May 2018

Dit voel asof die wêreld tans van alles te veel het. Heeltemal te veel mielies, sojabone en koring, maar ook kunsmis. Markontledings en markkommentators het einde verlede jaar aangedui dat daar verwag is dat die uitbreiding in kunsmisvervaardiging die verhoging in vraag sou oorskry.

Kenners het gereken dat daar selfs ‘n surplusvoorraad van kunsmis op die wêreldmark beskikbaar sou wees. Dit mag tans dalk die geval wees, maar dit weerspieël nie noodwendig in internasionale prystendense nie. Dit laat ‘n mens behoorlik kopkrap oor die redes hiervoor en waarheen pryse op pad is.

In hierdie artikel word gefokus op internasionale kunsmisprystendense en hoe dit deursyfer in die plaaslike kunsmismark; en waarom pryse nie noodwendig met verwagtinge strook nie.

Omdat so ‘n groot hoeveelheid van Suid-Afrika se kunsmisbehoeftes ingevoer word (meer as 80%), het internasionale pryse en die wisselkoers ‘n groot impak op die vorming van plaaslike pryse. Die tydsberekening van wanneer invoere plaasvind en die wisselkoers wat geld, is bepalend.

Internasionale kunsmispryse in dollarwaarde
Omdat meer as 80% van Suid-Afrika se kunsmisbehoeftes ingevoer word, het internasionale pryse en die wisselkoers ‘n groot impak op plaaslike kunsmispryse. Behalwe vir ammoniak, het kunsmisgrondstowwe internasionaal oor ‘n jaartydperk gestyg (Tabel 1). Die wisselkoers het vanaf Maart verlede jaar tot Maart vanjaar met 8,6% versterk – ‘n sterker rand beteken invoere kan goedkoper ingebring word.

Internasionale kunsmispryse in randwaarde
Tabel 2 toon internasionale kunsmispryse in randwaarde. Uit die tabel is dit duidelik dat die versterking in die wisselkoers ‘n beduidende rol kan speel in hoe internasionale pryse in die plaaslike mark kan deursyfer.

Internasionale pryse van ureum en ammoniak het in randwaarde jaar-op-jaar tussen 8,3% en 22% gedaal, hoofsaaklik as gevolg van die versterking in die waarde van die rand. As gevolg van die rand het pryse van DAP en kaliumchloried ook met tussen 0,9% en 6,7% in randterme toegeneem, terwyl dit eintlik skerp in dollarterme gestyg het.

Plaaslike kunsmispryse
Tabel 3 toon die gemiddelde plaaslike kunsmispryse (pryslyspryse), waaruit afgelei kan word dat plaaslike prystendense redelik met dié van internasionale pryse in randwaarde korreleer.

Dit is nie die pryse wat belangrik is nie, maar die persentasie verandering. Internasionale pryse is gebaseer op pryse in internasionale hawens en plaaslike pryse is gebaseer op gemiddelde pryslyspryse.

Grafiek 1 illustreer hoe die prys van plaaslike ureum met dié van internasionale ureum­pryse in randterme op ‘n indeksbasis vergelyk. Dit is duidelik dat pryse redelik goed oor ‘n vyf jaar-periode korreleer én ‘n afwaartse tendens gevolg het.

Hoekom het internasionale kunsmispryse gestyg?
Wat kan die redes wees waarom internasionale kunsmispryse oor ‘n jaartydperk gestyg het, terwyl die voorrade verhoog het? Daar is heelwat redes wat op internasionale markte aangevoer word, maar die belangrikste rede blyk die skerp toename in natuurlike gaspryse, wat einde verlede jaar in die mark gesien is, te wees.

Die rede hiervoor was die ekstreme koue wat gedurende hierdie tyd in die Noordelike Halfrond beleef is. Natuurlike gas is die hoofgrondstof in stikstofproduksie en ook ‘n belangrike grondstof in MAP-produksie, maar word boonop gebruik vir verhitting in die Noordelike Halfrond – daarom die styging tydens die ongewone koue. Ons sal ook moet wag om te sien wat die onlangse styging in Brent-ruoliepryse se impak op kunsmisprystendense gaan wees.

Om op te som blyk dit dat dit nie altyd vraag en aanbod is wat pryse dryf nie, maar ook faktore wat die produksiekoste van kunsmisvervaardiging die hoogte laat inskiet.

Publication: May 2018

Section: On farm level