Die luuksheid van ceteris paribus

Gepubliseer: 8 April 2022

562

Pieter Taljaard
HUB, Grain SA pieter@grainsa.co.za

En so is dit toe die volgende gebeurtenis wat nuwe skokke en onsekerheid bring. Dit was seker nie veel anders in die verlede nie, maar ek is oortuig dat die golwe net stelselmatig al vinniger inkom. Net toe ons dink ons is klaar met die COVID-ding en dat tendense (veral kunsmispryse) besig is om te draai, toe maak Oos-Europa hul moeilikheid. Laat in Januarie lag ek nog te lekker vir ’n jongman met sy opmerking: “Toe dit nog COVID was …” Nou is die fokus op die volgende uitdaging, die volgende verskoning?

Wat ’n voorreg en hoe heerlik was dit nie om die afgelope ses weke voor Kongres by nie minder nie as 30 streeksvergaderings met produsente te gesels en nuwe vriende (en oues weer) te ontmoet. Een ding staan soos ’n paal bo water: hoe ongelooflik positief – en ek wil dit veerkragtig noem, want dit is meer as net aanpasbaar – Suid-Afrikaanse produsente is. Te midde van alles wat ons beleef, kyk julle vorentoe, het julle klaar planne gemaak en soek julle raad om die planne te verfyn om net deur te kom en vir die volgende uitdaging aan te pas. Dis eenvoudig fantasties om dit te beleef.

Die hoogtepunt van die reeks streeksvergaderings was egter die Graan SA Kongres wat in die eerste week van Maart op NAMPO Park plaasgevind het. Ek bedank graag almal wat tyd gemaak het om Bothaville toe te kom en ek hoop elke produsent, diensverskaffer en besigheid het goeie waarde uit die geleentheid gekry. Dankie ook vir die ongelooflike gees waarin dit gehou is.

Wat dinge nou toenemend bemoeilik, is die realiteit dat ceteris paribus (as die orige dinge gelyk is) werklik net in die klaskamer en kantoor geld. Die eeueoue konsep of voorwaarde is uiters noodsaaklik en handig as ons veranderlikes beter wil verstaan of kwantifiseer, maar in realiteit is hierdie komplekse samelewing konstant aan die verander. Juis daarom het ons mekaar nodig – nie net om mekaar te help nie, maar ook om die toekoms saam te ontwerp en sodoende die nodige beïnvloeding op verskeie vlakke te kan doen. Dit is juis vir dié rede dat ’n eensgesinde landbouboodskap uitgedra moet word.

Seker die grootste uitdaging is om ons mededeelnemers beter te laat verstaan waarmee ons besig is en waar die wenstreep is. Ons moet verstaan wat in mekaar se wêrelde aangaan om mekaar te kan help en ondersteun. Dit het die afgelope paar maande vir my duideliker as ooit geword dat die inligtingoorlading van vandag se sosialemedia- en elektroniese era die groot sondebok is – daarom ons enorme uitdaging om die relevante inligting by die regte ore uit te kry. Verder is dit uiters belangrik dat die inligting tegnies korrek oorgedra moet word om misverstande en wanvoorstellings of -opvattings uit die weg te ruim.

As gevolg van die kommunikasie-uitdaging waarmee ons te doen het, is dit vir die Graan SA-span deurslaggewend om direk met rolspelers en spesifiek met produsente te skakel. Ek wil afsluit met ’n opmerking vanuit een van die streeksvergaderings: “Hoekom het julle ons nie al lankal vertel wat julle doen en waarmee julle besig is nie? Dan betaal ons die heffings met ’n glimlag.” My versoek is dat julle ons asseblief help om die “verstaan” te versprei sodat ons die vrag kan versprei.

Baie sterkte met al die uitdagings en ek hoop van harte ons sien mekaar binnekort @NAMPO22!