Veterinêre strategie is belangrik vir jou

995

March 2018

GERHARD SCHUTTE, uitvoerende hoof, Rooivleisprodusente-organisasie

Dit is uiters belangrik dat die staat en die privaat sektor saamwerk om die veterinêre strategie te laat slaag ten einde volhoubare winsgewende voedselproduksie te verseker. Die uitgangspunt van die strategie is om voedselsekerheid, voedselveiligheid en dieregesondheid in Suid-Afrika te bevorder en te verseker.

Veeartsenydienste speel ‘n sleutelrol om te verseker dat die gesondheids- en welsynsvereistes vir diereproduksie en handel nagekom word. Produkte wat van diere afkomstig is, moet veilig wees vir menslike gebruik. Die huidige veterinêre strategie is ontwikkel om die gesondheid van beide diere en mense te verseker deur die ontwikkeling van toepaslike stelsels. Doeltreffende en opgeleide veeartsenydienste, wat die vermoë het om diere- en openbare gesondheidsrisiko’s te voorkom, op te spoor, te beperk en uit te roei word ook daarvolgens voorsien. Verder het die strategie ten doel om rigting te gee oor hoe die standaard van veeartsenydienste in Suid-Afrika verhoog kan word. Daar is op hierdie strategiese plan besluit nadat werkswinkels dwarsdeur die land gehou is om insette van soveel rolspelers as moontlik te bekom. Doelwitte is op grond van kort, medium en lang termyn geprioritiseer. Die grondslag van die veterinêre strategie is die versterking van die nasionale veterinêre gesag sodat beter beheer moontlik sal wees.

Korttermyndoelwitte is die vestiging van ‘n wetsondersteuningspan en nasionale risiko-ontledingstelsel asook die ontwikkeling van ‘n magtigingstelsel en onderneming van veterinêre en para-veterinêre professionele ontwikkeling.

Die ontwikkeling van ‘n gesamentlike program met die onderskeie belangegroepe is ‘n mediumtermyndoelwit, terwyl die herstel van die nasionale bevelsketting vir alle aspekte van veterinêre dienste, wat strukturele veranderinge sal meebring, ‘n langtermyndoelwit is. Hierdie strategie rus op die volgende pilare:

Versterk bevoegdhede van Direktoraat Dieregesondheid

  • Spreek die uitdagings vir die implementering van die Wet op Dieresiektes (Wet 25 van 1984) aan en verbeter die waarnemingstelsel vir dieresiektes (kort termyn).
  • Implementeer die loodsprojek vir brusellosebeheer by beeste, asook beheerprogramme vir ander dieresiektes (medium termyn).
  • Vestig ‘n doeltreffende administrasie vir dieresiektebeheer (lang termyn).

Versterk bevoegdhede vir veterinêre openbare gesondheid, voer en voedselveiligheid

  • Definieer veterinêre dienste se bydrae tot die nasionale strategieraamwerk vir antimikrobiese weerstand en raadpleeg en implementeer die strategiese implementeringsplan vir veterinêre openbare gesondheid (kort termyn).
  • Ontwikkel een wet op veterinêre medisyne en hersien die Wet op die Veiligheid van Vleis (Wet 40 van 2000) (medium termyn).
  • Vestig ‘n doeltreffende administrasie vir die voedselveiligheidstelsel (lang termyn).

Versterk bevoegdheid van veterinêre laboratoriumdiagnostiek

  • Ontwikkel die laboratoriumgoedkeuringsplan, wat Sanas-akkreditasie insluit verder (kort termyn).
  • Brei laboratoriumkapasiteit vir veterinêre dienste uit (medium en lang termyn).

Ontwikkel en implementeer ‘n stelsel vir diere-identifikasie, -aantekening en naspeurbaarheid

  • Ontwikkel deur konsultasie ‘n beleid vir die identifisering van individuele diere en die waardeketting van naspeurbaarheid, asook konsepwetgewing daarvoor. Voorsien ‘n raamwerk vir diere-identifikasie en ontwikkel ‘n staatsgereguleerde databasis (kort termyn).
  • Beproef ‘n loodsprojek vir beeste (medium termyn).
  • Ontwikkel ‘n beleid oor die aantekening van dierebeweging en toepaslike bewegingsbeheer (lang termyn).

Versterk vaardighede vir dierewelsyn

  • Werk wetgewing by en hersien dit, vestig ‘n welsynseenheid, skep ‘n strategiese implementeringsplan ten opsigte van dierewelsyn (kort termyn).
  • Ontwikkel welsynsriglyne vir die aanhou van verskeie dierespesies en -bedrywe (medium termyn).
  • Implementeer alle dierewelsynsriglyne en -standaarde (lang termyn).

Die Nasionale Dieregesondheidsforum bestaan uit lede van produsente-organisasies soos die RPO, NWKV, MPO, Samga, SAVPO en die Suid-Afrikaanse Pluimveeverenigingsprodusente-organisasie. Hierdie forum vergader elke kwartaal afsonderlik en saam met die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye om sake van gemeenskaplike belang te bespreek en oplossings te soek vir die daarstelling van voedselveiligheid en -sekerheid.

Dit is vir die forum ‘n prioriteit om die departement te ondersteun in die uitvoering van die veterinêre strategie, deur:

  • Kommunikasie tussen die departement, provinsiale veeartsenydienste en die privaat sektor word verbeter.
  • Beesbrusselose, wat deur die veterinêre strategie gekies is as die modelsiekte wat beheer moet word, word daadwerklik by wyse van gesamentlike aksies met die staat aangepak.
  • Siekterapportering word maandeliks deur die Herkouerveterinêre Vereniging van Suid-Afrika (Ruvasa) gepubliseer. Inligting kan deur vee-eienaars gebruik word om siektes voorkomend te beheer.
  • Die gevaar van antibiotikaweerstandigheid word in samewerking met die staat deur bewusmakingsaksies bestry.
  • Die belangrikheid van die akkreditasie van laboratoriums wat brusellose, asook ander staatsbeheerde toetse moet uitvoer, word saam met die staat bespreek.
  • Die Nasionale Dieregesondheidsforum ondersoek saam met die departement maniere om ‘n diere-identifikasie- en naspeurbaarheidstelsel vir Suid-Afrika te vestig.

In Julie 2017 het die Minister van Landbou ‘n nuwe raad by Onderstepoort Biologiese Produkte aangestel. Hierdie raad bestaan uit kundiges uit die bedryf. Dit het ten doel om die vervaardiging en voorsiening van entstowwe reg te ruk. Daar word met groot verwagting uitgesien dat hierdie uitstaande vervaardigingsprogramprojek effektief geïmplementeer sal word om die nodige entstowwe vir die bedryf te kan lewer. Daar word al klaar stelsels geïmplementeer om seker te maak dat die gehalte van die entstof op standaard is en dat dit beskikbaar sal wees soos dit benodig word. Die raad vorm ook deel van die veterinêre strategie ten einde volhoubare winsgewende voedselproduksie te verseker.
Publication: March 2018

Section: Relevant