Boomplantdag

1138

November 2018

Beste Grootneef

Boomplantdag sal nooit weer dieselfde wees nie – nie na die Hoogste Hof se uitspraak dat ’n daggazol in jou privaatheid nou wettig is nie. Die weeksdae op die kalender lyk ook nou anders met ’n Maandagga, Dinsdagga en so meer. Die arme polisiehonde wat dagga moes uitsnuif, sit boonop nou op straat en moes op vroeë aftrede gaan. Én die HAT het die nuwe Afrikaanse beryming van “so kalm soos ’n daggawalm” aanvaar.

Maar die papegaaislaai bied ook nuwe geleenthede vir wisselbou. Die manne moet net geleer word om die regte kakiebos uit te skoffel!

Ou Neef, die ander dag moes ek met die vliegmasjien van Bloemfontein af Kaap toe verkas. Soos altyd, vroeg ingeboek, tassie ingeweeg en reg vir die vlug – met ’n venstersitplek om die vlaktes te bespied.

Soos die mense aangeskuif kom, klas en keur jy mos die klomp en hoop vir die beste. Met die meeste sitplekke aan die vol raak om my, merk ek toe die Voorbode: Groot en alkant toe wyd, kom sy dwars aangeskuifel soos ’n krap. Vorentoe in eerste rat gaan sy dit die vet weet, nie maak nie. Tot sy op laas by my ry vassteek en in die sitplek langs my neerplons. Ou Neef, soos ’n bak jellie wat kante toe wieg.

Ek het probeer om deur die patryspoort te ontsnap, maar teen daardie tyd was die vliegmasjien al op pad langs die aanloopbaan af en almal vasgegord – Tante Voorbode met ’n extension. Ek het ’n laaste keer desperaat vir ’n vliegwaardin probeer waai om te help, maar dié kon my nie van agter al die hamme sien nie.

En toe laat loop die vliegmasjien langs die aanloopbaan af en die swaartekrag druk die tante teen die sitplek vas en sy gedy alkant toe soos broodpoeding op ’n basaartafel. Tot ek amper deur die ou venstertjie van die vliegmasjien gedruk word – my bril skoon skuins.

Só is ek soos ’n sprinkaan teen ’n Ford se voorruit oor Kimberley tot in die Kolonie – Tannie Voorbode liggies aan die snork. Ekself met een arm bo teen die kajuit gestol, soos die laaste SOS-wuif aan die vliegwaardin gestuur is. Die vliegwaardin moes my in die Kaap met ’n eierspaan van die venster afskraap. Van daar is ek na Saal 6, 7 en 8 van die Groote Schuur om my uit die vlug se traksie los te wikkel.

A nee a Ou Neef, die vliegmense behoort ’n hoepeltoets te doen voordat hul passasiers op ’n vliegmasjien toelaat. As mense nie deur die hoepel kan wikkel nie, moet hul vir twee sitplekke betaal en basta. “One ham one seat,” ek sê my bru.

Ou Neef, terug op die plaas lees ek in die Volk se blad dat die goewerment oor die afgelope boekjaar R7,6 miljard op private veiligheidsdienste spandeer het. Soos Plato altoos gesê het: “Quis custodiet ipsos custodes”, oftewel “Wie sal oor die wagte waak?”. Die polisiemag moet mos self die staat se plekke oppas?

Maar dalk gebruik die Mag die zolle waarop hulle voorheen beslag gelê het. Dis immers nou wettig in die privaatheid van ’n polisiekantoor.

Groete op die Oosgrens.

Publication: November 2018

Section: Features