September 2018

LIZE MORRIS, SA Graan/Grain medewerker en ‘n meesterstudent aan die Universiteit van die Vrystaat; artikel in samewerking met Graan SA geskryf

In die artikel Die belangrikheid van produsentbeheerde besighede wat in die Junie-uitgawe van SA Graan/Grain gepubliseer is, is lesers bekend gestel aan produsentbeheerde besighede. Wat is dit? Hoe werk dit? Wat is die sterk punte van so ‘n besigheid? Daar is ook gekyk na praktiese voorbeelde van sulke besighede.

In hierdie uitgawe word groepvorming en die stappe met die oog daarop om só ‘n besigheid te begin, verduidelik.

Die evolusie vanaf die “tradisionele” koöperasiemodel na produsentbeheerde besighede het teen ‘n vinnige pas plaasgevind. Produsentbeheerde besighede is enige wetlike entiteit waar produsente nog steeds eienaarskap van hul produk het, maar saamwerk om meer bedingingsmag te hê ten einde kostes te sny, kundigheid te deel en beter pryse te kan onderhandel. Hierdie tipe benadering laat produsente toe om in die waardeketting te integreer sonder om eienaarskap van hul produk te verloor.

Die stappe om só ‘n groep te vorm, is soos volg:

Stap 1
Identifiseer ‘n behoefte wat aangespreek of geleentheid wat aangegryp kan word. Breek dit af in watter tegnologie, kundigheid of finansiering benodig gaan word.

Stap 2
Identifiseer lede wat ‘n suksesvolle bydrae kan maak. Kyk na wat hulle kan bied. Hierdie lede hoef nie self te boer nie; dit kan ‘n prokureur, landbou-ekonoom, grondkundige of voedingkundige wees. Elkeen moet sy eie rol kan vervul en hierdie rolle moet duidelik in die grondwet van die groep uiteengesit word.

Stap 3
Formuleer ‘n visie. Dit is ‘n langtermyndoelwit van waarom ‘n groep gevorm moet word – wat bereik moet word en oor watter tydperk. Dit is altyd beter om ‘n middeltermyn (drie tot vyf jaar)-visie en langtermyn (vyf tot tien jaar)-visie te hê.

Stap 4
Besluit op ‘n regsentiteit. Dit kan ‘n maatskappy wees waar bogenoemde lede ‘n direkteur kan wees wat aandele besit. Indien die maatskappy finansiering benodig, kan elke direkteur of lid in hul persoonlike hoedanigheid borg teken. Dit is belangrik dat vasgestel word wat elke lid se bydrae kan wees sodat al die druk nie net op een lid geplaas word nie.

Elke lid kan ook ‘n “lidmaatskapsfooi” betaal en dit terugkry wanneer die besigheid winsgewend is.

Stap 5
Die finansies van só ‘n groep is altyd die belangrikste. Dit moet deursigtig wees en ten alle tye opgedateer word. Dit is nie net belangrik vir die lede nie, maar ook vir die bank sou finansiering benodig word.

Finansiële instansies analiseer die projeksies en baseer hul vlak van bekostigbaarheid daarop. Daarmee saam stel hul ondersoek in na die jokkies – hul kundigheid en finansiële posisies en die tipe sekuriteit beskikbaar. Hoe meer inligting tot hul beskikking is, hoe beter.

Stap 6
Daar moet reëls en regulasies vir die groep uitgestip word. Vergaderings moet formeel gehou word. Daar moet ‘n agenda opgestel en uitgestuur word en ‘n notule moet met elke vergadering bygehou word.

Stemreg moet aan die lede gegee word. Dit kan vasgestel word volgens die volumes gelewer deur elke lid of gelyke stemreg vir elke lid.

Produsentbeheerde besighede word nie altyd deur die suksesvolste, of hoogsgeleerde produsent begin nie. Studies het gevind dat dié produsente wat in die gemeenskap geken word, wat integriteit het en entrepreneuries kan dink, die suksesvolste sal wees in die vorming van so ‘n besigheid. Hierdie tipe eienskappe bring selfvertroue en positiwiteit in die gemeenskap uit, wat dit makliker vir ander produsente maak om “in te koop”.

Struikelblokke
Die volgende struikelblokke is in produsentbeheerde besighede geïdentifiseer:

  • Wanneer ‘n groep nie hul lede in die groep intrek nie, is dit vir insetverskaffers of kopers maklik om ‘n beter prys aan daardie een of twee lede te gee en sodoende die groep op te breek.
  • Wanneer bestuur nie deursigtig is nie en lede begin twyfel in hul geloofwaardigheid.
  • Die groep moet mekaar dra. Indien daar ‘n produsent is wat sukkel met ‘n aspek van sy besigheid en dit het ‘n impak op die groep, moet ‘n kundige ingekry word om daardie lid te help.
  • Wanneer sekere lede nie hul deel in die groep bring nie.

Positiewe aspekte
Positiewe aspekte van produsentbeheerde besighede sluit in:

  • ‘n Aankoopgroep kan op ‘n “tender”-basis hul insette aankoop. Dit is ook positief vir insetverskaffers, want nou hoef hulle nie met ‘n groep produsente individueel te onderhandel nie, maar met een verteenwoordiger van die groep.
  • Melkprodusente kan byvoorbeeld saam ‘n dierevoedingkundige, veearts of kwaliteitskontroletegnikus aanstel wat vir hulle werk. Hulle is dan nie uitgelewer aan iemand wat hulle nie ken of wat dalk nie die groep se belang in ag neem nie.
  • Produsente kan later self hul eie vervoer doen of werktuie saam aankoop en deel.
  • Koringprodusente kan dalk saam ‘n droër koop wat waarde tot hul produk kan toevoeg.
  • Finansiering kan ook makliker bekombaar wees, want as ‘n groep kan die produsente dalk die skuld bekostig.
  • Dit stel die groep in staat om SEB-geleenthede te ondersoek wat ander befondsing dan binne hul bereik plaas.
  • Toetrede tot nuwe markte deur ekonomie van skaal.
  • Verbeterde kultivars en diversifisering van kultivars, omrede lede se plase verskil in ligging/klimaat en tipe grond. Dit stel hulle ook in staat om deur die jaar stabiliteit aan hul koper te verskaf.

Ten slotte
Daar is ‘n groot aantal vorme van produsentbeheerde besighede in elke area. Soos verduidelik, bestaan dit nie altyd net uit produsente nie. Hierdie produsentbeheerde besighede het in die meeste gevalle ‘n kompeterende voordeel, want hulle het ‘n geleentheid vroegtydig raakgesien en tot aksie oorgegaan.

Dit moet ‘n wen-wen-situasie vir almal wees en die risiko moenie net op die produsent afkom nie. Dit hoef ook nie vir ewig te bestaan nie. Maak seker daar is ‘n uittreestrategie sodat dit jou in staat sal stel om die volgende geleentheid aan te gryp wanneer die huidige besigheid se doelwit bereik is.

Publication: September 2018

Section: Relevant