Parasitiese wespe ingespan om vlieë te beheer

595
Dr Arno Moore, besturende direkteur, BISA

Vlieë is seker een van die ergste verpes­tings vir mens en dier. Nie alleen is vlieë uiters irriterend nie, maar hulle veroorsaak regstreeks groot produksieverliese by plaasdiere – hoofsaaklik toe te skryf aan verlaagde voerinname.

Hierdie verliese manifesteer in beide verlaagde melkproduksie en verlaagde groeitempo by ander diere. Dit is ook bewys dat melkkwaliteit verlaag met toenemende vliegbesmetting. Daarby is vlieë ook betrokke by die oordra van meer as 70 siektes by mens en dier. Dit sluit onder meer in cholera, miltsiekte, maag­koors, tering, polio, salmonella, tifuskoors, mastitis, Newcastle-siekte, pienk oë en amoebiese disenterie.

Vliegbeheer
Vliegbeheer is noodsaaklik, maar ten spyte van deurlopende pogings om vlieë uit te roei, word relatief min volhoubare sukses behaal. Doeltreffende chemiese middels word ten duurste ontwikkel, net om mettertyd hul doeltreffendheid te verloor met die opbou van weerstand van vlieë teen die middels. Die gevaar bestaan ook dat chemiese middels die natuurlike vyande van vlieë doodmaak, wat besliste nadele vir ekonomies volhoubare vliegbeheer inhou. Daar is daarom al meer konsensus dat vliegbeheer op ’n geïntegreerde manier aangepak moet word. Vir ekonomies volhoubare vliegbeheer is dit belangrik om die volgende aspekte in ag te neem:

  • Die lewensiklus en biologie van die vliegspesies betrokke.
  • Fisiese bestuursvereistes om die vliegplaag ten beste te bestuur, soos die uitleg van produksiefasiliteite, misbeheer, ens.
  • Die rol en doeltreffende gebruik van die vlieg se natuurlike vyande.
  • Die rol en doeltreffende aanwending van chemiese middels.

Diereproduksie-eenhede behoort daadwerklik vir vliegbeheer met die oog op ekonomiese volhoubaarheid beplan te word. Vliegbeheer het natuurlik koste-implikasies, maar ’n doeltreffende vliegbeheerprogram sal in ’n bate ontwikkel met die verlaging van produksieverliese en afname in voorkoms van vlieg-oordraagbare siektes.

Daar is ’n groot verskeidenheid vliegspesies wat ’n plaagstatus kan aanneem, maar die belangrikste is die gewone huisvlieg en die stalvlieg. Die huis­vlieg irriteer diere deur saam te drom op vogtige plekke soos oë en plekke waar hulle kan voed soos spene. Die stalvlieg is ’n bytende vlieg wat voed op bloed en kom in massas voor op die pense en bene van diere. Sulke diere is geïrriteerd en rusteloos, waai hul sterte, swaai hul koppe en stamp hul voete. Voerinname daal en produksieverliese volg.

Die huisvlieg en stalvlieg het soortgelyke lewensiklusse, met die huisvlieg s’n ’n effens korter siklus. In die praktyk kom dit daarop neer dat die vliegwyfie voldoende voeding moet inneem, waarna eiers in tipiese “pakkies” van tot 50 eiers op ’n keer gelê word. ’n Enkele vliegwyfie kan in haar leeftyd tot 900 eiers produseer. Vliegeiers ontwikkel binne 12 tot 18 uur in larwes en gaan deur drie larwestadiums wat een tot drie weke kan duur, waarna die larwes verpaap. Papies kan vanaf drie dae tot drie weke neem om uit te broei, afhangende van die vliegspesie en omge­wingstoestande. Vlieë kom as volwassenes uit papies te voorskyn.

’n Parasitiese wesp voed op ’n vliegpapie.

Broeiplekke
Die belangrikste broeiplekke vir vlieë is mishope, misafloopsones, onder en rondom voerkrippe, verspilde voer, kuilvoer en verrottende hooi. Dit spreek vanself dat potensiële vliegbroeiplekke so bestuur moet word dat dit die minimum vliegbroei-aktiwiteit sal veroorsaak. Hou mis so droog as moontlik, sorg vir goeie dreine­ring, beperk lekkende water, verwyder verspilde voer, kuilvoer en verrottende hooi. Wees bedag op die voorkoms van potensiële vliegbroeiplekke en bestuur die situasie ten beste om vlieggetalle te beperk.

Vervolgens moet volwasse vlieë beheer word sodat minder vliegeiers gelê word. Vlieë kan gevang word in verskeie lokvalle in die handel beskikbaar of gedood word met doeltreffende chemikalieë. Chemika­lieë moet gespuit of geverf word op mure, pale, onder dakke en op ander vliegrusplekke. Diere kan ook met vliegdodende chemikalieë gedip word. Om die natuurlike vyande van vlieë te beskerm, moet sorg gedra word dat skadelike chemikalieë nie op die vliegbroeiplekke kom nie. Die langer lewensiklus van vliegparasiete veroorsaak dat hul vermoë om gif te weerstaan, minder as die van vlieë is. ’n Uitsondering op die reël is handelsmerke met die aktiewe bestanddeel siromasien, ’n larwesied wat vlieglarwes merendeels in die vroeë stadia dood. Siromasien maak nie die belangrikste vliegparasiete dood nie.

Omgewingsvriendelike beheer
Daar is ’n toenemende besef dat daar gestreef moet word om sover moontlik in harmonie met die omgewing te produseer. Met vliegbeheer is daar nou ook in Suid-Afrika die geleentheid om deur die gebruik van vliegparasiete te beweeg na ’n meer omgewingsvriendelike vliegbeheerprogram. Dit is moontlik deur die inbring van groot aantalle parasitiese wespe wat uitsluitlik op vliegpapies voed en in vliegpapies voortplant. Parasietwyfies fynkam vliegbroeiplekke om vliegpapies op te spoor. Die wyfie steek die vliegpapie, voed op die ontwikkelende vlieg in die papie, en kan ook haar eiers in die papie lê. Die ontwikkelende vlieg in die papie word gedood en in plaas van vlieë, broei daar ongeveer 19 dae later ’n nuwe generasie parasitiese wespe uit wat die proses van parasitisme voortsit.

Soos die wesppopulasie toeneem, broei al hoe minder vlieë uit sodat die behoefte vir volwassevliegbeheer drasties afneem en afhangende van omstandighede, selfs kan verdwyn. Die doel met die loslaat van parasitiese wespe is nie vir ’n sogenaamde “balans in die natuur” nie. Vlieë se aanteelvermoë is hoër as dié van die parasiete, wat dit noodsaaklik maak dat ’n oormag parasiete op gereelde basis losgelaat moet word om die uitbroei van vlieë te onderdruk. Vliegparasiete word dus gereeld, byvoorbeeld vierweekliks, losgelaat. Die voordele van biologiese vliegbeheer sluit die volgende in:

  • Vlieë word beheer voordat hulle kan irriteer en skade veroorsaak.
  • Dit is maklik, gerieflik en effektief, selfs op moeilik bereikbare plekke.
  • Chemiese besoedeling word beperk.
  • Vlieë kan nie weerstand teen parasiete opbou nie, die parasiete bied dus ’n langtermynoplossing.

Biologiese vliegparasiete
Daar is verskeie instansies wat vliegparasiete verskaf. Een so ’n instansie is Bio-Insectaries South Africa (BISA), wat plaaslik vliegparasiete teel en die vliegparasiet Muscidifurax raptor versprei. Hierdie parasiet verskaf ’n bewese vermoë om vlieë onder Suid-Afrikaanse toestande te beheer.

Muscidifurax raptor is ’n klein wesp, omtrent 1 mm tot 2 mm lank. Hulle is hoofsaaklik nag­lewend, mieragtig, verkies om te loop eerder as om te vlieg, maar versprei maklik tot 50 m ver. Hierdie parasitoïed kan ’n aantal vliegspesies doeltreffend parasiteer, waaronder die belang­rike huisvlieg, stalvlieg en ander geassosieerde vliegspesies.

Bykomend tot die uiters effektiewe Muscidifurax raptor, is ander Muscidifurax-spesies en parasitoïede soos Nasonia-spesies ook belangrik.

Lewensiklus van die Muscidifurax raptor
Die volwasse parasiet steek die vliegpapie, dood dit in die proses en lê haar eiers in die vliegkarkas binne die papie. Die larwe-eier broei uit en die parasietlarwe ontwikkel in die vliegpapie. Na 19 tot 21 dae kom die volwasse parasiete uit die vliegpapies te voorskyn en begin op hulle beurt hulle soektog na vliegpapies om op te voed en hul eiers in te lê.

Selfs indien die vliegparasiet net die vliegpapie steek vir voeding, word die ontwikkelende vlieg in die papie gedood. Omdat die vliegpa­rasiet se lewensiklus langer as die van die vlieg is, kan dit soms voorkom asof die parasiet nie werk nie. As hulle eers weg is, is die verskil egter duidelik sigbaar.

Om op te som
Doeltreffende vliegbeheer behels die toepas­sing van ’n geïntegreerde vliegbeheerprogram wat bestaan uit die volgende:

  • Doelgerigte bestuur van potensiële vliegbroeiplekke om die uitbroei van vlieë te beperk.
  • Beheer van volwasse vlieë, chemies of andersins, sodat minder eiers gelê word.
  • Loslaatprogram van parasitiese wespe wat op vliegpapies parasiteer en die uitbroei van vlieë effektief beperk.
  • Die inbring van skrophoenders (wat weer ander voordele, maar ook nadele bring).
  • Die korrekte gebruik van chemie en vang­kuipe om die vlieë te help beheer as die plaag ontplof.
  • En dan die belangrikste … ’n goeie vlieëplak.

Kontak dr Arno Moore van BISA by 083 270 4866 of bisa@bioinsectsa.com vir meer inligting.