Julie

Gepubliseer: 9 Julie 2020

625

Beste Grootneef

Julie het so ’n lekker vol klank aan hom. Dit sê waar jy jou met die meetsnoere van seisoene bevind – met ’n halwe jaar agter die rug en met oestyd in volle swang.

Julie is die tyd wanneer die ryp soggens soos as oor die Vrystaat se vlaktes gestrooi lê. Met oggende wat stilweg, kraakvars gebeur. En met klank wat ver trek.

In Julie is die veld in skakerings van vaal en bruin getooi. Met rooigras vooroor gebuig, droog soos hooi.

In Julie is dit tyd vir soutklip en lek by waterpunte. Met windpompe wat traag is om te draai, omdat die westewinde tot in Augustus loop lê. Die ou Lister-enjin word weer aan die brand gedraai om helder water in die dam te laat plons. Mens en dier voel die skurfte van dors mos meer in die droë seisoen as in die somertyd.

In Julie ys die waterkrippe toe. In die koudste van nagte kan die ys selfs pype van yster kraak.

In die midde van die winter is die nagte lank en die dae te kort. Wanneer die son agter die westerkim inskuif, stroom die koue lug deur die leegtes. As jy met sononder vleilangs loop, streel die koue strome teen jou gesig.

Die winter kan jy hoor in die stilte van die nag – met geen kriek- of paddakoor wat uit die veld weerklink nie.

Julie is die bymekaarkomtyd van swerms swart-en-wit-gespikkelde veervolk. Deur die dag skrop die tarentale in die lande agter mieliepitte aan. En saans kom hulle in rye aangestryk na die bloekombos. Elk met ’n vraende getjier, soos ’n kruiwawiel sonder olie. In die laaste lig vlieg hulle met swaar vlerkslae die takke in om daar te oornag – veilig en hoog, buite jakkals se bereik.

Julie beteken ook kaggelvuur en soetwyn saans, met die sinkdak wat kraak in die nag soos die grade in Celsius daal. In Julie se winternagte is die Skerpioen koning in die suidelike hemelruim, met Orion wat eers weer in die somernagte gesig kom wys.

Julie is ook oesfees. Met die stroper wat gladweg deur die mielies dreun om die kosbare vrag in te samel. Wit goud vir Afrika se honger mense. Tonne mielies per hektaar, want die mense in die dorpe en stede wag. Die grondpad word stof getrap deur die swaar vragte na die silo toe.

Winter is ook jagtyd, met edelsnitte wat elke tafel sal vereer. Blesbok se rugbiltonge met koljander bestrooi. Of ’n springbokboudjie wat oornag tot sag in die Aga-oond gestowe word. En stringe wildebeesdroëwors wat in die vleiskamer hang. Dit bly die jagter se voorreg om tippies van die droëwors af te breek om te proe of dit nie dalk al reg is nie.

Ou Neef, wanneer dit die koudste in die Vrystaat is, is die beloning ook die grootste. Soms moet ’n mens die winterkoue van Julie intens ervaar om weer voluit te kan groei wanneer dit somer raak.

Groete op die Oosgrens.

 

 

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.