July 2018

Internasionale graanmarkte is die afgelope vier tot vyf jaar gekenmerk deur ‘n “supersiklus”. Dit verwys na ‘n skerp toename in die produksie van die meeste grane en oliesade – wat oorwegend nuwe hoogtepunte bereik het.

Die VSA, wat die grootste mielieproduserende land ter wêreld is (tussen 350 miljoen en 360 miljoen ton per jaar), het die afgelope vyf jaar drie keer hul produksierekord verbeter. Ander groot produserende lande soos Suid-Amerika het ook die afgelope paar jaar bogemiddelde mielieproduksie behaal. Dit het bygedra tot die akkumulasie van mielievoorrade in ‘n internasionale konteks.

Selfs koringproduksie het die afgelope paar jaar aansienlik toegeneem. Dit is egter hoofsaaklik die geval wat laerkwaliteit-produserende lande betref – ten koste van hoëkwaliteit-produserende lande. Die toename in wêreldkoringproduksie het daartoe gelei dat verbruik nie dieselfde tendens as produksie gevolg het nie. Dit het tot gevolg dat die wêreldeindvoorraad na die hoogste vlakke in die geskiedenis toegeneem het.

Mielies in die wêreldkonteks
Grafiek 1 toon die wêreldmielieproduksie, wêreldverbruik, wêreldeindvoorraad en die jaarlikse gemiddelde Amerikaanse mieliepryse. Uit Grafiek 1 is dit duidelik dat die wêreldmielieproduksie en -verbruik oor die algemeen redelik naby aan mekaar is. Mielieproduksie het sedert die 2012/2013-seisoen bevredigende groei getoon en produksie het verbruik in meeste van die jare aansienlik oorskry.

Dit het bygedra tot die akkumulasie van eindvoorraad – wat ook duidelik in Grafiek 1 sigbaar is. Die wêreldeindvoorraad het toegeneem totdat dit gedurende die 2016/2017-seisoen die hoogste vlak sedert die 2000/2001-seisoen bereik het. Die groei in produksie en toename in eindvoorraad het die internasionale pryse onder druk geplaas en Amerikaanse mieliepryse het sedert die 2012/2013-seisoen weer omgedraai vanaf die opwaartse tendens en het ‘n skerp afwaartse tendens begin volg – totdat dit gedurende die 2016/2017-seisoen naby aan ‘n tienjaar-laagtepunt was.

Die lae pryse stimuleer verbruik en wêreldverbruik het die afgelope twee seisoene besonder toegeneem. Volgens die Amerikaanse Departement van Landbou se nuutste skatting vir die 2018/2019-seisoen behoort wêreldverbruik weer wêreldproduksie te oorskry. Dit word duidelik in die verwagte impak op die wêreldeindvoorraad wat vir die 2018/2019-seisoen geskat word, gesien.

Verbruik is besig om in lande soos China toe te neem. Hulle gaan hul verwerkingskapasiteit van mielies na 2020 toe verhoog. Groot invoerlande se aankope het hierdie seisoen ook skerp toegeneem – sien Grafiek 2.

Grafiek 2 toon die mielie-aankope vir invoerdoeleindes van ‘n paar van die grootste invoerlande in die wêreld sedert die begin van 2018. Die inligting toon die land wat die invoeraankope gedoen het en die oorsprong vanwaar die mielies verkry is. Dit is duidelik dat veral Suid-Korea tot dusver hierdie jaar die grootste aankoper van mielies vir invoerdoeleindes was – met meeste van die mielies wat vanaf enige oorsprong verkry is (opsionele oorsprong).

Mielies wat van ‘n opsionele oorsprong aangekoop word, beteken in kort dat die mielies van enige uitvoerbestemming af verkry kan word – afhangende van watter een van die uitvoerbestemmings teen leweringstyd die goedkoopste mielies kan lewer.

Aankope sluit mielies in wat tydens verskillende tye van die bemarkingsjaar gelewer moet word en lewerings op kontrakte vind nie plaas direk nadat aankope gedoen is nie. Grafiek 2 toon ook dat die VSA en Suid-Amerika ‘n uiters prominente rol speel. Dit is hoofsaaklik hierdie lande waarmee Suid-Afrika in die internasionale markte vir uitvoere moet kompeteer.

Koring in die wêreldkonteks
Grafiek 3 toon die wêreldkoringproduksie, -verbruik, -eindvoorraad, asook die Amerikaanse en Duitse koringpryse. Uit Grafiek 3 is dit duidelik dat alhoewel die koringproduksie en -verbruik in die wêreldkonteks redelik naby aan mekaar is, die produksie die verbruik die afgelope paar jaar sedert die 2013/2014-seisoen jaar-op-jaar oorskry het. Dit het bygedra tot die akkumulasie van die wêreldkoringeindvoorraad wat in die 2017/2018-seisoen die hoogste ooit was.

Die verwagting vir die 2018/2019-seisoen is dat koringproduksie en -verbruik in die seisoen betreklik naby aan mekaar behoort te wees – met ‘n effense toename wat in die verbruik en ‘n matige afname wat in die produksie daarvan vir die seisoen in vooruitsig gestel word. Die internasionale koringpryse was oor die afgelope vyf jaar grootliks onder druk en het ook bykans ‘n tien jaar-laagtepunt bereik.

Ten slotte
Alhoewel die internasionale konteks die afgelope paar jaar hoofsaaklik gekenmerk is aan hoë produksie, opbou van voorrade en lae pryse, lyk dit tog of die gety weer besig is om te draai. Lae pryse het onder andere verbruik gestimuleer – wat gunstig is vir internasionale pryse.

Daar word verwag dat mielieproduksie hierdie seisoen in ‘n wêreldkonteks effens laer behoort te wees. Dit kan hoofsaaklik toegeskryf word aan uitdagende produksie­toestande, wat oor groot gedeeltes van die seisoen in belangrike produserende lande soos Argentinië en Brasilië geheers het. Alhoewel die Amerikaanse plantseisoen wankelrig begin het, het dit voldoende herstel. Aanplantings het uitstekend gevorder en produksietoestande is tans oor die grootste produksiegebiede van die VSA heen uiters gunstig.

Na verwagting sal die Amerikaanse produksie vir die seisoen steeds aansienlik laer wees as verlede jaar se produksie – hoofsaaklik as gevolg van die afname in oppervlakte en opbrengs gemeet teen verlede seisoen se oppervlakte aangeplant.

Die verbruik van koring in die internasionale konteks is ook besig om toe te neem nadat produksie verbruik in die afgelope paar jaar aansienlik oorskry het. Die koringvoorraadvlakke is in ‘n wêreldkonteks steeds hoog en staan tans op die hoogste vlakke wat nog in die geskiedenis gerapporteer is en wat die internasionale koringpryse steeds redelik onder druk hou. Hierdie seisoen is daar verskeie groot koringproduserende lande wat uitdagings soos onder andere droogtes moet trotseer. Dit sluit dominante streke soos die Swart See-streek, asook lande soos Australië en Kanada, waar hoër kwaliteit koring geproduseer word, in.

Publication: July 2018

Section: On farm level