March 2018

LUAN VAN DER WALT, landbou-ekonoom, Graan SA

In Deel 1 van die reeks, wat in die Februarie-uitgawe van SA Graan/Grain verskyn het, is daar meer gefokus op wat na-stroopbemarking behels en waarom dit vir produsente van belang is om na-stroopbemarking te oorweeg.

Hierdie gedeelte van die reeks sal meer fokus op die faktore waarop gelet moet word wanneer produsente na-stroopbemarking van geproduseerde graan oorweeg.

Die bemarking van graan speel ‘n uiters belangrike rol in die winsgewendheid van ‘n boerdery en dit is noodsaaklik vir produsente om goeie en oordeelkundige bemarking van die grane te oorweeg. Wanneer daar na bemarking van graan verwys word, is daar verskeie alternatiewe wat oorweeg kan word. Hierdie alternatiewe strek vanaf voor-seisoenverskansing en kontraktering tot en met na-seisoenbemarking waar daar ook verskeie strategieë gevolg kan word.

Dit is egter vir produsente belangrik om die verskillende aspekte, soos die risiko’s verbonde aan die gebruik van die verskillende strategieë in gedagte te hou.

Prys- en risikobestuur 
Die volatiliteit van die plaaslike klimaat en graanmarkte wat die afgelope paar jaar beleef is, het die kollig weer opnuut op die bemarking en veral voor-seisoenverskansing van grane geplaas.

Alhoewel die voor-seisoenverskansing en kontraktering van graan vir die produsent goeie geleenthede bied om beter pryse te realiseer as om tydens strooptyd te bemark, hou hierdie tipe van bemarking ook ander risiko’s, soos produksierisiko, vir produsente in.

Produksierisiko verwys na die moontlikheid dat die produsent minder tonne van die gewas kan stroop as wat verskans is met voor-seisoenkontraktering. Dit kan ‘n negatiewe impak op die produsent se kontantvloei hê, aangesien die produsent aanspreeklik gehou word vir die balans van die tonne wat nie op die kontrak gelewer kon word nie.

Die afgelope paar seisoene was die omstandighede – veral tydens planttyd – uiters uitdagend en het die produsente dit met moeite hanteer. Die aanplantings was, veral in die westelike gedeeltes van die land, laat en produsente kon nie altyd van gunstige prysgeleenthede in die mark gebruik maak vir voor-seisoenkontraktering nie, as gevolg van die produksie-onsekerheid wat geheers het.

Hierdie produsente bevind hulle in uitdagende omstandighede, aangesien die tydstip wanneer die produsente meer sekerheid rakende die verwagte produksie vir die seisoen het, die mark alreeds oorwegend in ‘n sekere rigting begin beweeg het – afhangende van die seisoen se omstandighede wat heers.

Oor die algemeen is die pryse onder normale toestande geneig om gedurende strooptyd laer te wees, aangesien die grootste hoeveelheid van die graan gedurende daardie tydperk gelewer word – wat beteken dat dié produsente wat nie betyds voor-seisoenkontraktering kon doen nie, die meeste van die tyd die graan verkoop wanneer die pryse laer as die gemiddeld is. Produsente moet dan na-stroopbemarking van grane oorweeg.

Kontantvloei
Kontantvloei is een van die belangrikste aspekte in enige besigheid en dit is noodsaaklik dat produsente moet omsien na hul kontantvloeibehoeftes en die bestuur daarvan.

Na-stroopbemarking kan verskeie impakte op kontantvloei hê – veral wanneer produsente besluit om die graan op te berg as ‘n strategie om munt te slaan uit moontlike positiewe prysbewegings deur die loop van die seisoen.

Dit sal veroorsaak dat produsente nie noodwendig tydens stroop­tyd kontant-invloei ontvang nie, maar dat hierdie kontant-invloei eers later deur die loop van die seisoen sal geskied, soos die graan verkoop word.

In ‘n groot aantal gevalle het produsente nie noodwendig die finansiële kapasiteit om die graan vir lang tydperke te stoor nie, vanweë verpligtinge soos produksierekeninge wat vereffen moet word. Dit plaas produsente in die situasie waar hulle noodgedwonge die graan tydens strooptyd moet verkoop of kort daarna en dan is dit vir hulle ‘n uitdaging om voordeel te trek uit voordelige prysbewegings soos die seisoen vorder.

In hierdie geval kan produsente alternatiewe strategieë oorweeg, wat die gebruik van afgeleide instrumente op Safex insluit, om moontlik voordeel te trek uit gunstige prysbewegings deur die loop van die seisoen.

Wees vertroud met die prysvlakke
Dit essensieel dat produsente goed vertroud moet wees met die produksiekoste, asook die hoeveelheid wins wat hul graag vir die seisoen sal wil realiseer. In Tabel 1 word ‘n hipotetiese plaas gebruik waarin die aanname gemaak word dat die produsent 1 000 ha witmielies plant en die totale koste van produksie ongeveer R8 700/ha beloop. Die produsent het ‘n gemiddelde opbrengs van 5 t/ha behaal, wat die totale produksie op 5 000 ton mielies vir die seisoen te staan bring. Tabel 1 toon die totale koste van produksie, asook die gelykbreek-produsenteprys vir die seisoen.

Tabel 2 toon die minimum Safex-prys waarteen die produsent moet verkoop om ‘n sekere persentasie wins te realiseer. Dit is duidelik uit Tabel 2 dat indien ‘n produsent vir ‘n 30% winsmarge mik, die minimum Safex-prys waarteen hy kan verkoop, ongeveer R2 462/ton moet wees – gegewe ‘n gelykbreek-produsenteprys van R1 740/ton en ‘n gemiddelde basis-aftrekking van R200/ton.

Dit is daarom noodsaaklik dat produsente op hoogte is met hul produksiekoste, sowel as die minimumprys wat moet realiseer om ‘n sekere winsgrens te bereik. Dit kan tot ‘n groot mate bydra tot meer objektiewe besluitneming, omdat die produsent beter besluite kan neem indien die mark teen sekere prysvlakke verhandel.

Die koste en minimum Safex-pryse in die tabel sluit nie ander koste soos stoorkoste en rentekoste in nie, maar slegs die produksiekoste van die plaas.

Ten slotte
Daar is ‘n paar kernaspekte wat produsente in gedagte moet hou wanneer hul besluite neem rakende spesifieke bemarkingstrategieë, waar die risiko verbonde aan die strategie wat hulle gebruik van kardinale belang is.

Die eerste oorweging vir ‘n bemarkingstrategie moet wees om ‘n beter prys vir die geproduseerde produk te realiseer, met die laagste moontlike risiko daaraan verbonde. Produsente moet egter die marksituasie in geheel in ag neem en veral klem lê op die relevante fundamentele faktore wat die markpryse bepaal.

Goeie bemarkingsplanne is ook van kardinale belang en produsente moet vir hulself bemarkingsplanne met realistiese doelwitte stel, wat ‘n bydrae sal lewer tot makliker besluitneming wat die emosie grootliks daaruit kan haal.

Die volgende aflewering in die reeks sal fokus op verskillende alternatiewe wat oorweeg kan word wanneer daar na na-stroopbemarking gekyk word.
Publication: March 2018

Section: On farm level