Dít maak ’n besoek aan NAMPO Kaap die moeite werd

Louise Kunz, SA Graan/Grain-redaksie
Gepubliseer: 6 November 2023

272

Ten spyte van gure weer het ’n rekordgetal van amper 35 000 landbou-entoesiaste van 13 tot 15 September op Bredasdorp Park gekuier om die nuutste innovasies in boerdery te verken. Meer as 10 000 besoekers het op dag 2 deur die hekke gestroom.

Vir Henk Aggenbach, voorsitter van NAMPO Kaap, gaan dié landboutentoonstelling egter oor veel meer as dié rekordbywoningsyfer. Vir hom bring dit ’n welkome ekonomiese inspuiting vir die gemeenskap en maak dit die algemene publiek bewus van kommersiële landbou se aandeel in voedselsekerheid. Positiewe terugvoer is ontvang van die 500 uitstallers wat hul ware en produkte in 625 uitstalruimtes ten toon gestel het. Goeie besigheid is vanjaar tydens dié landbouskou gegenereer.

NAMPO Kaap 2023 was ’n reusesukses en die ryk diversiteit van die Wes-Kaapse landbougemeenskap het iets vir elke smaak gebied. Die “Groenenergie-rewolusie”-tema het die geleentheid aan besoe­kers gebied om opsies te kom soek wat kan help om Suid-Afrika se kragkrisis die hoof te bied.

Sien is glo
Vir diegene wat daarvan hou om te sien hoe iets werk of dát dit werk voor hulle dit aanskaf, het baanbrekertegnologie – van ma­sjinerie tot innoverende boerderytegnieke – vir produsente gewys hoe om die meeste uit hul boerdery-onderneming te kry. Die getal inskrywings vanjaar vir die boereplannekompetisie was die meeste wat nóg ontvang is. Daar was verskeie patente om die voer van vee te vergemaklik en die gehalte van inskrywings in veral die skole-afdeling het die beoordelaars aangenaam verras.

By Water Purification Solutions is waterbehandelingsoplossings vir waterkwessies soos metaalverwydering van yster en mangaan, PH-korreksie en ontsmetting gedemonstreer. Die werking van grondlose groeistelsels soos hidroponika en akwaponika het heelwat aandag getrek by die Water Wise Centre.

NAMPO Kaap het vir die landbougemeenskap van die Wes-Kaap ’n venster gebied op die nuutste tegnologie wat die verskillende bedrywe gebruik om die voedselketting te bedien. Verskillende produkte en praktyke wat verband hou met variëteite, bemestingsmetodes en plantgesondheid kon by die proefpersele gesien word.

’n Nuutjie by NAMPO Kaap 2023 was die museumtent wat artefakte van 19 streekmuseums uitgestal het. Items soos ’n “dompas” uit toeka se dae asook skaars speelgoed soos kruiwaens en Dinky-speelgoedkarretjies is ten toon gestel. Witblits, sepies en ’n verskeidenheid huishoudelike voorwerpe het die geheime van vervloë eras onthul.

Stof tot nadenke
Die gespreksforum Nasie in Gesprek is onder leiding van Theo Vorster en Anlie Hattingh aan­gebied. Van die relevante onderwerpe wat spesifiek op die Wes-Kaap gefokus het, is die groei van die kanolabedryf, die vordering van kragopwekking en die uitdagings van die waardeketting in die skaapbedryf.

In vennootskap met Land Bank het Food for Mzanzi ook waardevolle besprekings vir hoofsaaklik nuwe-eraboere ingestel. Dié gesprekke is in die tent van die Wes-Kaapse Departement van Landbou aangebied en temas het gefokus op die potensiaal van gemengde finansiering en geleenthede om die boere se landbou-ambisies aan te wakker.

Vir die organiseerders van NAMPO Kaap is die jeug belangrik en vanjaar is leerders van 20 skole in die Wes-Kaap genooi om die Nedbank-landbouskoleprogram by te woon. Hier kon hulle eerstehands ervaar watter geleenthede landbou bied.

Viervoetiges en unieke uitstallings
Die rasuitstallings in die Land Bank-veetent het produsente die geleentheid gebied om verskillende rasse teen mekaar op te weeg. Kuddetelers kon op 13 en 14 September in die BKB-veesentrum in die Merino Ope meeding, terwyl Merinostoet- en kuddetelers mekaar op 15 September die stryd aangesê het om die Vleismerino Top 10 te haal. Die Overberg-streekjeugskou het op Saterdag 16 September plaasgevind.

Perdeliefhebbers kon daagliks die optog van die­ verskillende rasse in die Fuchs-arena geniet, maar die spoggerige Suid-Afrikaanse Lipizzaners was beslis ’n hoogtepunt op die program. Fusion Horsemanship het oefentegnieke vir perde-eienaars gedemonstreer en Griffins Horse Archery het boogskutverto­nings aangebied.

Die Suid-Kaap Byebedryfver­eniging het vir die eerste keer by NAMPO Kaap kom kuier om ’n heuningskou aan te bied. Die uitstalling vir heuningmakers, waar besoekers kon proe aan die heuning en heuningwyn (mead), het ook ’n foto- en heuning­wynkompetisie ingesluit.

’n Toegewyde span agter die skerms
Graan SA se span wat gewoonlik vir NAMPO op NAMPO Park bontstaan, is ook grootliks verantwoordelik vir die hoofreëlings van NAMPO Kaap met betrekking tot die uitstallers: Dr Dirk Strydom (hoof: Bemarking, NAMPO en Navorsingskoördinering), Toit Wessels (organiseerder van NAMPO Kaap), Bennie Zaayman (bestuurder: NAMPO Park), Wim Venter (NAMPO se administratiewe beampte) en Rialeen Lombard (NAMPO se ondersteunende beampte).

In Graan SA se ledelokaal het van die organisasie se hoofbe­stuurslede – visevoorsitter Richard Krige, Rossouw Swart (streek 32), Jose de Kock (streek 26) en André Kirsten (streek 26) – navrae raken­de Graan SA-lidmaatskap hanteer.

By Graan SA se uitstalruimte in die BKB-gebou het Alta Zaayman en Sonja Coetzer verseker dat verkope seepglad verloop en dat die voorraad op die rakke aangevul word met klere, waterbottels en ander NAMPO Kaap-aandenkings.

Die span van Bredasdorp Park NPC was verantwoordelik vir die logistieke reëlings, die program, jeug- en veevertonings, die verver­singsruimtes asook die salon waar dames verskeie skoonheidsbehandelings kon ontvang. Kaartjieverkope by die toegangshekke, parkering, die vee-uitstallers en skakeling met diensverskaffers is items wat ook op hulle lys van take was. Dié span is gelei deur die voorsitter, Henk Aggenbach, met Chrystal van Wyk, Philip Morkel, Dirk Uys, Dirk Hanekom en Hendrik van Wyk (direkteure van Bredasdorp Park NPC) wat hom bygestaan het.

Alzena Gomes (kommunikasie en skakelwese by Graan SA) en Gerda Kriel (bemarkingskonsultant van Bredasdorp Park NPC) het gesorg dat sake aan die bemarkingskant vlot verloop.

’n Feesjaar wink vir NAMPO Kaap
Die vyfde NAMPO Kaap word beplan vir 11 tot 14 September 2024 in Bredasdorp. Volgens Henk sal dit ’n feesjaar wees om die ge­skiedenis te herdenk, aangesien dit die 30ste jaar sal wees wat daar ’n meganisasiegeleentheid in Bredasdorp aangebied word. Teken dit solank in die dagboek aan.

Rialeen Lombard en Wim Venter van Graan SA was Toit Wessels, organiseerder van NAMPO Kaap, se regterhande.
Een van die inskrywings vir die boereplannekompetisie wat aandag getrek het, was dié van graad 12-leerder Frederick Turner van Augsburg Landbougimnasium. Hy het die outomatiese voerder wat hy vir ’n landboutegnologie-taak gebou het, ingeskryf. Dié inskrywing was so indrukwekkend dat dit geskuif is na die senior afdeling en ’n spesiale toekenning en prysgeld ontvang het.
Een van die items wat baie voete gelok het, was die daaglikse vertonings van die pragtige Lipizzaners.
Die Minister van Landbou in die Wes-Kaap, dr Ivan Meyer, in vrolike luim op pad na ’n sessie van Nasie in Gesprek.
Buitelewe-entoesiaste kon die verskillende fabrikate en modelle op die Engen 4×4-baan in aksie sien.
Die vriendelike gesigte van Graan SA wat besoe­kers by die Graan SA-ledelokaal verwelkom het: Heleen Viljoen, Hailey Ehrenreich en MJ Swart.
’n Wandeling deur die museumtent het “geheime” van die geskiedenis onthul, soos hierdie vlootna­vigasie-instrumente.