February 2018
Beste Grootneef
Kerstyd se persente is lankal vergeet, opgeëet of in ‘n kas gepak. Nuwejaar tot Kersfees is immers nie dieselfde as Kersfees tot Nuwejaar nie.
Die een Krismis-geskenk wat ons egter bybly, is die blou koek met die blik ertjies, mooi regop in die middel geplant. Dié is net voor die Desembervakansie deur ‘n dankbare moeder aan Juffrou afgegee, om dankie te sê vir al die moeite om Pietie deur Graad 1 te kry. Vir beide juffrou en leerder was dit ‘n tawwe jaar, met die slaagpunt meer uit genade as uit verdienste.
Die trotse moeder vertel toe ook dat die blou koek eintlik bedoel was as ‘n red velvet-vrugtekoek. Maar hoe gemaak as daar nou net blou kleursel in die spens is? Die blik ertjies was ook naby genoeg aan ‘n vrug om by die koek te voeg. Ou Neef, die blou koek was op die ou end ewe lekker! Met so ‘n KWV-dampie. Die trotse ma het duidelik ‘n swaar hand vir ‘n goeie saak gehad!
Die blik ertjies staan egter nog boepens op die kombuiskas en wag vir beter dae. Met nadere ondersoek oor die blik se herkoms, sou dit blyk dat die blik reeds vir 24 jaar ‘n trotse deel van die Suid-Afrikaanse demokratiese bedeling is. ‘n Egte, regte 1994-blik uit die jaar van die Groot Verkiesing. Ou Neef, om na 24 jaar in ‘n vrugtekoek te eindig, is nie enige blik ertjies beskore nie.
‘n Blik ertjies kan egter ook verswarend wees. Buurman vertel van die ou oom wat moes getuig in die saak waar sy wederhelf van winkeldiefstal aangekla is. Die tante het na bewering ‘n blik perskes gegaps. Die landdros het die saak geduldig aangehoor en toe soos volg uitspraak gelewer: In die blik was ses perskes, daarom kry die tante ‘n opgeskorte vonnis van ses maande. Die landdros vra toe of die oom iets sou wou byvoeg om as versagtende omstandighede in ag geneem te word. Die oom was dadelik op sy voete met die getuienis dat die tante ook ‘n blik ertjies in haar sak gedruk het.
Buurman vertel dat die uiteinde van die saak was dat die egskeiding buite gemeenskap van goedere geskik is. En dat die oom in die plaaslike kliniek behandeling ontvang het, nadat vreemde vlieënde blikke ertjies hom teen die agterkop getref het.
Buurman se gróót nuus is egter dat hy op hete kole staan en wag vir terugvoer, nadat hy by die Universiteit van die Lewe aansoek gedoen het. Dit nou ná die nuus van gratis onderrig vir algar wat in Desember bekendgemaak is. Buurman vertel dat hy destyds die leerdery moes los as gevolg van moeilike maths, physics en die bittere droogte op die plaas. Maar hy wou nog altyd gaan klaarmaak en dit klink of die kans nou daar is om ‘n eerste jaar gratis te doen.
Buurman is veral opgewonde oor die vooruitsig om vlot te bou, joolkoninginne te kies en vir die koshuis se rugbyspan uit te draf. Hulle moet net stadig uitdraf, want hoewel hy ‘n jong 67 is, kan dit tog ‘n tydjie vat om tot op die middellyn te kom. Die aanbod van ‘n gratis universiteitslewe sonder om daarvoor op te dok, is te goed om te versmaai. Dit klink ook of dit niemand sal pla as die historiese en akademiese jaartalle van studente ‘n afwyking toon nie – want dit sal gratis wees. Buurman sê dit is die naaste aan die Paradys wat ‘n mens op aarde kan kom, solank die akademie net nie inmeng met die sosiale en kulturele aktiwiteite nie.
Ou Neef, met al die kwalifikasies wat Buurman beplan, beginnende met ‘n graad in Menseregte, klink daar ook nie fout te wees nie. Die moeilikheid is net, indien kampusse ‘n mynveld raak met elke Jan Rap en sy maat wat instap, sal die beste proffies mettertyd die hasepad vat. En wie bly dan oor om die kennis van goed en kwaad aan die jongspan oor te dra?
Groete op die Oosgrens!
Publication: February 2018
Section: Features