Mohammed

Gepubliseer: 27 Oktober 2020

637

Beste Grootneef

Mohammed het perfekte BE gepraat. Dit is op stuk van sake die nuwe lingua franca van die wêreld, maak nie saak of jy op die vlaktes anderkant Kuruman, Maselspoort of Ras al Khaimah is nie. Mense van oraloor vind ’n gemenebes in BE met die uitruil van sleutelwoorde om mekaar te vind.

Mohammed was ’n meester met BE. Net genoeg daarvan om met bleek buitelanders oor die weg te kom, maar nie soveel dat jy hom met ’n vervreemde Engelsman sou verwar nie. BE, synde bad English, werk oral. Wanneer Mohammed van iets gehou het, het hy laat loop met ’n “too much nice”. Wanneer iets hom nie aangestaan het nie, was dit ’n bondige “no can do”. Verder het hy in Urdu met sy mede-Mohammedane gebrom.

Ons het Mohammed net vir ’n kortstondige middag in die woestyn anderkant Ras al Khaimah leer ken. Hy was opreg bly om ons, die twee Duitsers en die twee burgers uit Thailand te ontvang. Want ons was daar vir sy en sy uitgebreide familie se ekonomiese groei en ontwikkeling. Ons is gul ontvang by ’n Bedoeïen-tent tussen twee sandduine, met soet dadels en bitter koffie wat swierig uit ’n lang koffietuit in ’n klein koppie geskink is.

Mohammed het ons met ’n hartlike “Welcome!” verwelkom, maar daarna oorgeslaan na Urdu en heerlik daarmee geroggel terwyl hy oor die woestyn se duine beduie. Almal het met gespitste ore geluister of daar nie dalk ’n gawe stukkie BE uitglip nie, sodat ons Mohammed se betoog kon volg. En sowaar – hier teen die einde vang ons die woord camel, met Mohammed wat terstond omdraai en met sy wit gewaad begin aanstryk na waar twee kamele op drie bene staan en dut. Ons drafstap om by te bly, met die meisie van Thailand wat skoon uit haar sandale trippel. My vellies van Wupperthal loop soos sneeuskoene in die los sand. Net om gesellig te wees, begin ek vir Mohammed in die soetste taal te vertel van die stand van Bloubul-rugby. Mohammed, meesterleser van toeriste, knik instemmend toe ek my lot oor die swak belegging van ’n seisoenkaartjie op Loftus bekla. Hy hou van swaar woorde en vat dadelik twee oor: “Bulle twak, Bulle twak!” Ek kyk trots na vroulief – Mohammed hou ook nie van die Bulle nie!

Die twee kamele staar na ons deur lang wimpers. Skepe van die woestyn, elk met ’n boggel en ’n saal van hout. Mohammed se touleier praat met die kamele en beide edel diere doen ’n driefaseknak van knieë, voorbene en agterlyf, wat min of meer waterpas eindig. Mohammed nooi ons om op te klim. Hy veil die geleentheid soos ’n afslaer op en trek die Duitser nader om op die eerste kameel te klim. Vandag ry ek enigiets en voor Mohammed kan omkyk, sit ek stewig op kameel twee. Reg vir die reis van Parys na Dakar. Mohammed klap sy hande ingenome en sy twee helpers kloek om die kamele weer in paaiemente te laat opstaan. Die kameelroete was egter net ’n stappie om en oor ’n duin. Maar dit was genoeg om ’n ewige respek vir Mohammed en sy voorgeslagte te kry. Om in so ’n dorre land te oorleef! Nie ’n bek vol gras vir ’n skaap nie, net sand en klippe.

Terug by die kameelstasie begin Mohammed om ’n rooi-en-wit guthra, oftewel ’n kopdoek, om die Duitser se kop vas te woel. Toe hy klaar is, kom hy met ’n kort BE: “You like?” Die Duitser lyk heel ingenome totdat Mohammed sy hand uitsteek vir ’n honderd dirham. Toe Mohammed in my rigting kyk, sit ek my Cheetah-kepsie vinnig op. Mohammed blaas die aftog en omsingel terstond die oompie van Thailand met ’n swart-en-wit kopdoek. Voor die oompie kon sê “ching chong cha”, staan hy met ’n guthra op sy kop soos Jasser Arafat. En met Mohammed se uitgestrekte hand vir ’n honderd dirham.

Mohammed verskuif sy grense na nuwe horisonne. Hy gorrel en kloek en neem ons oor die volgende duin. ’n Jongman kom aangestap met ’n woestynvalk met oogklappe op. Sy hanteerder het ’n dik leerhandskoen aan. Mohammed beduie na die valk, duidelik aangedaan en trots op die unieke spesie. Dan glip die BE waarvoor ons gewag het uit: “Falcon photo?” Die Duitser met die rooi-en-wit guthra val dadelik daarvoor en gaan staan langs die man met die valk, terwyl sy mooi vrou foto’s uit alle hoeke neem. Na die fotosessie lui Mohammed se kasregister met ’n uitgestrekte hand. Die telbord lees: honderd dirham vir Mohammed, vyf en twintig foto’s vir die Duitser.

So het die middag gemaklik gevloei na ’n aand van uitheemse kos met vreemde geure. Met vuurdansers wat vlamme blaas. En met Mohammed se elegante meisies wat eeueoue grasieuse ritmes op eentonige Arabiese musiek losgedans het. Die nag se sterre was helder. Soos dit net in ’n woestyn kan skitter. Die finale groet van vreemdelinge, wat op ’n manier vriende geword het, het luid in die stil nag weerklink. Elk weer op koers na sy eie stukkie op die aarde. Mohammed het soos ’n pater familias onder ’n palmboom gestaan en elk met ’n wuif gegroet. Vir my en vroulief met ’n spesiale knipoog en in perfekte Oxford-Engels: “Good evening, sir and madam. We hope you enjoyed your evening with us and that we will soon meet again.”

Ek het die heel pad terug stad toe sit en grinnik. Want Mohammed het almal met sy BE uitgevang. Waarskynlik was hy meer Engels as al sy besoekers.

Groete op die oosgrens

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.