Heffing sal sojaboonbedryf ‘n hupstoot gee

1082

March 2018

VALERIE CILLIERS, SA Graan/Grain medewerker

‘n Teling-en-tegnologieheffing kan eersdaags op sojabone gehef word om die negatiewe impak van teruggehoue saad op die bedryf teen te werk. Hoewel produsente in die eerste jaar al R65/ton met lewering sal moet betaal, is rolspelers in die bedryf dit eens dat produsente voordeel sal trek, aangesien só ‘n heffingsmodel nuwe tegnologie en kultivars na Suid-Afrika sal bring. Soortgelyke heffings word reeds sedert 2016 op gars en koring gehef.

Volgens mnr Corné Louw (senior ekonoom, Graan SA) was ‘n wedersydse oplossing nodig om veral internasionale saadmaatskappye aan te spoor om nuwe kultivars na Suid-Afrika te bring. Hy sê dat daar volgens SANSOR ongeveer 80% van soja-aanplantings en 70% van koringaanplantings jaarliks met teruggehoue saad aangeplant word. “Hierdie praktyk verhoed dat nuwe kultivars en die nuutste tegnologie na Suid-Afrika toe kom, aangesien saadmaatskappye nie genoegsame waarde vir hul beleggings kry nie.”

Louw verduidelik dat oopbestuifde gewasse soos koring, gars en sojabone wettiglik ná ‘n oes teruggehou mag word met die doel om dit weer te plant. “Die genetiese potensiaal van die saad word geensins geaffekteer nie en dit beteken dat saadmaatskappye net met die aanvanklike verkoop van die saad voordeel daaruit trek. Met die voorgestelde tegnologieheffing sal hierdie maatskappye vergoeding vir hul intellektuele eiendom in die saadbedryf kan ontvang,” vertel hy.

Volgens SANSOR neem dit saadmaatskappye ongeveer twaalf jaar en heelwat kapitaalinvestering om ‘n nuwe kultivar mark toe te bring. Louw vertel dat Monsanto byvoorbeeld sojaboontegnologie (Roundup Ready 2) ontwikkel het wat opbrengs met tussen 10% en 15% kan verhoog. Hierdie, sowel as Dicamba-verdraagsame sojabone, is al ‘n geruime tyd op internasionale markte beskikbaar. “Indien die teling-en-tegnologieheffing goedgekeur word, sal dit vir maatskappye soos Monsanto lonend genoeg wees om hierdie nuwe tegnologie ook na Suid-Afrika toe te bring. Die skaal waarop saad teruggehou word, maak dat dit tans nie moontlik is nie.”

Aanvanklik is ‘n industriekomitee bestaande uit lede van Graan SA, SANSOR, Agbiz Grain, die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, die Landbounavorsingsraad (LNR) en die onderskeie forums saamgestel om hierdie proses aan die gang te kry. Stelsels en modelle wat in ander lande gebruik word om kultivarontwikkeling te finansier is ontleed en daar is gevind dat navorsingsheffings met groot sukses in ‘n aantal ander lande ingesamel word.

Daar is uiteindelik besluit op ‘n eindpunttantiemestelsel (end point royalty-program), waar die produsent ‘n heffing betaal wanneer gewasse gelewer word. Volgens Louw word ‘n soortgelyke stelsel reeds sedert 1996 uiters suksesvol in Australië bedryf. “Ons het die stelsel wel vir Suid-Afrikaanse omstandighede aangepas.”

Hy verduidelik dat ‘n sojaboonprodusent by die leweringspunt/silo sal rapporteer watter kultivar gebruik is en van watter maatskappy die saad bekom is. Elke saadmaatskappy sal dan volgens sy markaandeel vergoed word. Hierdie aandeel sal op grond van saadverkope, verklarings van lewerings deur produsente en onafhanklike opnames, bereken word. Die heffings en vergoeding sal deur die South African Cultivar and Technology Agency (SACTA) geadministreer word.

“Só word verseker dat maatskappye hul beste produkte en tegnologie na Suid-Afrika toe bring. Die stelsel het ten doel om seker te maak dat die stelsel die maatskappye wat die beste en mees geplante kultivars in die mark het, vergoed. Hoe meer produsente hul saad gebruik, hoe groter word hul markaandeel. Dit is dus ‘n prestasiegedrewe stelsel waarin ‘n saadmaatskappy sal meeding vir die grootste aandeel. So word die vryemarkstelsel in die bedryf bevorder en nuwe toetreders getrek,” verduidelik hy.

Die heffing wat vir die boekjaar (1 Maart 2017 tot 28 Februarie 2018) voorgestel word, is reeds aan die einde van 2016 aan die Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR) voorgelê. ’n Aanbeveling is aan die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye oorhandig en die hoop bestaan dat die statutêre heffing teen Maart goedgekeur en in werking gestel sal word.

Dieselfde model word nou vir die tweede jaar op die lewering van gars en koring toegepas. Produsente betaal tans R25/ton vir gars en koring wat gelewer word. Die voorgestelde tantieme vir sojabone is R65/ton vir die eerste en R80/ton vir die tweede jaar.

Louw sê die teling-en-tegnologieheffingstelsel kan gebruik word om kultivarontwikkeling in bykans alle oopbestuifde gewasse te befonds. Hy sê saadmaatskappye kan met ‘n sojaboonoes van 1 miljoen ton deur middel van die heffing R65 miljoen ontvang – beslis genoeg rede om in kultivarnavorsing en die lewering van nuwe tegnologie in Suid-Afrika te belê.

Publication: March 2018

Section: Focus on