June 2018
Jannie de Villiers, HUB
Die skrywe van dié hoofartikel het op die vooraand van NAMPO 2018 plaasgevind. Produsente in die suide het geplant en dié in die noorde was besig om te stroop. Die reën in die suide het nog nie geval nie, maar die manne het geplant laat die stof so staan. Andries Theron het die ander dag só gerapporteer: 100 mm se wind en 4 mm se reën. Ek vertrou dat dit al goed nat is teen die tyd wat hulle hierdie lees.
In die noorde hou produsente die asems op vir die moontlikheid van ryp op die laat-aangeplante gewasse. Daar is so ‘n effe van ‘n opgewondenheid oor die mielie-uitvoere wat weer begin kop optel. Die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye het uiteindelik ons versoek dat die handelaars voortaan statutêr aan SAGIS moet verklaar hoeveel skepe gereserveer is, goedgekeur. Die toename in uitvoere is ook goeie nuus vir die silo-eienaars wat elke dag nuwe planne moet beraam om plek te maak vir die nuwe oes.
Ek wil graag ‘n saak aanraak wat ons landboubeleide in die toekoms gaan raak: Dit neem al hoe langer om ‘n verandering of nuwe beleid gefinaliseer te kry. Die hoeveelheid rolspelers wat geken moet word, raak meer, die opinies meer divers en die effektiwiteit van implementering swakker.
Dít gebeur ongeag die meriete van ‘n saak. Selfs sake waaroor almal saamstem, se prosesse neem langer as gewoonlik. Dit herinner my aan ‘n besoek aan die Landbouportefeuljekomitee in 1996, toe die konsep Bemarkingswet bespreek is. Een van die komiteelede se opmerking was dat hulle daar was om goed te regeer – en nie noodwendig effektief nie. Nog ‘n ronde van konsultasie is belangriker as om die werk nóú klaar en afgehandel te kry. Die een “kommoditeit” in landbou wat met meer as inflasie per jaar groei, is die hoeveelheid mense wat ‘n opinie het oor wat die beste vir die sektor is.
Terwyl die markte, klimaat en inligting vinniger verandering van produsente noodsaak, beweeg die beleidswiele al hoe stadiger. Geen wonder die temperatuur tussen die verskillende rolspelers is aan die styg nie.
Ek het tóg tydens ‘n gronddebat die ander dag weer ‘n stukkie bemoediging beleef toe een van die regerende party se manne opgemerk het dat daar ‘n nie-rassige konsensus is dat die staatsdiens die grondhervormingsproses tot dusver gekelder het. Dit skep ‘n basis vir gesprek. Daar is gepraat oor die verstedeliking en dat die behoefte aan huiseienaarskap waarskynlik betreklik groter is as die behoefte aan plaasgrond met die oog daarop om te boer.
‘n Ander opmerking was dat daar ‘n rasionele oplossing vir grondhervorming moet wees, maar radikaal genoeg om vordering te maak. Alhoewel die titelakte van ‘n huis in ‘n woonbuurt ‘n reuse sprong vorentoe gaan gee om dié wie se grond destyds van hulle ontneem is se menswaardigheid te herstel, is die verbetering van hul ekonomiese posisie die uiteindelike doel waarna gestreef word.
Ons het nog ‘n lang pad om te stap, gegewe die rigting waarin ons onderwys en opvoedingsinstansies beweeg. Die verhoging van minimumlone is nie die oplossing om welvaart te skep nie, maar ‘n verbetering in vaardighede wat ‘n geleentheid in die vryemark benut om ekonomiese welvaart te skep, wel.
Dan was ek ook bemoedig deur die kwaliteit mense (al verskil ek soms van hulle sienings) wat hulle met die saak van eiendomsreg bemoei. Hulle is nie noodwendig landbouers nie, maar professionele individue wat ‘n verskil wil maak op ‘n plek en tyd wat die land dit broodnodig het.
Graan SA wil ook graag vir Schalk Pienaar groet. Hy het diep spore in landbou getrap. Ons gaan beslis sy kalmte in moeilike omstandighede mis, maar ook die onderskeidingsvermoë waarmee hy die kaf van die koring kon skei. Sy jare ervaring op die boonste vlak van landbouleierskap laat beslis ‘n leemte. Wees gegroet, Schalk!
Publication: June 2018
Section: Features