Waarom is kunsmispryse so hoog?

Christiaan Vercueil, intern: Toegepaste Ekonomie, Graan SA
Heleen Viljoen, intern: Toegepaste Ekonomie, Graan SA
Gepubliseer: 10 Januarie 2022

1721

’n Groot brandpunt in die Suid-Afrikaanse landbousektor op die oomblik is die hoë vlakke van kunsmispryse. Hierdie prysvlakke word aangevuur deur verskeie faktore, wat ondersteun is deur ’n verswakkende rand en energieprysvlakke op rekordhoogtes.

Kunsmis speel nog altyd ’n groot rol in produksiekoste en kan verantwoordelik wees vir 30% tot 50% van totale produksiekoste, afhangend van die gewas.

Suid-Afrika is ’n netto invoerder van kunsmis aangesien daar nie plaaslik genoeg kunsmis geproduseer kan word om aan die vraag te voldoen nie. Tabel 1 toon die gemiddelde in- en uitvoere van verskillende kunsmisprodukte vir 2004-2021 in Suid-Afrika aan. Die mate van afhanklikheid van kunsmis vanaf die buiteland is duidelik sigbaar.

TABEL 1: IN- EN UITVOERE VAN VERSKILLENDE KUNSMISPRODUKTE.

Produk Invoere (ton) Uitvoere (ton)
Ureum 698 167
Kaliumchloried 325 157 10 717
Natriumkarbonaat 275 779
MAP 220 886 6 812
Ammoniak 113 059 15 606
DAP 11 507 222
Superfosfate 2 780 179
Opgeloste ammoniak 140 2 015
Totaal 1 647 475 35 551

Bron: Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SARS), 2004-2021

Weens die netto invoere van kunsmis is Suid-Afrika uitgelewer aan internasionale verwikkelinge wat pryse kan beïnvloed. As die pryse in die internasionale mark skielik verander, het plaaslike produsente geen beskerming nie. Suid-Afrika het verder ’n gebrek aan onderhandelingsvermoë aangesien dit ’n baie klein rolspeler in die internasionale mark is. Dit lei daartoe dat die land nie die effek van prysveranderinge op die plaaslike mark effens kan verminder of absorbeer nie.

Daar is verskeie markaandrywers en bydraende faktore wat ’n uitwerking op die plaaslike kunsmismark het. Dit sluit die volgende in:

  • Energieprys: Die prys van olie, gas en steenkool speel ’n rol in die prysvlakke van kunsmis aangesien al drie produkte gebruik word om kunsmis te vervaardig. Dit sal later in meer diepte bespreek word.
  • Wisselkoers: Weens die feit dat kunsmis in die internasionale mark meestal in dollar en euro verhandel, speel die wisselkoers ’n reuserol. Die wisselkoers het ook ’n vergrotende negatiewe uitwerking op stygende bemestingstofpryse. As die prys van kunsmis verhoog en die wisselkoers verswak, kan pryse baie vinnig hand uitruk soos ’n toename in die kunsmispryse deur ’n verswakkende wisselkoers vererger word.
  • Die Chinese energiekrisis: China ondervind tans ’n langdurige energiekrisis wat al vir etlike maande voortduur. Hierdie krisis is te danke aan rekordprysvlakke van steenkool en natuurlike gas. Met die winterseisoen in China, is daar nie vooruitsigte dat hierdie krisis binnekort opgelos gaan word nie. Hierdie faktor affekteer plaaslike pryse omdat China een van die grootste kunsmis produseerders ter wêreld is. China gebruik hul huidige gas- en steenkoolreserwes eerder vir kragopwekking as kunsmis produksie, wat tot ’n tekort in voorraad in die wêreldmark kan bydra.
  • Indië se ureumvraag: Indië is die grootste invoerder van ureum in die huidige mark en daar word verwag dat die land hierdie winter groot hoeveelhede ureum sal invoer. Hierdie faktor verhoog aanvraag wat weer ’n hoër prys tot gevolg het.

 Internasionale ureumsituasie
Ureum word beskou as die belangrikste stikstof-gebaseerde kunsmis produk. Plaaslik kan daar nie ureum kunsmis produkte vervaardig word nie, omdat daar tans geen ureumvervaardigingsaanlegte bestaan nie. Suid-Afrika is dus afhanklik van buitelandse invoere om aan die plaaslike vraag te voldoen. Die kunsmispryse in die internasionale mark behaal steeds aansienlik hoë vlakke.

Europa: Ureumvervaardigers is onder geweldige druk met betrekking tot hul produksiekoste as gevolg van die huidige verhoging van energiekoste wat in die internasionale markte ondervind word. Dit het tot gevolg gehad dat lande soos die Oekraïne en in die westelike dele van Europa, ureumproduksie gestaak het omdat produksie nie meer ekonomies is nie. Boonop het die Europese aanvraag na ureum aansienlik gestyg.

Amerika: Amerika is ’n groot vervaardiger sowel as invoerder van ureum. In afwagting van orkaan Ida wat Amerika in Augustus 2021 getref het, het baie ureumvervaardigers produksie gestop. Dit het gelei tot ’n produksie-agterskot in die Amerikaanse mark, wat verder tot gevolg gehad het dat Amerika vroeër begin ureum invoer het. Dit het ’n groot hap uit die internasionale ureum aanbod geneem.

China: Nog ’n land wat grootliks bydra tot die voorraadtekort in die internasionale mark, is China, een van die grootste verskaffers van ureum in die internasionale mark. China het hul uitvoervoorraad weens verskeie redes verlaag, wat insluit vloede, groot energietekorte asook verhoogde steenkoolpryse wat produksiekoste verhoog het.

Indië: Indië is een van die grootste invoerders van China se ureumvoorraad. Die implikasies van China se verlaagde uitvoervoorraad sluit in dat Indië ureum vanaf ander uitvoerlande sal moet invoer. Tans is Indië besig om die hoogtepunt van hul invoerseisoen te betree, met wêreldvoorrade van ureum wat gevolglik verder onder druk geplaas word.

Rusland: Die aanbodtekort van ureum in die wêreldmark het ’n domino-effek gehad. Om plaaslike voorrade te beskerm asook om te verseker dat daar genoeg voorraad is om plaaslike produksie te ondersteun, het Rusland uitvoerbeperkings op hul ureum geplaas. Hierdie uitvoerbeperking is gemik op alle stikstofgebaseerde kunsmisprodukte en geld vanaf 1 Desember tot en met 31 Mei 2022.

Egipte: Soos Rusland, het die minister van landbou in Egipte ook uitvoerbeperkings ingestel. Alle ureumproduseerders moet aan die minister rapporteer hoeveel ureum hulle beplan om uit te voer. Hy het die beperking op 250 000 t (metrieke ton) geplaas, waarvan die meerderheid reeds gelewer is. Daar is dus nie ’n verwagting dat Egipte ’n aansienlike bydrae tot die internasionale ureumvoorraad sal maak nie.

Grafiek 1 vertoon die ureum invoer syfers vanaf die buiteland. Op die grafiek kan daar gesien word dat die meeste van Suid-Afrika se ureum vanaf die Midde-Ooste ingevoer word. Daar kan ook waargeneem word dat die invoere vanaf Egipte heeltemal gestop het en dat invoere vanaf Rusland aansienlik gedaal het. Suid-Afrika het begin om meer ureum vanaf Botswana, Europa en Duitsland in te voer.

Grafiek 1: Ureum invoer-syfers vanaf die buiteland vir Suid-Afrika.

Energiepryse
Olie: Sedert die derde kwartaal van 2020 oorskry internasionale olieverbruik die internasionale produksie van olie. Tydens hierdie tydperk het petroleumvoorrade binne die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OECD) – waaraan Suid-Afrika en ander lande soos die VSA, Brittanje, ’n groot gedeelte van Europese lande, ’n klein hoeveelheid Suid-Amerikaanse lande, Australië en Nieu-Seeland behoort – afgeneem. OECD-lande se voorraad het met 424 miljoen vate of 13% gedaal volgens die Amerikaanse Energie-inligting administrasie (EIA). Die EIA het voorspel dat hierdie tendens sou voortduur tot Desember 2021. Die EIA voorspel verder dat hierdie tendens vroeg in 2022 verbreek sal word weens verhoogde produksie deur die Organisasie van Petroleum-uitvoerlande (OPUL) en die VSA. Die aanvraag na olie behoort ook minder te groei. Die prys van olie behoort op $72/vat te stabiliseer vir 2022 met verwagtinge dat dit kan daal tot $66/vat in Desember 2022.

Natuurlike gas (LNG): Die prys van natuurlike gas was in Oktober 70% hoër as die gemiddelde prys van die eerste helfte van 2021. Hierdie verhoogde prys reflekteer die huidige Amerikaanse LNG-voorraad wat aansienlik laer is as die gemiddeld van die afgelope vyf jaar en 3% minder is as die vyfjaargemiddeld vir Oktober. Afgesien van die hoë prys, bly die aanvraag na natuurlike gas vir opwekking van elektrisiteit steeds hoog. Volgens die EIA bied dit slegs skamele afwaartse druk op die prys van natuurlike gas. Die EIA se verwagtinge is dat dié prys hoog sal bly tot en met Februarie 2022 en dan sal terugbeweeg na normale vlakke vir die res van die jaar. Hoë LNG-pryse dra by tot die hoë kunsmispryse aangesien LNG gebruik word vir stikstofvervaardiging.

Steenkool: Die steenkoolprys is tans 84% hoër as die tienjaargemiddeld en staan op $146,05/ton in die plaaslike mark vir Desember 2021. Totale mynbouproduksie het jaar op jaar met 3,4% verminder vanaf September 2020, met steenkool wat een van die grootste bydraende faktore was. In teenstelling met die verlaagde produksie het mineraalverkope met 1,1% gestyg – met steenkool wat 25,5% bygedra het. Hierdie verlaagde aanbod en verhoogde vraag jaag die steenkoolprys op. Met die laaste kragtariefverhoging van 15,63% in April 2021, kan verbruikers steeds stygende pryse verwag tot 2023. Die Nasionale Energie-reguleerder (Nersa) het alreeds ’n 15,06%-tariefverhoging vir 2022 goedgekeur.

Grafiek 2 dui die verskil aan tussen gemiddelde Eskom-tariewe en inflasie (gemeet deur die verbruikersprysindeks of VPI) vanaf 1987 tot en met 2023. Uit die grafiek kan waargeneem word dat die vooruitsigte vir energiekoste in Suid-Afrika aansienlike verhogings inhou. Dit belemmer grootliks die aanbod wat Suid-Afrikaanse kunsmisvervaardigers sou kon lewer.

Grafiek 2: Gemiddelde Eskom-tarief teenoor inflasie (VPI).

Gevolgtrekking
Verskeie faktore dra by tot die huidige hoë kunsmispryse. Die grootste bedreiging op die oomblik is aanbodtekorte in die buiteland, tesame met ’n hoë internasionale vraag. Dit stoot kunsmispryse op. ’n Laaste groot prys drywer is die waardeketting opeenhoping wat veroorsaak word deur fabrieke en logistieke terminale soos hawens wat slegs op halwe kapasiteit funksioneer weens die COVID-19-pandemie.

Vir die nabye toekoms tot en met Januarie 2022, is daar geen positiewe vooruitsigte vir ’n verlaging in bemestingstofpryse nie. Die verwagting is dat prysvlakke van olie veronderstel is om in Januarie 2022 te verlaag met natuurlike gas kort op die hakke van olie in Februarie. Dit is die eerste positiewe vooruitsigte. Hierdie verlaging in olie- en natuurlike gas-pryse kan ’n bemestingstof prysvlak verlaging tot gevolg hê, maar eers van Januarie 2022 af en dalk eers later.