May 2018

JANNIE DE VILLIERS, HUB

So met die draai van die seisoen is ek ook bewus van ‘n seisoensverandering by mense in ons land. Sommiges is positief – so asof dit lente raak met nuwe groei en nuwe hoop – maar party is ook herfs- en winteragtig met blare wat verdroog en koue winde wat waai.

Die land se nuwe president het ‘n paar nuwe (of is dit oud?) ministers aangestel wat begin om te spring clean! Nuwe direksies word aangestel en oud-polities-aangesteldes word vervang en sommiges selfs vervolg. Dit is alles positief. Ek hoop dat die nuwe gesaaides in dié verband goeie opbrengste gaan oplewer.

Graan SA speel ‘n rol in die verlening van bystand in dié opbou en herstel. Ek was ook bemoedig deur die pogings van individue om die eenheid in landbou vorentoe te neem. Dit is egter ‘n opdraande pad, maar ons ken dit. Die bergtop-ervaring van só ‘n lang, opdraande stryd is waarvoor ons leef en werk.

Van die hindernisse in die opdraande stryd bestaan uit individue wat dit hulle lewenstaak maak om alle vooruitgang teen te staan. As hulle nie self die eer kan kry nie, staan hulle alles teen. Dit is jammer. Iets wat swaar om my hart lê, is die saak van transformasie. Ek het met groot belangstelling Max du Preez se verklaring gelees oor waarom rassediskriminasie teoreties net van wit na swart kan bestaan en nie andersom nie.

Dit gee goeie insig, maar dit beteken nog nie dat ek alles verstaan of daarmee saamstem nie. Tog het ek beter insig gekry. Ons spandeer ure in vergaderings en beplanningsessies oor wat ons ten opsigte van transformasie te doen staan. Dit is egter altyd net eensydig: Van wit na swart.

Die afgelope maand het ek verskeie vergaderings bygewoon waar die gedagte van omgekeerde transformasie in my gedagtes opgekom het. Dalk is dit mnr Mosiuoa Lekota wat in die Parlement gevra het wie dié “our people” is waarvan daar so baie gepraat word, wat dit begin het.

Is ek dan nie ook “our people” nie, het ek by myself gedink? My voorouers het weens hulle geloof in 1688 uit Frankryk gevlug en hulself hier in Suid-Afrika kom vestig. Ons het kom boer en die evangelie verkondig. As ek mooi daaroor nadink, is dit vandag nog dieselfde. Tog is daar mede-landsburgers wat nog steeds nie wil transformeer en my as mede-Afrikaan aanvaar nie. Ek het al die rivier oorgesteek en hulle as mede-landsburgers aanvaar, maar ek word nog steeds deur vele nie aanvaar nie.

Graan SA het nog ‘n lang pad om te stap om self ten volle te transformeer, maar ook om ‘n rol te speel om te help dat die hele samelewing transformeer. Blywende transformasie is ‘n hartsverandering. Dit is nie die voltooiing van ‘n paar projekte en siedaar nie! Net so is die herstel van mense se menswaardigheid nie daarin gesetel om net eenvoudig vir hulle ‘n stuk grond (met of sonder vergoeding) te gee nie.

Diegene wat plase by die staat gekry het en nie ook die titelaktes daarmee saam nie, kry nie geboer nie en het beslis geen menswaardigheid bygekry met die etiket van “mislukte boer” nie. Grondhervorming gaan oor aansienlik meer as blote uitdeel van grond.

Ons het ‘n hoër graad van menswaardigheid by dié boere wat ‘n kommersiële opbrengs op een hektaar gestroop het, beleef. Hulle kan vir hulself sorg en ook vir hulle gesinne. Daarin lê menswaardigheid. Staatsamptenare wat bloot iemand weens sy/haar velkleur nie wil bedien nie, is nie menswaardig nie en lewer ook nie ‘n bydrae om transformasie te bevorder nie.

Tog bly ons glo dat die winter op ‘n stadium gaan verbygaan en as die lente kom, sal ons weer kan plant en oes om vooruit te gaan.

Publication: May 2018

Section: Features