NAMPO Kaap blom in die Overberg

Persvrystelling
Gepubliseer: 19 September 2022

628

Die 3de aanbieding van NAMPO Kaap, en die grootste nog, het die pas afgelope naweek tot einde geloop. Graan SA tesame met Bredasdorp Park NPC is dankbaar vir die rekord 32,640 besoekers wat NAMPO Kaap oor die vier dae besoek het om die meer as 500 uitstallers te besigtig.

Besoekers en uitstallers was geseënd met heerlike weersomstandighede ten spyte van die reën wat die graanprodusente in die gebied so nodig het. “Dit was wonderlik om na ‘n afwesigheid van twee jaar weer ‘n NAMPO Kaap te kon aanbied,” het Toit Wessels, Graan SA se Assistent Bestuurder van NAMPO gesê. “Die positiewe terugvoer van die uitstallers in terme van besigheidstransaksies, bly egter steeds een van die belangrikste en mees akkurate maatstawe vir sukses, en die uitstallers het vir seker baat gevind by dié hoogtepunt op die Kaapse-landboukalender.

Die vele nuwe toevoegings tydens die week, en veral die Elim veldblomme-uitstalling, die Merino Classic en die groot getalle boereplanne inskrywings was almal treffers. Die dames was vanjaar heerlik verras met die opsie om na bywoning van die damesprogram, die skoonheidsalon te besoek vir ‘n bederf uit die boonste rakke terwyl die manne kon besigheid gesels.

Besoekers aan NAMPO Kaap was verstom oor die indrukwekkende Nedbank blommerangskikkings-uitstalling onder leiding van Marjolijn Malan. Vir NAMPO Kaap 2022 het Marjolijn ‘n reuse-gedekonstrueerde protea-installasie en ‘n fantasievoël wat gemaak is van volstruis- en bloukraanvoëlvere en honderde Sewejaartjies, wat ook die skaars Aarbei Sewejaartjie insluit, gebou.

Die Overberg Jeugskou was nog ‘n hoogtepunt tydens Saterdag se program. As een van agt streekskompetisies in die Wes-Kaap waaraan leerders kan deelneem om te kwalifiseer vir die Wes-Kaapse Jeugskoukampioenskappe wat tydens Maart 2023 plaasvind, was daar ‘n ongelooflike 176 inskrywings in 14 klasse ontvang. Die Merino Classic 2022 het belofte nagekom en die beste merino’s in Suid –Afrika onder een dak gehuisves vir die skou.

“Besoekers aan NAMPO Kaap was uitgehonger vir graanpraatjies en saamkuier en het behoorlik uitgesien om dit wat landbou bied, te kom beleef. Graan SA het positiewe en waardevolle gesprekke met Wes-Kaap Premier Allen Winde, sowel as die Wes-Kaapse minister van Landbou, dr. Ivan Meyer gehad,” het dr Pieter Taljaard, hoofuitvoerende beampte van Graan SA gesê. “Die waarde vir produsente om nuwe tegnologie op een platform te sien en maklik te vergelyk, kan nie onderskat word nie. Nuwe idees vir aanpassings en nuwe ontwerpe is oral oor te vind en die netwerk geleenthede met bestaande en nuwe lede en landbou rolspelers se bestuurspanne is legio”, het Taljaard afgesluit.

Die gewilde Nasie In Gesprek-platform het verskeie relevante onderwerpe waaronder Infrastruktuur: geleenthede te midde van die struikelblokke, Plattelandse herlewing: nuwe energie, Ekonomiese stampkar: bestuurder of passasier?, Wintergrane: ‘n hupstoot vir gars, Landelike veiligheid: JY is die verskil, in samewerking met Agri Wes-Kaap, en Jeug: tegnologie en strategieë vir die toekoms aangespreek is.

NAMPO Kaap 2023 is reeds in beplanning met die datum vasgestel van 13-16 September 2023 te Bredasdorp Park. Met die moontlike toekomstige betrokkenheid van ander georganiseerde landbou instansies, beloof die NAMPO Kaap platform om aan ieder en elk se behoeftes te voorsien – voorwaar dié landboutentoonstelling in die Suide.

Aansoeke vir uitstallers wat wil deel word van NAMPO Kaap 2023, open 1 Februarie 2023. Aansoekvorms en verder inligting is verkrygbaar op www.nampo.co.za of www.nampokaap.co.za

Graan SA spits nou met opgewondenheid sy aandag op die eerste NAMPO ALFA, Vee-, Jag- en Buitelewe-ekspo wat van 29 September tot 1 Oktober 2023 by NAMPO Park aangebied word. Vir meer inligting besoek www.nampoalfa.co.za.