Eerste lojale kliënte kry aandele in hul sak

Gepubliseer: 27 Februarie 2020
Jacques de Wet, NWK

1392

Kliënte wat in die eerste seisoen van die NWK Lojaliteitsprogram geregistreer het, het onlangs die vrugte hiervan begin pluk toe meer as 2,6 miljoen NWK Beherend-aandele en 34 242 NWK Beperk-aandele aan hulle oorgedra is. Dividende ter waarde van R466 313 is ook intussen op dié aandele verdien.

Gedurende 2018/2019 is R8,5 miljoen se lojaliteitspunte asook Kunsmisbemarking- en Omnia-bonuspunte van meer as R1,1 miljoen deur lojale kliënte verdien. Die aankoop van aandele deur die Lojaliteitsprogramtrust behoort teen 30 April vanjaar afgehandel te wees, waarna die aandeletoekenning sal plaasvind. Kliënte wat nie vir aandele kwalifiseer nie, het ’n totaal van R61 830 as krediet op hul NWK-rekeninge ontvang.

Bykomende Kunsmisbemarking- en Omnia­bonuspunte kan weer eens verdien word. Dit word bereken op die netto randwaarde van kliënte se sake met Omnia Chemies en NWK Vloeibare Kunsmis, asook die randwaarde van al die presisiebesigheid wat gedurende die 2019/2020-finansiële jaar met NWK-Omnia Kunsmisbemarking en Landboubestuursdienste gedoen is – uitgesluit kalktransaksies, vervoer en BTW. Dit is ook onderhewig aan bepaalde voorwaardes.

Moenie dat onafgehandelde papierwerk tussen jou boerdery of entiteit en die lojaliteit- en bonuspunte wat verdien kan word, staan nie. Onthou, ’n registrasie kan slegs goedgekeur word indien die nuutste FICA-inligting aan NWK verskaf is – daarsonder kan geen punte verdien word nie. Kontak NWK Finansiering of Jacques de Wet, bemarkingsbestuurder, indien jy sekerheid wil bekom oor jou registrasie.

Wen R4 000, R10 000 óf R20 000 se bewyse
Kliënte wat opskud en voor 30 April vanjaar registreer, het nog ’n kans om in aanmerking te kom vir ’n R4 000-koopbewys van NWK Retail. Die toppunteverdiener van die jaar stap weg met ’n reuseprys in die vorm van ’n LekkeSlaap-bewys ter waarde van R20 000. Boonop kom alle kliënte wat teen 30 April vir die lojaliteitsprogram geregistreer is, in aanmerking vir die groot prys: ’n R10 000-koopbewys van NWK Retail. Volledige bepalings en voorwaardes vir die kompetisie is beskikbaar by www.nwk.co.za/promosies.

Teen 31 Desember 2019 was daar reeds 1 245 registrasies met 1 659 rekeninge wat aan registrasies gekoppel is. Besoek ook die webwerf by www.nwklojaliteit.co.za.