Híérvoor word bydrae tot REGSHULPFONDS gebruik

896

September 2018

ANNELIZE CROSBY, hoof: Grondsake, Agri SA

Agri SA is nóú betrokke by die beïnvloeding en ontwikkeling van wetgewing en beleid wat die Suid-Afrikaanse landbougemeenskap raak. Die huidige politieke klimaat maak dit egter ‘n groter uitdaging om beleid en wetgewing suksesvol deur die normale prosesse te beïnvloed.

Die voorstelle waarmee die regering vorendag kom, word toenemend radikaal en dit blyk dat daar soms minder gewilligheid is om gehoor te gee aan gesonde rede, praktiese argumente en ekonomiese gevolge.

‘n Voorbeeld van die regering se houding, is die voorgestelde Wetsontwerp op die Regulering van Landbougrondbesit. Ten spyte van waarskuwings deur georganiseerde landbou, landbou-ekonome en regslui oor die moontlike nadelige uitwerking daarvan en die ongrondwetlike aard van die wetsontwerp, gaan die regering met groot haas voort – ongeag die negatiewe implikasies wat dit vir voedselsekerheid en belegging in die sektor en die ekonomie inhou.

Hoewel die wetsontwerp teruggetrek is uit die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad (NEOAR, in Engels NEDLAC)-proses, is die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming skynbaar besig om dit te herskryf.

Die grondkwessie in Suid-Afrika bly steeds ‘n verdelende en diep emosionele aangeleentheid. Die debat sal waarskynlik in intensiteit toeneem in die aanloop tot die 2019-verkiesing. Populistiese uitsprake is tans aan die orde van die dag en daar is ‘n proses van openbare verhore oor die wenslikheid van die wysiging van die eiendomsklousule in die Grondwet onderweg.

Suid-Afrika se natuurlike hulpbronne, byvoorbeeld grond, water, lug en biodiversiteit wat noodsaaklik is vir boerdery, word bedreig. Die regering se vermoë om ons natuurlike hulpbronne te bestuur en te beskerm, neem ook af.

Daar word beraam dat die Suid-Afrikaanse bevolking teen die jaar 2035 meer as 80 miljoen inwoners sal beloop. Dit beteken dat meer voedselvoorrade benodig sal word om die groeiende bevolking te voed. En tóg verloor ons teen ‘n geweldige tempo produktiewe grond ten gunste van die mynbou en ander grondgebruike. Ons waterhulpbronne word skaarser en riviere, strome en ondergrondse waterbronne is erg besoedel. Ons moet alle moontlike stappe neem om hierdie natuurlike hulpbronne te beskerm en te bewaar.

Die howe moet uiteindelik ons Grondwet beskerm en is soms (as laaste uitweg) die enigste meganisme waardeur die uitvoerende gesag in toom gehou kan word en gedwing kan word om sy grondwetlike verpligtinge na te kom. Litigasie is egter duur en wanneer dit teen die regering ingestel word, gaan dit gepaard met hoë risiko’s. Slegs die mees ervare regspanne kan sukses behaal.

Agri SA het in Oktober verlede jaar ‘n Grond-en-Omgewingsfonds in die lewe geroep om hierdie tipe litigasie te befonds.

Dit moet benadruk word dat Agri SA verbind is tot die beginsels wat in die Grondwet van Suid-Afrika onderskryf word. Van kernbelang is dat die Handves van Regte die hoeksteen van demokrasie in Suid-Afrika is, wat die regte van alle mense in ons land en die demokratiese waardes van menswaardigheid, gelykheid en vryheid bevestig.

Waar Agri SA voel dat die staat versuim om sy pligte na te kom of dat hul nie fundamentele regte wat vervat word in die Grondwet eerbiedig, beskerm, bevorder en verwesenlik nie, sal die organisasie nie anders kan as om hom tot ons howe te wend in belang van ons lede en ons land nie. Agri SA bly egter daartoe verbind om sover moontlik met die regering saam te werk en die organisasie beskou litigasie as ‘n laaste uitweg.

Bydraes ontvang en geld gespandeer
Tot op datum is daar sowat R3 miljoen in die Fonds ontvang. Van hierdie fondse is aangewend vir ‘n kommunikasieveldtog oor onteiening sonder vergoeding en die afronding van Agri SA se voorlegging oor onteiening sonder vergoeding. Daar was ook sekere uitgawes verbonde aan die promosie van die fonds, soos die maak van ‘n video om die fonds te bemark.

Agri SA het ‘n regsmening ingewin oor die grondwetlikheid van onteiening sonder vergoeding, welke mening se koste uit die Fonds betaal sal word.

Beoogde litigasie
Agri SA is tans besig om die regering se beoogde vestiging van ‘n skaliegasbedryf in Suid-Afrika te probeer stuit, asook oor die onregmatige weiering van Departement Water en Sanitasie om watergebruiksregte oor te dra.

Die organisasie het reeds suksesvol betrokke geraak by litigasie oor die interpretasie van die konsep van regverdige en billike vergoeding. Afhangende van hoe die grondwetlike hersieningsproses uitspeel, mag Agri SA dit dalk ook nodig vind om duidelikheid by die howe te kry oor die wysiging van die eiendomsklousule in die Grondwet.

Ons kry talle versoeke om betrokke te raak by litigasie oor grondhervormings-, water- en mynboukwessies. Agri SA se bedryfskamer het byvoorbeeld onlangs versoek dat ‘n toetssaak geïdentifiseer en gedryf moet word om oordrag van titelaktes aan grondhervormingsbegunstigdes te verseker.

Verdere bydraes
Daar word voorsien dat daar nog vir ‘n hele paar jaar litigasie oor die grondkwessie en natuurlike hulpbronne gevoer sal word. Grond-en-Omgewingsfonds se bronne sal dus deurlopend aangevul moet word. Enige persoon is welkom om ‘n bydrae te maak.

Die rekeningbesonderhede is soos volg:
Absa
Takkode: 632005
Rekeningnommer: 40-8039-6144
Rekeningnaam: Land and Environment Fund.

Publication: September 2018

Section: Relevant