December 2016

ANDRÉ NEL, onafhanklike akkerboukundige en HENDRIK SMITH, bewaringslandboufasiliteerder: Graan SA

Te oordeel aan die bevindings van ‘n omvattende internasionale studie is die Hoëveldklimaat, waarbinne die somersaaigebied lê, besonder gunstig vir opbrengsver hogings met geenbewerking. Om sukses met geenbewerking te behaal, moet dit nie in isolasie toegepas word nie, maar saam met twee praktyke van bewaringslandbou, te wete die behoud van ‘n deklaag van oesreste en die toepassing van wisselbou.

Akkerboukundige handboeke van sowat 90 jaar gelede het grondbewerking as ‘n vereiste vir suksesvolle gewasproduksie beskryf. Die hoofdoel was om die grond los te maak (to pulverise the soil). Grond word ook bewerk om gewasreste in te werk, onkruid te vernietig, kompaksie en grondkorse op te hef, die waterinfiltrasietempo tydelik te verhoog en chemikalieë soos kunsmis en kalk in te werk.

Intussen is bevind dat bewerking wat die grond losmaak verskeie ernstige nadelige gevolge het. Die eerste nadelige gevolg is die ver nietiging van grondkoolstof – wat onmiddellik ‘n afname of vernietiging van die grond se struktuur en aggregaatstabiliteit meebring.

Die resultaat hiervan is onder andere ‘n skerp afname in die grond se infiltrasie- en waterhouvermoë, asook ‘n toename in waterafloop en die grond se erosietempo – wat in die meeste gevalle onder graanverbouing in Suid-Afrika die grondvormingstempo ver oortref.

Die uiteindelike nadelige gevolg is ‘n afname in die kwaliteit of gesondheid van die grond weens die versteuring van die grond se ekologie. Eenvoudig gestel verloor die grond sy vermoë om self te herstel, te verbeter en vrugbaar te bly – en dus ‘n ononderhandelbare deel van sy produktiwiteit.

Een van die resultate hiervan is ‘n verhoging in die voorkoms van plae en siektes wat gewoonlik ongesiens die produktiwiteit van gewasse benadeel. Kortom is besef dat bewerking, ten spyte van die praktiese voordele wat dit inhou, die langtermynvolhoubaarheid van graanproduksie ernstig ondermyn.

Sommige landbouers het tot die besef gekom dat geenbewerking (of minimale grondversteuring) al manier is om dié onder my – ning s proses om te keer, die grond te bewaar, te verbeter en volhoubare graanproduksie te bevorder. Weens die toegewyde ywer van dié landbouers het bewaringsbewerking eers die lig gesien – en meer onlangs bewaringslandbou met geenbewerking (of minimum grondversteuring) – as een van drie beginsels wat saam toegepas word.

Die strewe na volhoubaarheid in die landbou het só toegeneem dat bewaringslandbou tans op ‘n geskatte 157 miljoen ha wêreldwyd toegepas word. In Suid-Afrika word ongeveer 1,75 miljoen ha grond deur bewaringslandbou benut, waarvan die grootste gedeelte in die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal is (rondom 80%), terwyl gemiddeld rondom 20% van produsente in die Hoëveld dit toepas.

Geenbewerking op sigself het bewese besigheidsvoordele indien dit met tradisionele bewerking van die grond vergelyk word. Die belangrikste voordeel is dat geenbewerking ‘n aansienlik kleiner belegging in en bedryfskoste van trekkers en implemente vereis.

Die belegging in trekkers is gewoonlik minder as 50% van die belegging in trekkers vir konvensionele bewerking. Vir ‘n groot persentasie produsente is die belangrikste oorweging in die oorskakeling na geenbewerking geleë in die besparings.

Die vraag waarmee hierdie produsente aanvanklik worstel, is hoe die graanopbrengs en ekonomie van gewasse gaan verander teenoor dít wat met konvensionele bewerking behaal word. Gaan dit dieselfde bly, verhoog, of kan ‘n laer opbrengs en winsgewendheid verwag word?

Vir die ekonomiese voortbestaan van die produsent is hierdie vraag krities, want dikwels word geenbewerking as besparingsmaatreël geopper sonder dat ‘n uitspraak oor die verwagte opbrengs- of winsverandering gemaak word.

Plaaslike navorsing oor wat met graanopbrengste gebeur indien van konvensionele grondbewerking na geenbewerking oorgeskakel word, is onvoldoende. In 2015 is ‘n plaaslike studie gedoen wat aandui dat konvensionele landbou se winsgewendheid oor die volgende dekade in duie gaan stort, terwyl bewaringslandbou die vermoë het om graanverbouingstelsels weer te stabiliseer en winsgewend te maak (Blignaut et al., 2015).

Gedurende 2015 het ‘n groep internasionale landboukundiges ‘n studie voltooi en gepubliseer waarin die opbrengsresultate van 678 geenbewerkingsproewe wat in 63 lande uitgevoer is, saamgevat word (Pittelkow et al., 2015). Die gevolgtrekkings van dié studie is uiters interessant, bevestig sekere vermoedens en is besonder bemoedigend vir graanproduksie in die Hoëveldklimaatstreek.

Die eerste bevinding is dat omgewingsfaktore die opbrengs van geenbewerkte – in vergelyking met konvensioneel-bewerkte – gewas se sterk beïnvloed. Geenbewerking, in vergelyking met kon vensionele bewerking, kan gevolglik onder bepaalde omstandighede tot ‘n opbrengsverhoging aanleiding gee, elders geen verandering meebring nie of in ander omstandighede tot ‘n daling lei. Die omstandighede waarna hier verwys word, is die geografiese ligging en klimaat.

Volgens die studie is die opbrengste van geenbewerkte gewasse in die nat semi-humiede klimaatstreke van die trope gewoonlik laer as dié van konvensioneel-bewerkte gewasse. In die droë semi-ariede klimaatstreke van die subtrope daal opbrengste nie, maar is dit gelyk aan of hoër as opbrengste met konvensioneel-bewerkte gewasse weens, onder andere, die verbetering in die onderskepping, bewaring en gebruik van reënwater.

Hierdie bevinding is goeie nuus vir die Hoëveldklimaatstreek waar die meeste van ons mielies verbou word.

Die hele somersaaigebied is in die subtrope geleë en die klimaat is droog – dit wil sê die gemiddelde jaarlikse evapotranspirasie is meer as twee keer die jaarlikse gemiddelde reënval. Water, of dan reën, is die belangrikste opbrengsbeperkende faktor vir graan verbouing in dié gebied.

Sommige bronne beskryf die klimaat as semi-aried terwyl ander die oostelike Hoëveld as “droog semi-humied” beskryf. Uit ‘n geografiese en klimatologiese oogpunt beskou, kan ons dus verwag dat gewasse – waarskynlik met uitsonderings – beter onder geenbewerking as onder konvensionele bewerking gaan presteer.

Hoëveld ideaal vir geenbewerking

Hoëveld ideaal vir geenbewerking

Van ons eie navorsingsresultate, wat meestal deur die Mielietrust befonds en op plase gedoen is, bevestig hierdie bevinding.

Van nader beskou, is daar natuurlik ook ander faktore wat die opbrengsreaksie van gewasse in die klimaatstreek beïnvloed. ‘n Mens moet natuurlik altyd besef dat die toestand van grond, asook die kwaliteit van toepassing op bewaringslandbou, ‘n groot rol in die sukses speel. Wat laasgemelde betref, is die soort gewas, hoe lank geenbewerking of wisselbou, insluitende dekgewasse, al toegepas word en of die integrasie van vee deel van die stelsel is en of ‘n deklaag van oesreste voldoende teenwoordig is, belangrike praktyke wat behoorlik toegepas moet word.

By mielies speel die aantal jare wat geenbewerking ononderbroke op die grond toegepas is, ‘n groot rol. Gedurende die eerste sowat twee tot drie jaar van geenbewerking kan die opbrengs van mielies daal – veral as dit op gedegradeerde grond toegepas word. Daarna is dit gewoonlik gelyk aan of hoër as dié van konvensioneel- bewerkte grond.

In teenstelling met mielies word die opbrengs van katoen, peulgewasse soos sojabone en oliesade soos sonneblom nie deur die aantal jare van geenbewerking beïnvloed nie. Die aanvanklike opbrengsdalings soos wat dikwels met mielies die geval is, is by dié gewasse afwesig.

Hieruit is reeds twee belangrike lesse te leer. Eerstens is dit sinvol om geenbewerking met ‘n alternatiewe gewas – verkieslik ‘n peulgewas soos sojabone – te begin en dan eers in jaar twee mielies te vestig.

Hiermee word die tydperk van ‘n moontlike mielie-opbrengsdaling met een jaar verkort. Omdat feitlik al die graanverbouingsgronde in die Hoëveld gedegradeer is as gevolg van die verlies van grondkoolstof deur dekades se oormatige grondversteuring, is dit ‘n goeie praktyk om die grond se fisiese en chemiese beperkings soos kompaksie en grondversuring eerstens op te hef en dan biologies te stimuleer.

In hierdie opsig word ‘n dekgewas soos voersorghum of ‘n geskikte somer- en/of winterdekgewasmengsel as eerste geen bewer kinggewas gevestig om die grond (biologies) te verbeter en meer oesreste op die oppervlak te kry.

Die tweede belangrike les is dat grond wat na geenbewerking oorgeskakel is, nie na enkele jare vir een of ander twyfelagtige rede weer bewerk moet word nie. Soms word aanbeveel dat geenbewerktegrond elke derde of vierde jaar wel bewerk moet word. Indien dit bewerk word, word die kwaliteits- of gesond heidsverbetering van die grond weer ongedaan gemaak en bestaan die moontlikheid dat mielie-opbrengs weer kan daal.

Dit neem jare om die kwaliteit van die grond te verbeter, terwyl bewerking dit onmiddellik agteruit laat gaan.

Volgens die studie is die behoud van ‘n deklaag van gewasreste op die grond en wisselbou ook onlosmaaklik deel van die sukses van geenbewerking in droë klimaatstreke. Sonder dié twee praktyke word ‘n deel van die potensiële graanopbrengs met geenbewerking prysgegee. Wisselbou en die behoud van oesreste op die grond is daarom twee belangrike beginsels van bewaringslandbou.

Die beweiding van oesreste is ‘n gevestigde praktyk op die meeste plase en die verandering van konvensionele na geenbewerking kan ‘n aanpassing van die veevertakking vereis. Die oorbenutting van oesreste vir vee wat die grond kaal laat moet dus vermy word, maar die holistiese benadering van bewaringslandbou bied weer eens ‘n oplossing.

Deur die insluiting en benutting van dekgewasse – verkieslik deur ultra-hoë beweidingspraktyke – kan grond, asook die produktiwiteit, winsgewendheid, risiko en veerkragtigheid van die stelsel nog vinniger verbeter word.

In Pittelkow et al. (2015) se omvattende studie het die rol van grondeienskappe soos die tekstuur in die reaksie van gewasse op geenbewerking ongelukkig nie aandag gekry nie. Inligting oor die grond waarop die geenbewerkingsproewe gedoen is, was gebrekkig.

Grondtekstuur speel ‘n groot rol in die sukses van geenbewerking. Uit ons eie ondervinding en navorsing weet ons dat geenbewerking op leem- en kleigrond met groot sukses toegepas word en dat dit die impak van droogtes gedurende Januarie en Februarie drasties kan versag.

Op sandgrond, veral dié met minder as 10% klei wat met gemak verdig, is sukses met geenbewerking nie ‘n gegewe nie en sal bewaringsbewerking waar die bewerking tot die minimum beperk word, waarskynlik eerder of aanvanklik suksesvol wees. Ons uitdaging is om vas te stel wat die minimum vereiste is en watter bewaringslandboustelsel in hierdie toestande die beste werk en oor die lang termyn volhoubaar is.

Geenbewerking is een van die beginsels van bewaringslandbou wat nie noodwendig slaag as die ander beginsels, soos wisselbou en die behoud van ‘n deklaag van oesreste, nie daarmee saam toegepas word nie. Geenbewerking moet nie in isolasie oor weeg of toegepas word nie, maar as deel van ‘n holistiese bewaringslandboustelsel gesien word.

Dit is verder essensieel dat die produsent wat van konvensionele bewerking na bewaringslandbou wil oorskakel, die moontlike aanpassing van die veebedryfsvertakking op die plaas ook toepas.

‘n Belangrike stelling in die omvattende studie is dat plaaslike navorsing noodsaaklik is om akkerboukundige riglyne vir geenbewerking daar te stel. Tans is daar ‘n sterk aanduiding dat die plantestand en rywydtes van mielies aangepas moet word om produksie te optimaliseer.

Ander aspekte soos die identifikasie van geskikte kultivars, die integrasie van dekgewasse en die veebedryfsvertakking, die verandering in die bemestingsbehoefte en plaag- en siektebeheer behoort ook ondersoek te word.

Bronne

Blignaut et al. 2015. Promoting and advancing the uptake of sustainable, regenerative, conservation agriculture in the maize production sector. Development Bank of Southern Africa, Green economy policy brief series.
Pittelkow et al. 2015. When does no-till yield more? A global meta-analysis. Field Crops Research 183:156 – 168. (http://dx.doi.org10.1016/j.fcr.2015.07.020)

Publication: December 2016

Section: On farm level