Presisie-beginsels én presiese produsente verhoog winste

986

December 2017

PIETMAN BOTHA, SA Graan/Grain medewerker

Grondsoorte en gronddieptes in lande en oor plase kan uitermate verskil. Die gevolg van verskille soos hierdie in die hulpbronne is dat die opbrengsmikpunte ook dramaties kan varieer.

Die verskillende opbrengspotensiale behoort die basis van pre­sisieboerdery te wees en die norm waarteen die opbrengste gemeet moet word. Die voordele van presisieboerdery word by herhaling aan produsente oorgedra, maar om hierdie voordele te meet, is nie so maklik nie omdat die belangrikste element van presisieboerdery steeds nie in aanmerking geneem word nie.

Met presisieboerdery kom die toediening van kalk of kunsmis volgens ‘n grondkaart of verwagte opbrengskaart eerste by ‘n mens op, maar in praktyk is daar heelwat ander vlakke waar presisie­boerdery ‘n groot bydrae kan maak en daarom in plek moet wees. Soms is dit die klein dingetjies wat ‘n groot verskil in die opbrengste kan maak.

‘n Groot aantal produsente gebruik nieteenstaande dié feit en teg­nologie nog steeds gemiddelde plaas- of landopbrengste vir die bepaling van bemestingtoedieningspeile. Slegs een toedieningspeil wat algeheel gebruik word, kan tot oor- of onderbemesting lei.

Bemesting en bekalking
Presisieboerderypraktyke maak dit moontlik om bemesting volgens die grond se potensiaal toe te dien en sodoende word elke gedeelte vir optimale produksie bestuur. In praktyk sal dieselfde hoeveelheid bemesting – of dalk ‘n bietjie meer – op ‘n land toegedien word, maar die verspreiding daarvan sal dramaties verskil en die produksie van die land sal geoptimaliseer word.

Met bekalking kan ‘n presisie-ontleding dalk die soort en hoeveelheid kalk benodig, dramaties laat verskil van die gemiddelde hoeveelheid benodig. Ten opsigte van presisieboerdery sal die totale hoeveelheid geld wat aan bemesting gespandeer word nie dramaties verskil nie, maar die opbrengste van die gewasse behoort dramaties te styg – met die gevolg dat die winsgewendheid van die land dramaties sal verhoog.

Uit berekeninge wat gedoen is deur ‘n 100 ha-plaas volgens die gemiddelde opbrengste te bestuur en die resultate met dieselfde plaas waar presisieboerdery toegepas is te vergelyk, het die inkomste met 8% verhoog en die koste met 4% gestyg, maar die wins het met amper 14% toegeneem. Hierdie verhoging is sekerlik genoeg om die meeste van die nuwe tegnologie benodig, te finansier?

Bemesting is een van die aspekte van presisieboerdery, maar die plasing van die pitte deur die planter speel net so ‘n groot rol om die opbrengste te maksimaliseer. Konstante interplantspasiëring is ‘n aspek wat té maklik oor die hoof gesien word en is ‘n stille winsdief.

Planter
Vir ‘n mielie om optimaal te produseer, moet die plante presies ewe ver uit mekaar geplant word. Waar die plantestand in die ry hoog begin raak, is hierdie aspek des te meer krities. Na aanleiding van ‘n statistiese proef op Bothaville in die 2016/2017-produksie­jaar, waar die konstante en korrekte plantestand (30 000 plante per hektaar of 25 cm in die ry) met ‘n variasie in die plantestand (30 000 plante per hektaar met nie-konstante spasiëring) en ‘n laer plantestand (25 000 of 30 cm in die ry) vergelyk is, is die volgende opbrengsverskille verkry.

In Foto 1 word die koppe wat in die presies-geplante gedeelte (30 000 met 25 cm-interplantspasiëring) oor ‘n 2 m-strook geoes is, getoon. Let op hoe eenvormig die koppe is – en die gemiddelde gewig is 218 g per kop!

In Foto 2 word dieselfde plantestand (30 000) met ‘n interplant­spasiëring wat wissel, getoon. Let op hoeveel die koppe van mekaar verskil. Die gemiddelde gewig is 197 g per kop.

Foto 3 toon die koppe wat oor ‘n 2 m-afstand geoes is. Hier is die plantestand 25 000 en die interplantspasiëring is 30 cm. Die gemiddelde gewig was in hierdie geval 219 g per kop.

Die gevolg van hierdie kopgewigte en plantestand is dat die opbrengste tussen die behandelings dramaties verskil het. Waar die stand korrek geplant en 30 000 plante per hektaar was, is die marge bo saadkoste op R13 961,82/ha bereken. Dit is R1 380,55 (10,02%) meer as waar die spasiëring nie reg was nie en R1 518,05 (11,29%) meer as waar die stand per hektaar laer was.

Hierdie proef toon net weer eens dat die plasing van pitte krities is. Maak seker dat die planter se saaduitmeetmeganismes korrek is en dat die saad reg geplaas is. Indien moontlik, maak ook seker dat die toetrapwiele reggestel is om te verseker dat die saad gelyktydig opkom om sodoende die opbrengste des te beter te maak.

Presisieboerdery sluit ook die regte gebruik van saad in. Nie alle kultivars sal ewe goed op alle grondpotensiale presteer nie. Sommige kultivars sal beter op die hoëpotensiaalgronde presteer, terwyl ander weer beter op die laerpotensiaalgronde sal vaar.

Dit is belangrik dat produsente die kultivars volgens hul potensiaalwaardes soos in die Mielie Inligtingsgids van die LNR-Graangewasse gepubliseer, sal beoordeel. Hier is die opbrengs­waarskynlikheidwaardes uiters belangrik om produsente in hul besluit te ondersteun.

Daar is reeds planters wat toegerus is om hierdie variasie in kultivars te kan hanteer. Uit navorsing wat in Amerika gedoen is, wil dit voorkom of daar tog iets in hierdie praktyk steek. Volgens onafhanklike proewe wat deur die navorsingsmaatskappy Beck’s gedoen is, is daar verseker ‘n opbrengsverhoging as meer as een kultivar op ‘n land geplant word. Daar behoort nog heelwat navorsing gedoen te word om die kultivars beter te kan kies en die aanwending van die kultivars beter te beskryf.

Onkruidbeheer
Deur te spaar op onkruiddoder kan die winsgewendheid van enige stelsel verhoog word – mits die effektiwiteit van die middel nie in gedrang gebring word en dit onkruiddoderweerstandigheid aanhelp nie.

Presisietoerusting wat die spuit aktiveer om net groen plante te spuit, is al ‘n geruime tyd beskikbaar. Daar is verskeie instansies
wat toerusting bemark wat net groen onkruid met die regte dosis kan bespuit en nie spuit as daar nie groen plante is nie.

Dit is ‘n groot uitdaging om die koste-effektiwiteit van hierdie toerusting te bepaal. Die hoeveelheid onkruid wat gespuit moet word, sal die koste bepaal, maar as die saak logies beredeneer word, moet daar oor tyd ‘n groot besparing realiseer.

Rygerigte bespuiting is nog ‘n manier om die koste te beheer. Indien die spuit met twee rye spuitpunte, wat afsonderlik deur twee tenks voorsien word, toegerus is, kan sekere onkruiddoders net op bepaalde plekke toegedien word.

Hierdie stap kan die hoeveelheid onkruid of plaagdoder gebruik, beduidend verminder en kan tot voordeel van die gewas wees daar waar die opbrengste verhoog sou kon word. Dink net aan die effek as Roundup nie binne die plante se blaredak gespuit word nie, maar wel in die bane waar dit die onkruid behoorlik kan dood. Meer aandag kan aan die spesifieke gebruike van spuitpunte gegee word. Deesdae is daar ‘n groot aantal spuitpuntsoorte beskikbaar. Maak daarom seker dat die regte punt vir die regte taak aangewend word. Die nuwe spuitpunte wat binne en onder die gewasse se blaredak, 360˚ kan spuit, is iets wat na my mening ‘n besliste tree in die regte rigting is.

Werktuie
Trekkers is ‘n geweldige kapitale uitgawe vir enige boerdery. Deur die effektiwiteit van hierdie belegging te verhoog, sal die koste per eenheid verseker verlaag word. In dié geval is die toerusting op die trekker wat die bestuurder se effektiwiteit, doeltreffendheid en presiesheid kan verhoog, van kardinale belang.

Auto Steer is ‘n manier om die trekker se effektiwiteit en doel­treffendheid te verhoog. Die trekker sal altyd op die regte plek ry om dubbele werk of banke te voorkom – wat ‘n wesenlike besparing meebring.

As aanvaar word dat ‘n trekker ‘n 6 m-implement kan trek en dat hy effektief net 5,5 m wyd werk, gebruik so ‘n trekker 40 liter diesel meer om 100 ha te bewerk. Die koste behoort ongeveer R12/ha hoër te wees. Dit klink seker nie beduidend nie, maar dit is
die klein jakkalsies wat die wingerd verniel.

Presisieboerdery speel ook ‘n belangrike rol in die stroper se werking. Die stropertafel verdien besondere aandag. Dit help nie jy produseer die meeste mielies per hektaar, maar dit land nie in die wa nie.

Maak seker dat die stroper die koppe inkry en die pitte in die tenk kry sonder om te mors. Een kop op die grond is geld uit jou sak en net jy sal daarvoor betaal. Die stroper moet ook oor die vermoë beskik om die nodige opbrengsdata akkuraat te versamel en vir verdere verwerking beskikbaar te stel.

Arbeiders
Ten einde presisieboerdery te laat werk, moet jy as produsent dit ook aanvaar. Jy moet jou personeel ook hierby laat inkoop en seker maak hulle bring hul kant. Dit beteken dat jy en hulle meer aandag aan groot en klein dingetjies moet gee.

Dit help nie jy het al hierdie tegnologie op die werktuie en toerus­ting, gewassatellietmonitorkaarte, stroperkaarte en wie weet wat nog alles en jy doen niks met die data nie. Jy moet hierdie inligting in jou beplanning inspan, jouself teen die kaarte meet, foute soek en aktief oplossings vir die uitdagings identifiseer. Hierdie inligting sal ‘n bydrae lewer dat daar meer sente in jou sak klingel.

Vir meer inligting, kontak Pietman Botha by 082 759 2991.
Publication: December 2017

Section: On farm level