GEHALTEVERSEKERING in die produksie van landboumiddels

1019

January 2019

DR GERHARD H VERDOORN, CropLife Suid-Afrika

Graanprodusente spandeer amper 10% van hulle produksiekoste aan landboumiddels, oftewel, plaagdoders en aan verwante produkte soos benatters, kleefmiddels en buffers. Enige van die insette soos saad, kunsmis en landboumiddels is baie belangrik vir produsente omdat goeie gehalte insette saam met geskikte weersomstandighede ’n winsgewende oes vir die produsent verseker.

Daar bestaan ’n mate van wantroue onder produsente oor die gehalte van landboumiddels. Dit word dikwels aangevuur deur gerugte van lae effektiwiteit of selfs gewasskade.

CropLife Suid-Afrika, wat die bedryfsvereniging vir die plantbeskermingsbedryf is, wil produsente die versekering gee dat daar min rede is om enigsins die gehalte van landboumiddels te bevraagteken.

Die stelling word egter slegs gekwalifiseer met die voorbehoud dat landboumiddels wel geregistreer is en aan al die vereistes voldoen. Ongeregistreerde landboumiddels is uiters riskant omdat daar geen waarborg is dat dit aan die vereistes voldoen nie.

Vereistes in terme van Wet Nr. 36 van 1947 
Die Wet op Misstowwe, Veevoedsel, Landboumiddels en Veemiddels, 1947 (Wet Nr. 36 van 1947) vereis dat alle landboumiddels, of dan plaagdoders, geregistreer moet wees. Dit vereis bowendien dat die middels in goedgekeurde, skoon houers wat nie mors as die middel oorgegiet word nie, verpak moet wees, dat die houer met ’n goedgekeurde etiket toegerus is, dat die middel se samestelling en fisiese eienskappe voldoen aan die vereistes soos by registrasie ingedien en dat die middels se effektiwiteit ooreenstem met dít wat vir die aansoek om registrasie aangebied is.

Hierdie vereistes is almal onder Artikel 7 (1) van die Wet vervat, maar die vereistes word verder ondersteun deur die feit dat die Registrateur van die Wet enige ander voorwaardes mag stel voordat ’n aansoek om registrasie ingedien word.

Dit alles spreek tot die oorspronklike rede waarom Wet Nr. 36 van 1947 geformuleer is, naamlik om te verseker dat die plaagdoders wat vervaardig en verskaf word, die nodige effektiwiteit sal hê om plae, plantsiektes en onkruide te beheer.

Die ontwikkeling van ‘n landboumiddel 
Wanneer ’n maatskappy ’n landboumiddel ontwikkel, is daar ’n baie breë spektrum van vereisde navorsing wat benodig is vir die samestelling van die dossier wat vir aansoek om registrasie ingedien moet word.

Die eerste daarvan is om ’n bron van die aktiewe bestanddeel te vind, daardie bron se analise van die aktiewe bestanddeel vir vyf lotte te bekom en seker te maak die standaard van die aktiewe bestanddeel aanvaarbaar is.

Indien daar enige onsuiwerhede of kontaminante in die aktiewe bestanddeel is, moet dit in die analitiese verslag verklaar word. Só ’n bron word dan ook deur die Registrateur goedgekeur en aangeteken as die enigste verskaffer van die aktiewe bestanddeel wat die maatskappy mag gebruik.

Dan moet die aktiewe bestanddeel in ’n geskikte samestelling met ander koformulante geformuleer word. Die formulasie-aanleg moet ook deur die Registrateur goedgekeur word. Koformulante is items soos die oplosmiddels, benatters, stabiliseerders, kleurstowwe, emulgeermiddels en kleefmiddels. Slegs bepaalde middels word goedgekeur en stowwe soos byvoorbeeld diazo-pigmente is reeds lankal verban.

’n Raklewe word bepaal deurdat die maatskappy die geformuleerde landboumiddel aan versnelde raklewe-toetse blootstel waarna alle fisiese en chemiese eienskappe geëvalueer word. As die middel al die toetse slaag, word ’n twee jaar-raklewe ingevolge die regulasies toegestaan, maar indien die middel nie die toetse oorleef nie, word ’n korter raklewe toegeken.

Veldproewe moet gedoen word oor ten minste twee groeiseisoene en in ’n minimum van twee verskillende klimatologiese streke om te bewys dat die middel ten minste 80% beheer van die pes, siekte of onkruid behaal.

Daar word ook residuproewe gedoen met die korrekte dosis, sowel as twee maal die dosis, om te bepaal wat die aanvaarbare residue sal wees ná die oesinterval, met ander woorde, hoe lank die produsent ná laaste aanwending moet wag om te verseker dat residue onder die aanvaarbare residuvlakke sal wees.

’n Baie belangrike vereiste is om te bewys dat as die landboumiddel met die regte toedieningsapparaat en korrekte dosis aangewend is, geen gewasskade aangerig word nie.

Al hierdie vereistes is daarop gemik om te verseker dat die beoogde middel volgens spesifikasie presteer.

Toksikologiese studies
Alle landboumiddels, hetsy chemies of biologies van aard, hou een of ander moontlike gevaar vir menslike gesondheid of die omgewing in. Daarom word vereis dat ’n volledige toksikologiese evaluering van die middel onderneem word wat gewoonlik intensief in die Noordelike Halfrond uitgevoer word.

Die verslag sal risiko’s identifiseer en ook die maksimum toegelate daaglikse inname vir mense spesifiseer.

Registrasieproses 
Die aansoek om registrasie van ’n nuwe landboumiddel is ’n omvattende proses wat tot twee jaar mag duur. Verskeie tegniese spesialiste evalueer die data wat voorgelê word en dikwels vra die Registrateur bykomende data aan voordat die dossier uiteindelik goedgekeur en registrasie toegestaan word.

Na-registrasie kontrole 
Registrasiehouers is onderhewig aan verskeie ander vereistes nadat hul landboumiddels geregistreer is. Sommige middels word van die buiteland ingevoer waar dit geformuleer en reeds verpak is met die nodige etikette. Ander word in grootmaat ingevoer en plaaslik herverpak en dan geëtiketteer.

Daar is ook baie produkte waarvan die aktiewe bestanddele en koformulante ingevoer word waarna die middel plaaslik geformuleer, verpak en geëtiketteer word. Dit is noodwendig so dat daar tydens vervaardiging wel foute mag insluip wat die landboumiddels se gehalte en/of samestelling negatief mag beïnvloed.

Om te verseker dat produkte se samestelling altyd aan die spesifikasie voldoen en van hoogstaande gehalte is, moet alle ingevoerde produkte, ná invoer ontleed word om die gehalte te bepaal. Produkte wat plaaslik vervaardig word óf plaaslik geformuleer word, moet ook aan sulke gehaltebeheertoetse onderwerp word.

Gehaltebeheertoetse is analises wat gedoen word om vas te stel wat die chemiese inhoud en fisiese eienskappe van die middels is. Die analise van die aktiewe bestanddele is die belangrikste – en daarmee saam of die korrekte aktiewe bestanddeel teenwoordig is en of dit in die gereguleerde konsentrasie is.

Let wel dat die regulasies van Wet Nr. 36 van 1947 wel bepaalde spelings toelaat – byvoorbeeld as die aktiewe bestanddeel meer as 50% van die formulasie is, dan mag die afwyking nie meer as 2,5% wees nie en as die aktiewe bestanddeel tussen 25% en 50% is, mag die afwyking nie meer as 5% wees nie.

Verder moet dit vasgestel word of daar enige kontaminante of onsuiwerhede in die formulasie is. Sulke elemente is wel toelaatbaar, maar binne die perke wat vasgestel is wanneer die produk geregistreer word.

Die toetse behels ook fisiese eienskappe soos byvoorbeeld viskositeit, partikelgrootte veral vir suspensie-konsentraat en emulsie in water formulasies, die digtheid (soortlike gewig) en stabiliteit. Daar word ook gekyk na korrelgrootte en oplosbaarheid van water oplosbare korrelformulasies. Dit is selfs raadsaam om een van die vervaardigde houers in die praktyk op die proef te stel om vas te stel of dit die gewenste resultate lewer.

Daar is ook die regulatoriese intervensie in produkgehalte, naamlik dat dit die Registrateur vry staan om enige tyd hierdie analitiese data te inspekteer ten einde te bepaal of die spesifieke middel aan die gehalte vereistes voldoen. Hy mag selfs monsters neem om dit te laat analiseer vir gehaltebeheer.

’n Inspekteur van die direktoraat vir die beheer van landbou-insette daag gereeld by registrasiehouers se pakhuise op om geseëlde houers vir analise te neem. Alle landboumiddels wat ingevoer word en selfs produkte wat plaaslik geformuleer word, is aan rekordhouding onderhewig. Monsters moet as deel van gehaltebeheer gehou word vir latere verwysing indien daar enige probleme opduik.

Die onus vir gehaltebeheer lê by die registrasiehouer en die mandaat by die Registrateur. Indien die Registrateur vind dat die produk se samestelling nie aan die spesifikasies voldoen nie, is hy by magte om die produk se registrasie op te skort of selfs te kanselleer afhangende van die aard van die afwyking.

Aanduidings van moontlike swak gehalte 
Dit is heeltemal moontlik dat foute kan insluip tydens die vervaardiging van landboumiddels. Vir die produsent is dit onmoontlik om te weet of daar foute gemaak is, maar ’n blote visuele inspeksie van die produk in sy houer sal gewoonlik die eerste simptome van verkeerde of swak produkgehalte aandui.

Kleure wat onbekend lyk, middels waarvan die onderskeie komponente uitgeskei het, onbekende reuke en swak prestering is tekens van moontlike probleme. Kontak dadelik die registrasiehouer vir hulp met só ’n vermeende swak gehalteproduk.

Korrekte gebruik van landboumiddels 
Landboumiddels se etikette weerspieël ’n geweldige komplekse klomp navorsing, proewe en dinkwerk wat alles daarop gemik is om te verseker die produk na wense presteer. Wanneer die landboumiddel aangewend word, is dit die produsent se wetlike verantwoordelikheid om die etiket se voorskrifte streng na te volg.

Meer as 95% van alle klagtes oor produkte wat faal of gewasse beskadig, is die direkte gevolg van versuiming om voorskrifte na te volg. Alle etikette het die vrywaring daarop wat wys dat die registrasiehouer geen verantwoordelikheid aanvaar vir die produk se prestasie as die etiket se voorskrifte nie nagevolg word nie.

Indien ’n produsent die gebruiksaanwysings nie navolg nie, en die produk dus nie die gewenste uitwerking het nie, is daar geen regsgronde vir ’n eis teen die registrasiehouer.

Stappe indien daar probleme met gehalte is 
Wanneer ’n produsent ’n grondige rede het om te glo dat ’n landboumiddel se gehalte onder verdenking is, moet een geseëlde houer weggebêre word.

Kontak dan die CropLife Suid-Afrika hoofkantoor by info@croplife.co.za of 087 980 5163 vir aanwysings om die produk te laat analiseer ten einde vas te stel of daar wel ’n afwyking van spesifikasie is.

Wees versigtig met aankope 
Daar is landboumiddels in die omloop wat vervals is en hierdie middels se gehalte is nooit op standaard nie. Wees bedag op houers met vreemde etikette wat nie bekend lyk nie, of produkte wat goedkoop gesmous word.

Weer eens is CropLife Suid-Afrika daar om te help. Die AgriIntel databasis op www.agri-intel.com bevat die etikette van byna alle geregistreerde landboumiddels in Suid-Afrika en só kan ‘n mens vinnig uitvind of ’n landboumiddel wel wettig is.

Wanneer ’n landboumiddel nie na wense presteer nie, kontak ’n CropLife geakkrediteerde agent. Dit is dikwels tenkmengsels wat probleme veroorsaak of kalibrasie wat foutief was, maar as die produk se spesifikasie foutief was, moet die registrasiehouer die verantwoordelikheid daarvoor aanvaar.

Kyk na watergehalte, veral waar beskikbare water baie opgeloste soute bevat, aangesien dit produkprestasie baie maklik kan benadeel. Die pH moet gebuffer word aangesien dit ook die prestasie kan beïnvloed.

Opsomming
Oor die algemeen is daar geen rede om plaagdodergehalte te wantrou nie, maar wees bedag op die sluipers wat onwettige en ongeregistreerde middels probeer verkoop. Dit is net gewaarborgde moeilikheid.

Koop jou landboumiddels by ’n betroubare verspreider en dring op betroubare handelsmerke aan. Vir jou eie gemoedsrus stel CropLife voor dat jy jou landboumiddels by ’n geakkrediteerde agent en/of ’n verspreider wat ’n CropLife SA-lid is, aankoop.

Vir navrae in verband met die artikel, kontak die outeur by 082 446 8946 of gerhard@croplife.co.za.

Publication: January 2019

Section: On farm level