April 2018

PIETMAN BOTHA, SA Graan/Grain redaksiespan

Die oostelike Hoëveld het besliste geleenthede, uitdagings en bedreigings wat enige produsent tot die uiterste toets. Dit is hier, in die Delmas-omgewing, waar mnr Jan Boshoff en sy vrou, Retha, hul gemengde boerdery bedryf.

Hulle fokus daarop om die boerdery só te struktureer dat beide die saai- en veevertakking inkomste genereer. Ten einde die inkomste tussen die vertakkings te balanseer, bedryf Boshoff en sy span ‘n eersteklas Bonsmarastoet. Hierdie stoet is hul trots en heelwat aandag word aan dié vertakking gegee. Die saaiboerdery bestaan uit die verbouing van droëlandmielies en sojabone, asook besproeiingsmielies, -sojabone en -ertjies.

Duur lesse geleer
Omstandighede buite jou beheer kan ‘n boerdery maklik laat ondergaan. Boshoff het dit amper oorgekom en só belangrike lesse geleer. Om aan te hou bemark en om jouself die ruimte te gee om te kan beplan, is seker die belangrikste lesse wat hy hieruit geleer het.

Deur jouself los te maak van die besigheid, dwing jou om op werknemers staat te maak. Dit het hy ten volle bemeester. Almal in hierdie onderneming moet hul kant bring om dit te laat slaag. Die Boshoffs is besonder gelukkig om ‘n seun, Chris, ‘n dogter, Ester Hertzog en ‘n skoonseun, Barry Hertzog, as deel van die span te hê.

Finansiële bestuur
Finansies en die bestuur daarvan is die slagaar van enige besigheid. Sy dogter, Ester, bestuur hierdie gedeelte van die besigheid. Begrotings word deur elke afdeling van die boerdery saamgestel en word deur haar gebruik om ‘n jaarlikse kontantvloeibeplanning op te stel.

Sy gebruik ‘n rekeningkundige program om rekord te hou van uitgawes en om seker te maak dat alle rekeninge op tyd en korrek betaal word. Finansiële bestuur gaan egter nie net oor rekordhouding nie, maar ook oor die kontrolering van die werklike uitgawes teenoor die begrote uitgawes. Op ‘n gereelde basis word die boerdery se inkomste-en-uitgawestate opgestel en vergelyk. Dit is dan ook hier waar die meeste foute opgespoor en reggestel word.

Bemarking
Die volgehoue bemarking van die besigheid is essensieel om ‘n suksesvolle stoetveiling te waarborg. Ester neem leiding ook in hierdie afdeling. Die nuutste tegnologie word aangewend om kliënte en voornemende kliënte oor alles wat op die plaas gebeur, in te lig. Sy span sosiale media in en die plaas het sy eie Facebook-blad, webwerf en Twitter-rekening. Dit hou die boerdery in pas met die tyd.

Instandhouding van werktuie
Op hierdie plaas word slim met fondse omgegaan. Die span word ingespan om dit doeltreffend te bestuur tot voordeel van die onderneming. Pa en seun, asook hul werkswinkelbestuurder, poog om die effektiwiteit van hierdie besigheid se trekkers op ‘n hoë vlak te hou.

Die Boshoffs sal soms tweedehandse trekkers aankoop, dit herstel en effektief in hul boerdery aanwend. Die boerdery het as gevolg van hierdie benadering ‘n geleentheid in die mark geïdentifiseer en nou word daar op ‘n gereelde basis implemente gekoop, herstel en weer verkoop. Hulle adverteer gereeld in die media en sodoende word groot getalle van hul toerusting gekoop en verkoop. Nie net word wins gemaak nie, maar daar word ook werksgeleenthede vir werkers geskep en onderhou.

Mynbou-aktiwiteite
Mynbou-aktiwiteite raak toenemend ‘n bedreiging en prospektering kom al hoe meer na vore. Die onvoorspelbaarheid van wanneer waar geprospekteer en gemyn mag word, maak van langtermynbeplanning ‘n groot uitdaging.

Boshoff vereis eers ‘n omgewingsimpakstudie voordat daar geprospekteer kan word.

Die Boshoffs laat egter nie toe dat dit hul van stryk bring nie en fokus op die toekoms.

Menslike hulpbronne
Effektiwiteit en winsgewendheid is op hierdie plaas van groot belang. Werknemers bly steeds die belangrikste faktor om effektiwiteit en doeltreffendheid te verhoog. Die Boshoffs doen moeite om hul werknemers se prestasie op gereelde basis te monitor en seker te maak dat hulle binne die riglyne presteer.

Goeie kommunikasie is essensieel. Gereelde vergaderings waar alle bestuurders teenwoordig is, word gehou en sodoende is alle bestuurders 100% ingelig oor wat elke afdeling se verantwoordelikhede is. Tydens vergaderings word vindingryke planne uitgeruil en kry almal geleentheid om hul planne te deel.

Stukwerk word ingespan om elke deeltydse arbeider se effektiwiteit ten beste te benut. Dit dra daartoe by dat kostes in toom gehou word en arbeiders volgens prestasie vergoed kan word. Groepsdruk verhoog die effektiwiteit van arbeid dramaties. Daar is tans spanne op die plaas wat net vir kontrakwerk aangestel word. Die spanne sal byvoorbeeld mieliekoppe optel of hul kapasiteit word vir die uitdun van bloekomplantasies aangewend.

Bestuurspraktyke
Kultivarkeuse is die eerste stap om produksie te optimaliseer. Die keuse van kultivars word gebaseer op proewe wat op die plaas en in die omgewing gedoen word. Hierdie inligting word vanaf groot insetverskaffers bekom om te verseker dat die proewe korrek gedoen word en dat die inligting op die regte manier verwerk word.

Presisieboerdery word in samewerking met Omnia ingespan om die winsgewendheid van die plaas te optimaliseer. Die effektiwiteit van produksie word met die doeltreffendheid van kapitaalaanwending gekombineer ten einde die beste winste te verseker.

Daar word veral met die toediening van onkruiddoder verseker dat die produk die beste geleentheid op effektiwiteit het. Die Delta T-meter word ingespan om die optimale tyd van toediening te bepaal. Deeglike rekords van wat waar geplant is verminder ook die kans dat die verkeerde onkruiddoder op die verkeerde gewas gespuit word.

Gewasse word volgens die behoeftes van die mark aangeplant, maar die winsgewendheid van die boerdery kry altyd voorkeur. Op die oomblik word daar gepoog om ongeveer 50% van die lande met sojabone en 50% van die lande met mielies te beplant. Hierdie wisselboustelsel het bepaalde voordele – waarvan een is om die beperkte hulpbronne optimaal aan te wend.

Ten einde risiko te verskans, word ‘n grootvee-eenheid vir elke droëland-geplante hektaar op die plaas aangehou. Verder word die gewaspryse voor-seisoen aktief bestuur en alles moontlik word gedoen om die hoogste gemiddelde pryse te realiseer. Die moontlikheid van graanopberging word ook ondersoek, maar die winsgewendheid daarvan sal dikteer of dit sal realiseer.

Kuddebestuur
Deur te poog om voortdurend beter winste te maak, sal verseker ‘n bydrae lewer om jou te ondersteun om ‘n reuse-terugslag te oorleef. In graanproduksie is winsgewendheid belangriker as opbrengs. In die stoetveebedryf gaan dit ook oor wins, maar die genetika van die kudde, asook die aanpasbaarheid van die beesras, is van kardinale belang.

Effektiewe kuddebestuur waarborg dat die veevertakking winsgewend is en dit is hier waar skoonseun Barry, as kuddebestuurder, ‘n kardinale rol vervul. Die stoet dwing die boerdery om vooruit te beplan. Die behoeftes van die toekoms moet voorspel kan word en daarvoor moet geteel word. Boshoff het in sy kudde die genetika om poena-Bonsmara-bulle te teel. In die toekoms mag hierdie eienskap dalk betreklik handig te pas kom.

Toekoms
Boshoff en sy span bestuur die besigheid om te kan aanhou groei en ook om dit van geslag tot geslag oor te gee. Met hierdie doel in gedagte word planne aktief beraam om te bepaal hoe hulle die volgende geslag in die boerdery gaan inbring sonder om die besigheid op risiko te plaas.

Hy bly groot droom, maak planne om die drome te verwesenlik, neem sy werknemers en insetverskaffers saam en laat die gemeenskap ook in sy welvaart deel. Dit dra daartoe by dat almal in die omgewing ‘n beter plek het om in te woon en te werk.

Opheffingswerk was en is Boshoff se passie. Hy het voorheen ‘n groot rol gespeel om te verseker dat plaaslike gemeenskappe finansieel ondersteun word. Omstandighede sien tans dramaties anders daaruit, maar hy poog steeds om die ontwikkelingswerk voort te sit.

Rig navrae oor hierdie artikel aan Jan Boshoff by 082 388 0912 of Pietman Botha by 082 759 2991.

Publication: April 2018

Section: On farm level