Geen toleransie is die oogmerk

Gepubliseer: 3 Mei 2022

177
Dr Charlie Reinhardt,
professor in agronomie, Noordwes-Universiteit en navorsingsleier in die SAHRI (Suid-Afrikaanse Onkruidweerstands­inisiatief), Universiteit
van Pretoria

In die geval van opvolgtoediening (minstens tweemalige toediening van dieselfde onkruid­doder in ’n bepaalde groeiseisoen) is daar belangrike oorwegings wat direkte gevolge vir beide onkruidbeheer en die gewas inhou.

Dit is ondenkbaar dat iemand dit kan oorweeg om ’n geregistreerde onkruiddoderdosis te halveer (split) en die twee helftes op afsonderlike tye in die groeiseisoen toe te dien. Trouens, hierdie swak praktyk is ’n onwettige handeling volgens Wet Nr. 36 van 1947 en verdien daarom nie verdere bespreking nie.

Voor- en nadele van ’n opvolgtoediening
’n Opvolgtoediening se hoofvoordeel is dat die periode van effektiewe onkruidbeheer verleng word, byvoorbeeld in gevalle waar ’n onkruiddoder voor opkoms toegedien word en later in die seisoen nog ’n keer, met ander woorde na opkoms wat betref beide gewas en onkruid. ’n Belangrike toepassing hiervan is in die voorkoming van onkruidsaadproduksie, die sleutelpraktyk vir die suksesvolle bestuur van onkruidweerstand teen onkruiddoders. Insgelyks het dit ook ’n belangrike toepassing waar “geen toleransie” van ’n onkruidsoort die oogmerk is, soos byvoorbeeld in die geval van die erg skadelike nuwe onkruid in ons midde, Palmer-misbredie (Amaranthus palmeri).

’n Nadeel, of eerder uitdaging, waarmee tydens opvolgtoediening rekening gehou moet word, is dat daar groter variasie in onkruidgrootte en -ouderdom later in die groeiseisoen gaan wees as vroeg. Dit beteken dat van die individue in ’n onkruidpopulasie groter/ouer gaan wees as die ideale groeistadium vir effektiewe beheer – met onvoldoende onkruidbeheer as die gevolg. Daarmee saam is blootstelling van on­kruidplante aan onkruiddoder op ’n té laat stadium, dit wil sê op ’n gevorderde groeistadium, bevorderlik vir die ontwikkeling van onkruidweerstand teen soda­nige onkruiddoder. Toediening van onkruiddoders later in die groeiseisoen behoort nie slegs gerig te wees op die beheer van laat ontkiemende onkruid nie, maar ook op die voorkoming van saadproduksie wat die oorsprong van toekomstige infestasies is.

Indirekte nadele verbonde aan toediening van onkruiddoders op ’n later stadium as voor plant en voor opkoms, soos in die geval van ’n na-opkoms­opvolgtoediening, is dat die gewas se loof (blaredak) spuitdruppels kan onderskep wat bedoel was om die teiken direk te tref, dit wil sê die grondoppervlak en/of die loof van onkruidplante. Nog ’n ernstige uitda­ging van toediening van onkruiddoders relatief laat in die groeiseisoen, is die moontlikheid dat biologies aktiewe (plantdodende) reste in die grond kan oordra na die opvolgende groeiseisoen waar dit tot beskadiging van gevoelige gewasse kan lei.

Let wel: Bogenoemde is wel groot uitdagings, maar dit doen nie afbreuk nie aan die goeie praktyk vir behoud van die nawerking van grondtoegediende onkruiddoders vir so lank as moontlik in die groei­seisoen, onder meer deur opvolgtoediening vir die beheer van onkruidsoorte wat tot laat in die seisoen ontkiem en groei.

Nawerking en risiko van oordraging van onkruiddoderreste in grond
Sekere onkruiddoders het die inherente vermoë om langer biologies aktief in die omge­wing te wees as ander; hierdie eienskap staan bekend as “nawerking” of “nablywing”. Vanuit ’n gewasproduksie-oogpunt is nawerking in grond veral van belang, aangesien dit ’n maatstaf is van beide die verwagte periode van onkruidbeheer asook die risiko vir oordraging van reste van ’n onkruiddoder na die opvolgende groeiseisoen waartydens gevoelige opvolggewasse moontlik verbou kan word.

Onkruiddoders gaan verlore in die grondomgewing weens verliese te wyte aan (i) loging uit die wortelsone van onkruid, (ii) chemiese afbraakprosesse soos hidrolise, (iii) afbraak deur grondmikrobes wat die organiese onkruiddodermolekule as voedsel benut, (iv) fisiese verwydering deur wind- en watererosie van grond, asook (v) verwydering in plantreste wat ’n gewasland verlaat. Onkruiddoders is meer of minder gevoelig vir afbraak deur grondmikrobes. Lede van die triasiengroep (byvoorbeeld atrasien, terbutielasien) se afbraak of neutralisering in grond is hoofsaaklik te wyte aan chemiese hidrolise, terwyl die triketone (byvoorbeeld mesotrioon, sulkotrioon) hoofsaaklik in grond verlore gaan weens mikrobe-aktiwiteit.

’n Grondtoestand wat nawerking van grondtoegediende onkruiddoders veral sterk bevorder, is periodes van droogte of lae reënval wat na toediening heers. Aan die een kant word mikrobe-aktiwiteit hierdeur verlaag en aan die ander kant verswak of staak chemiese reaksies soos hidrolise in droë grond of by ’n lae grondvoginhoud. Toestande wat bevorderlik is vir die vertraging of staking van die verlies van onkruiddoders uit grond is uiteraard bydraend tot verlenging van die nawerkingsperiode van onkruiddoders – veral daardie wat inherent lang nawerking as eienskap het.

Let wel: Onkruiddoders se nawerking in grond, soos gemeet in “halfleeftyd”, is nie ’n absolute eienskap nie, maar relatief. Met ander woorde, ’n onkruiddoder se nawerking of halfleeftyd is afhanklik van verskeie faktore wat gelyktydig daarop inwerk. Die betrokke faktore verskil van onkruiddoder tot onkruiddoder en van een omgewing na ’n ander.

Verliesgedrag van grondtoegediende onkruiddoders
In Grafiek 1, wat die verwantskap tussen die hoeveelheid onkruiddoder teenwoordig in grond (y-as) en tyd (x-as) aandui, word die teoretiese, veralgemeende lotsbestemming van ’n grondtoege­diende onkruiddoder voorgestel. Basiese aannames in die grafiese voorstelling is (i) dat onkruidbeheer effektief is wanneer die onkruiddoder teenwoordig is in hoeveelhede tussen 70% en 100% van die toegediende hoeveelheid, en (ii) dat reste van die onkruiddoder in hoeveelhede tot so laag as 20% van die toegediende hoeveelheid (100% op dag T0), ’n gevoelige opvolggewas kan beskadig. Laasgenoemde verteenwoordig die “wagperiode”-konsep waarvolgens ’n sekere periode moet verloop na toediening van ’n onkruiddoder alvorens ’n gevoelige opvolggewas met veiligheid, dit wil sê sonder skaderisiko, gevestig kan word. Sodanige wagperiodes word op etikette van onkruiddoderprodukte gestipuleer in gevalle waar die aktiewe bestanddeel/bestanddele oor die vermoë beskik om langer as een groeiseisoen in grond teenwoordig te bly, en dan in hoeveelhede wat skadelik vir die opvolggewas is.

Grafiek 1: Teoretiese, veralgemeende verliesgedrag van grondtoegediende onkruiddoders in die grondomgewing.

Drie situasies wat die gevolg is van faktore wat die tempo van onkruiddoderverlies verskillend beïnvloed, word met drie gekleurde lyne in Grafiek 1 uitgebeeld. Blou wys die verwagte verliesgedrag, met 70% onkruiddoder oorblywend in die grond teen tyd T1(periode T0 tot T1 is toe daar effektiewe onkruidbeheer was) en tyd T4 wat die kritieke wagperiode vir ’n gevoelige opvolggewas verteenwoordig. Gedurende die periode voor T4 sal die gevoelige opvolggewas deur reste van die onkruiddoder be­skadig word, maar na T4 is die reste onder die kritieke 20%-vlak (teoreties) en behoort die gevoelige opvolggewas nie skade te ly weens byvoorbeeld oordraging in grond van reste van die onkruiddoder na die opvolgende groeiseisoen nie.

Groen beeld uit hoe faktore wat onkruiddoderverlies vertraag, soos byvoorbeeld droogte en afname in mikrobe-aktiwiteit, die tempo van verlies dermate verlaag dat die periode van effektiewe onkruidbeheer (T0 tot T2) nou wel verleng word, maar die kritieke wagperiodetyd (T4) word dan nie in die bestemde (verwagte) tyd bereik nie. Sulke faktore kan veroorsaak dat skadelike hoeveelhede reste van onkruiddoder na die opvolgende groeiseisoen oorgedra word en gevoelige gewasse beskadig word. Hierdie situasie is veral van belang by gewasrotasiestelsels waar die opvolgende gewasse moontlik gevoelig is vir die onkruiddoder(s) wat in die voorafgaande gewas gebruik is.

Bruin dui die teoretiese of hipotetiese verliesgedrag van ’n on­kruiddoder in grond aan wanneer toediening van ’n onkruiddoder in dieselfde seisoen herhaal word as opvolgtoediening en die dosis daarvan dieselfde is as by eerste gebruik. Met ander woorde, beide grafiekkurwes se beginpunt is 100%. In so ’n situasie kan gesien word dat die kritieke wagperiode voor vestiging van ’n gevoelige opvolggewas nie teen tyd T4 bereik word nie, ten spyte van ’n relatief vinnige verliestempo vir die opvolg- toegediende onkruiddoder.

In die algemeen is onkruid meer verdraagsaam en word dit gevolglik swakker beheer deur die meeste onkruiddoders wanneer toediening later plaasvind as op die “ideale” groeistadium, wat in die meeste gevalle die vooropkoms- en/of saailingstadium is. Hierdie nie-ideale situasie is nie net bydraend tot gewasopbrengsverlies nie, maar bevorder ook weerstand teen onkruiddoders.

Die kritieke wagperiode (T4) kan teoreties wel met ’n op­volgtoediening behaal word, maar dan moet die dosis verlaag word. Dit het implikasies vir effektiewe onkruidbeheer, die oortreding van Wet Nr. 36 van 1947 asook die risiko van bevorde­ring van onkruidweerstand teen die betrokke on­kruiddoder. Die groot voordeel van opvolgtoediening van onkruiddoders is dat die periode van effektiewe onkruidbeheer daardeur verleng word – die periode T0 tot T3 is aansienlik langer as beide T0 tot T1 en T0 tot T2. Hierdie voordeel se onlosmaaklike nadeel is egter die risiko dat die nienakoming van die wagperiode vir die opvolggewas kan plaasvind.

Sentraal tot die vermyding van (i) swak onkruidbeheer, (ii) die beskadiging van gevoelige opvolggewasse weens oordraging van onkruiddoder in grond, en (iii) die voorko­ming van die bevordering van onkruidweerstand teen onkruiddoders, is die streng nakoming van voorskrifte, waarskuwings en gebruiksbeperkings wat op die etikette van onkruiddoderprodukte verskyn.

Dr Charlie Reinhardt kan gekontak word by 083 442 3427 of stuur ’n e-pos na dr.charlie.reinhardt@gmail.com.