December 2017

LOUISE KUNZ, SA Graan/Grain medewerker

Sowat 350 produsente uit sentraal Suid-Afrika het die 14de Senwes Toekomsfokusdag op 27 September op NAMPO Park buite Bothaville bygewoon. Dié geleentheid, wat in die Nasie in Gesprek-formaat aangebied is, met die tema, Landelike gemeenskapsamewerking, het die kollig laat val op samewerking tussen plaaslike gemeenskappe, besighede, munisipaliteite en produsente.

Die paneelbespreking is voorafgegaan deur kort boodskappe van die verteenwoordigers van Senwes, Graan SA en die Jongboer­komitees van Vrystaat Landbou en Agri Noordwes. Mnr Luan van der Walt (landbou-ekonoom: Graan SA) het jongboere aangemoedig om by georganiseerde landbou betrokke te raak.

“‘n Ware leier neem nie net verantwoordelikheid vir sy eie werk nie, maar ook vir dit wat sy toekoms beïnvloed. Neem eienaarskap deur betrokke te raak by georganiseerde strukture wat tyd en geld in die toekoms van die landboubedryf belê,” het hy gesê.

Gemeenskapsamewerking vir beter dienslewering
Die hoofspreker, mnr Andries Nel, adjunkminister van Samewer­kende Regering en Tradisionele Sake, het produsente bedank vir hul bydrae tot die ekonomiese groei in Suid-Afrika en genoem dat die onlangse 2%-groeisyfer grotendeels aan die landbousektor te danke is.

Hy het tong in die kies bygevoeg dat hy ook boer, omdat diegene wat in die politiek betrokke is volgens die Chinese met die tong boer.

In sy toespraak het hy die wanprestasie van munisipaliteite bespreek, wat volgens hom toegeskryf kan word aan swak leierskap, politieke onstabiliteit en kompetisie om beskikbare bronne. Nel het genoem dat navorsing toon dat ‘n derde van Suid-Afrikaanse munisipaliteite na wense funksioneer met ‘n derde wat disfunksioneel is.

Vir die afgelope drie jaar werk hy, in samewerking met plaaslike besighede en georganiseerde landbou, met hierdie disfunksionele munisipaliteite en tans word daar op die Vrystaat en Noordwes Provinsie gefokus. Hy het ‘n beroep op georganiseerde landbou gedoen om die regering by te staan en met hul kundigheid en hulpbronne om dié probleem aan te spreek.

“Dit is belangrik om te kyk na langtermyn-gemeenskaplike belange en nie slegs eng korttermyndoelwitte na te streef nie,” het hy gesê en bygevoeg dat gemeenskaplike beswil die fokus in die platteland moet word.

Om herstel in die disfunksionele munisipaliteite te bewerkstellig, is die “Back to basics”-program bekendgestel. Hierdie program se doelwitte is:
•    Mense moet die middelpunt van dienslewering vorm.
•    Basiese dienste moet aan alle Suid-Afrikaners gelewer word.
•    Substrukture moet in plek wees en goeie korporatiewe bestuur moet plaasvind.
•    Gesonde finansiële bestuur is uiters belangrik.
•    Vestig volhoubare bestuurstrukture met gekwalifiseerde mense in poste.

Paneel sê hul sê
Mnr Francois Strydom, hoof uitvoerende beampte van Senwes, het genoem dat die disfunksionele plaaslike munisipaliteite ‘n direkte invloed op die winsgewendheid van produsente het. Die spoorvervoernetwerk het tot niet gegaan en padvervoer is baie duurder as spoorvervoer. Hy het bygevoeg dat Suid-Afrikaners talle ander uitdagings in die gesig staar, maar steeds met Amerikaanse produsente, wat gesubsidieer word, moet meeding.

Oudminister Roelf Meyer, wat tans ‘n direkteur van die organisasie, In Transformation Initiative, is, het by die geleentheid gesê dat Suid-Afrikaanse produsente hul in ‘n bloeitydperk bevind. Volgens hom rus voedselsekerheid op die skouers van jongboere. Met die berekening dat daar in 2050 twee en ‘n half miljard mense in Afrika gaan wees, gaan dit die verantwoordelikheid van die jongboere wees om te verseker dat die kontinent nie honger ly nie.

Die politieke analis, me Nompumelelo Runji van die Frederich-Ebert-Stiftung SA, het beklemtoon dat die tyd vir Suid-Afrikaners aangebreek het om minder na politici en meer na mekaar te luister. Volgens haar veroorsaak politici dikwels skeiding in gemeenskappe. Sy het ook gedeel dat inwoners van nedersettings daagliks met dieselfde krisisse, soos geweld en misdaad, gekonfronteer word. Sy glo dat samewerking hierdie probleme kan hokslaan. “Ten spyte van ons verskille moet ons ons menslikheid as gemeenskaplikheid aanvaar en saamwerk om struikelblokke te oorkom,” aldus Runji.

Mnr Johan van Huyssteen, 2017 Vrystaat Jongboer van die Jaar, het sy standpunt uit die oog van ‘n jongboer gedeel en genoem dat verskeie faktore jong produsente se geesdrif demp. Om die rol van die plaaslike munisipaliteit te moet vervul deur brande te blus, water te verskaf en die gemeenskap te beveilig, neem heelwat tyd in beslag en haatspraak en gerugte van onteiening veroorsaak dat produsente in ‘n oorlewingskrisis gedompel is. Hy het jongboere aangemoedig om deel van georganiseerde landbou te word omdat hierdie strukture binne die gemeenskappe ‘n groot bydrae lewer.

Die paneel het saamgestem dat die toekoms van landbou groot­liks daarvan afhang hoe landelike gemeenskappe saamstaan teen swak dienslewering, misdaad en korrupsie. In die woorde van die Amerikaanse outeur en aktivis, Helen Keller, wat doof en blind was: “Alone we can do so little, together we can do so much.”

Die dag is afgesluit met praktiese demonstrasies van hommeltuig­tegnologie, Agri Drainage en presisieboerdery.
Publication: December 2017

Section: Relevant