsent se eenstopgids vir die voorkoming en hantering van veediefstal. Dit dek alle aspekte van veediefstal en die bekamping daarvan.

Diere-identifikasie
Die toename in veediefstal kan in baie gevalle toegeskryf word aan die feit dat vee nie behoorlik gemerk is nie. ’n Wettige, permanente merk is die eerste verdedigingslinie teen veediefstal. In Suid-Afrika maak wetgewing voorsiening vir ’n doeltreffende diere-identifika­siestelsel. Die Wet op die Identifikasie van Diere (Wet Nr. 6 van 2002), maak die merk van vee verpligtend. Dit help die bedryf en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) om veediefstal te bestry en om ge­steelde vee makliker terug te vind.

Voerkrale, produsente, spekulante, afslaers, abattoirs en ko­pers op veilings kan wetend of onwetend ontvangers van gesteelde vee wees. Hulle oortree dan die wet en kan swaar beboet of vervolg word. Die diere-identifikasiestelsel asook die wetlike implikasies en regulasies word in die handleiding omskryf, terwyl dit ook ’n merkgids vir warmbrand, vriesbrand en tatoeëring bevat.

Bemarking van diere
Die finansiële sy van bemarking sluit die gebruik van die kwitansieboek, tjekboek, elektroniese oorplasings, die BTW-faktuur en verwante aspekte in. Daarmee is die meeste vee-eienaars pligsgetrou, maar hulle besef nie dat hulle moontlik ander wetgewing oortree wat nie verband hou met die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) nie. Wetgewing wat die bemarking van vee reguleer, beskerm die eienaar en alle rolspelers in die rooivleiswaardeketting aan wie die vee gelewer word. Hiervoor is die Wet op Veediefstal (Wet Nr. 57 van 1959) en die Wet op die Identifikasie van Diere gepromulgeer. Albei is steeds van krag. Die wette hanteer twee spesifieke aspekte van die bemarking van vee, naamlik die koop en verkoop asook die vervoer van vee.

Veeprodusente moet bewus wees van die feit dat enige persoon (met inbegrip van ’n afslaer, agent of markmeester) wat vee aan iemand anders verkoop, verruil, gee of op ’n ander wyse van die hand sit, ten tyde van die aflewering aan daardie ander persoon ’n dokument van identifikasie moet gee.

Veediefstal
Die proses wat gevolg moet word wanneer veediefstal plaasvind, is net so belangrik. Wanneer vee-eienaars slagoffers van veediefstal word, kan hulle ’n aktiewe rol in die voorkoming van verdere diefstalle speel deur die plaaslike SAPD en die veediefstaleenheid gedurende die ondersoek te ondersteun. Die tyd wat verloop tussen die ontdekking en aanmelding van veediefstal moet so kort moontlik wees. Baie veediefstalsake word nie bevredigend opgelos nie weens onvoldoende getuienis en bewyse of onvolledige verklarings. Dit gebeur ook dikwels dat gesteelde vee nie positief uitgeken kan word nie en die betrokke eienaar nie eienaarskap kan bewys nie.

Spesifieke aspekte wat in gedagte gehou moet word, is die bewaring van die misdaadtoneel en bewyse; die aanmelding van veediefstalsake; die gebruik van DNS-tegnologie; die klaer se ver­klaring; addisionele klagtes van dieremishandeling; die slag­offers­handves asook wat om te doen as ’n ondersoek onbevredigend uitgevoer is.

Ken die regstelsel
’n Basiese kennis van die strafregstelsel is tot voordeel van die produsent. Strafprosesreg is ’n samestelling van reëls en prosedures wat die hele proses van misdaadvervol­ging reguleer. Dit reël onder meer inhegtenisname, borg, die verhoor, vonnis en appèl. Die vernaamste bron van die Suid-Afrikaanse strafprosesreg is die Strafproseswet (Wet Nr. 51 van 1977).

Die Wet op Identifikasie van Diere en die Wet op Veediefstal is die twee wet­te wat algemeen met veediefstal geassosieer word. Daar is egter ander wette wat ook oortree word wanneer vee ge­steel word, soos die Omhei­ningswet (Wet Nr. 31 van 1963) en die Wet op Oortre­ding (Wet Nr. 6 van 1959). Produsente moet kennis dra van die inhoud van hierdie wetgewing en die addisionele oortre­dings ingevolge hierdie wette wat by die klagstaat van die vee­dief gevoeg kan word. Die Wet op Oortreding, die Omheiningswet, die Dierebeskermingswet, die Wet op die Aanpassing van Boetes en die onwettige jag met honde word ook in die handleiding omskryf.

Bekamp veediefstal só
Veediefstal kan op verskillende maniere bekamp word. Vee-eienaars kan self sorg dat die diefstalrisiko op hulle eiendom verminder word. Die veediefstalvoorkomingsforums en inligtingsentrums ver­dien ook die ondersteuning van elke vee-eienaar. Die RPO het vee­diefstalvoorkomingsforums op nasionale en provinsiale vlak ge­stig om veediefstal die hoof te bied. Die forums se hoofdoel is om ’n verteenwoordigende struktuur in die georganiseerde landbou se stryd teen veediefstal te vorm. Sake wat verband hou met vee­diefstal word verkieslik op provinsiale vlak gehanteer. Provinsiale rolspelers word aangemoedig om oplossings te vind en voorkomende maatreëls in plek te stel om veediefstal doeltreffend te bekamp.

Sake wat nie op provinsiale vlak opgelos kan word nie of sake van nasionale belang word na die nasionale forum verwys. Een van die doeltreffendste wyses waarop produsente meer inspraak kan verseker in ondersoeke en suksesvolle vervolgings, is die stigting van veediefstalinligtingsentrums (VIS) in hul distrikte. Produsente, polisiebeamptes en staatsaanklaers kan deur dié sentrums informeel met mekaar skakel, beter kommunikeer en saamwerk.

Die volledige handleiding is beskikbaar op die nasionale RPO se webwerf by www.rpo.co.za.