Genereer jou eie data met proewe

Magda du Toit, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 12 Desember 2022

467

In die afdeling vir mielies wat op watertafelgronde verbou word, is Petrus Roux van die plaas Kromvlei net buite Hoopstad as wenner in die Groei vir Goud Nasionale Opbrengskompetisie aangewys.

Hy het die eerste plek behaal met ’n opbrengs van 11,73 t/ha met die Pannar-baster, PAN 3R-224YHR – in die eerste jaar wat hy aan die kompetisie deelgeneem het. In die 2021/2022-seisoen het hy in totaal 300 ha van dié baster geplant. Hy het op 7 November 2021 geplant en oor ’n tydperk van ’n paar weke gestroop – van Mei tot middel Julie 2022.

Petrus plant mielies, sojabone, sonneblom en grondbone en boer ook met beeste en wild. Hy pas ’n wisselbou­stelsel toe wat op ’n 50/50-beginsel gebaseer is. Hy plant 50% van sy grond met mielies en die ander 50% word verdeel tussen grondboon-, sojaboon- en sonneblomaanplantings.

Die gedeelte wat ingeskryf is, is op Clovelly-grond geplant met ’n keerlaag op 2,1 m. Die grootste gedeelte van Petrus se plaas is op watertafelgronde en volgens hom is dit belangrik om dit korrek te bestuur. Die watertafelgrond het ’n voghoudende kleikeerlaag op ’n gemiddelde diepte van 1,5 m tot 2,5 m wat keer dat die vog buite bereik van die plant se wortels wegsypel. “In droogtejare is dit ’n groot seën, maar in nat jare kan dit versuipskade meebring as die afloop nie bestuur word nie,” sê Petrus.

Petrus Roux en sy seuns, Toeka en Wian, op die plaas Kromvlei net buite Hoopstad.

Bewerkingspraktyke wat werk
Na stroop los Petrus die oesreste op die lande om vog te bewaar en windskade te verminder. Hoewel hy ’n veekomponent het, bewei hy nie die oesreste nie. Hy pas verminderde bewerking toe en doen net ’n skeurtandbewerking op die plantrye. Die onkruidbeheer in die mielie-aanplantings, insluitend die spesifieke gedeelte wat ingeskryf is, het bestaan uit ’n bespuiting van 1 ℓ terbutielasien gemeng met 1 ℓ Roundup en 100 mℓ mesotrioon voor plant en ’n tweede bespui­ting wat bestaan het uit 400 mℓ Sulcozine gemeng met 1 ℓ atrasien na plant.

Hy het ’n mengsel van 150 N (stikstof), 30 P (fosfor) en 25 K (kalium) deur die seisoen toegedien. Voor plant het hy al die P toegedien, 60% van die K en 40% van die N. Die res van die K en N het hy breedwerpig as ’n topbemesting uitgestrooi na opkoms, terwyl die plante nog klein genoeg was vir die toerusting om daaroor te beweeg sonder om dit te beskadig.

Sy grond word elke vier jaar ontleed en grondregstellings word dan daarvolgens uitgewerk en gedoen. In ooreenstemming met die regstellings word die kunsmis elke jaar variërend toegedien.

Die afgelope seisoen se reënval was baie eweredig verspreid. Die eerste reën (67 mm) het in Oktober geval. Daarna het in November 33 mm, in Desember 119 mm, in Januarie 74 mm, in Februarie 32 mm, in Maart 38 mm en in April weer 146 mm geval, wat hom ’n totale reënval van 509 mm vir die seisoen gegee het. “Ons gemiddelde reënval van Oktober tot einde April is 400 mm. Ons het dus meer reën ontvang in die afgelope seisoen.”

Hoewel opbrengs vir Petrus belangrik is, is dit vir hom net ’n gedeelte van die totale winsprentjie. “Winsgewendheid word deur insetkoste, opbrengs en die prys wat jy op die ou einde vir jou graan kry, bepaal. Daar moet altyd ’n fyn balans gehandhaaf word.”

In die toekoms sal hy graag nog meer wil fokus op die gebruik van tegnologie in sy boerdery. “Ek wil graag tegnologie gebruik om insetkoste te spaar en om opbrengs te verhoog. Ek dink ek sal ook tegnologie kan gebruik om my belangrikste hulpbron, naamlik grond, te verbeter en te bewaar.”

Raad aan medeprodusente
Petrus glo daarin om self proewe op die plaas te plant, maar gebruik ook die resultate van ander proewe wanneer hy besluite moet neem. Sy raad aan medeprodusente en veral jong boere sal wees om eie proewe op hul plase te plant. “Dit is belangrik om nuwe produkte op jou plaas onder jou bestuurspraktyke en omstandighede te toets. Dit is net so belangrik om tydig te wees met bewerkings.”

Verder meen hy dit is ook belangrik om na raad van medeprodusente wat jy vertrou, te luister. “Baie van hulle het reeds die skoolgeld betaal en dit is nie nodig om die wiel weer te ontwerp nie. ’n Mens kan altyd leer deur ander se ondervinding.”

Petrus sluit af deur te beklemtoon dat boerdery geloof in praktyk is.