December 2017

LUAN VAN DER WALK, lanbou-ekonoom, Graan SA

Deel 6 van die reeks rakende die voorseisoenbemarking en verskansing handel oor diversifikasie vir risiko­bestuursdoeleindes. Die voorafgaande gedeeltes van die reeks het die verskeie aspekte wat in gedagte gehou moet word wanneer verskansing en bemarking oorweeg word, aangespreek.

Dit sluit aspekte soos die werking van die markstrukture, risiko’s om te oorweeg, alternatiewe wat oorweeg kan word, asook die gebruik van Safex-termyn en -opsiekontrakte in. Die gebruik van Safex-instrumente vir prysrisikobestuursdoeleindes is een aspek wat met groot sukses vir verskansingsdoeleindes aangewend kan word, maar produsente moet ook die waarde van diversifikasie in gedagte hou – om sodoende risiko te bestuur en beter winsgewendheid te verseker.

Wat is diversifikasie?
In die finansiële omgewing word diversifikasie as ‘n risikobestuurs­tegniek beskou wat gebruik maak van ‘n verskeidenheid finansiële instrumente, industrieë of kategorieë ten einde die risiko van die belegging sover moontlik te beperk.

Die doel daarvan is om die opbrengs van die belegging te mak­simaliseer terwyl die risiko van die belegging geminimaliseer word.

Alhoewel dit duidelik is dat diversifikasie nie as ‘n waarborg teen verliese of risiko kan dien nie, is dit steeds noodsaaklik om sover moontlik te diversifiseer en die risiko oor ‘n wyer reeks aspekte te versprei, eerder as om al die risiko in een bedryfstak te dra.

In die landboubedryf sal die diversifikasie verwys na produksie van verskillende gewasse soos byvoorbeeld mielies, sojabone en sonneblomsaad, asook die gebruik van verskillende bedryfstakke wat in meeste gevalle graanproduksie en/of ‘n veevertakking insluit.

Aspekte soos vertikale integrasie kan ook as ‘n vorm van diversi­fikasie dien, omdat die risiko van die besigheid oor ‘n wyer reeks van faktore versprei word.

Diversifikasie as risikoverspreidings­meganisme in gewasproduksie
Diversifikasie in die gewasproduksiestelsels sal hoofsaaklik die produksie van verskillende gewasse insluit. In die somergraanproduserende gebiede is die hoofkontantgewasse wat verbou word mielies, sojabone en sonneblomsaad. Daar is ook minder prominente gewasse soos sorghum en grondbone wat met groot sukses verbou word.

In die wintergraanstreke is die hoofkontantgewasse wat verbou word koring, gars en kanola. Hierdie gewasse ding in meeste gevalle met mekaar mee in terme van die oppervlakte wat aangeplant moet word, maar vul mekaar ook uitstekend aan in terme van wisselboustelsels.

Die prysstrukture van hierdie gewasse kan ook interafhanklik wees en mekaar van tyd tot tyd beïnvloed, maar die meeste van die tyd het hierdie gewasse elk sy eie stel onafhanklike fundamentele faktore wat die prysbewegings beïnvloed.

Dit maak dit gunstig in die oorwegings wat verband hou met diversifisering of risikobestuur. Die produksie van die verskillende gewasse sal die risiko vir die produsent oor ‘n wyer reeks faktore versprei en kan derhalwe ook as ‘n verskansingstrategie beskou word.

Soos reeds genoem verseker diversifikasie egter nie die beperking van risiko’s nie en is daar steeds faktore waarop die produsente moet let wanneer hulle hierdie besluite neem.

Aspekte om te oorweeg wanneer diversifikasiebesluite geneem word
Die verskillende tipes risiko’s wat produsente moet oorweeg wanneer hulle verskansingsbesluite neem, is in Deel 2 van hierdie reeks in meer diepte bespreek. Dit is egter ook van kardinale belang dat produsente die verskillende aspekte waarop hulle moet let in gedagte hou wanneer hulle diversifikasiebesluite neem.

Produksierisiko
Produksierisiko verwys na die risiko verbonde aan die fisiese produksie van die gewas – wat hoofsaaklik na die opbrengs wat verkry word, verwys. Wanneer produsente besluit om alternatiewe gewasse vir diversifikasiedoeleindes te plant, is dit noodsaaklik dat hulle ook die produksie-aspekte van die gewas in gedagte moet hou.

Verskillende gewasse vereis verskillende bestuursprogramme en produsente moet hulself eers vereenselwig met die tegniese as­pek­te van die gewas se produksie voor dit op groot skaal geproduseer word. Die hoofdoel van die diversifikasie is om die produsent se risiko te minimaliseer en dit moet in hierdie lig benader word.

Prysrisiko
Prysrisiko verwys na die mate waartoe die prys van die onderlig­gende kommoditeit oor tyd verander. Die prysrisiko is een groot faktor wat die winsgewendheid van die produsent onder druk kan plaas.

Prysrisikobestuur is daarom essensieel en wanneer diversifikasie oorweeg word, moet die produsent ook die moontlike prysrisiko van die gewas wat oorweeg word, in gedagte hou. Die fundamentele faktore wat die prysstrukture van die spesifieke gewas beïnvloed, moet heel eerste oorweeg word – voordat die produsent ‘n besluit neem oor die gewas wat hy wil aanplant met die oog op die diversifikasie van sy boerdery.

Die markstrukture en inligtingsbronne is in Deel 1 van die reeks bespreek.

Kontantvloeirisiko
Kontantvloeirisiko vorm deel van finansiële risiko. Wanneer kontant­vloeirisiko in terme van diversifikasie oorweeg word, verwys dit hoofsaaklik na die waarskynlikheid dat hierdie spesifieke bedryfstak die koste daaraan verbonde sal kan dek of nie.

Produsente moet ook die koste verbonde aan die produksie van die verskillende gewasse oorweeg voor dit aangeplant word. Sommige gewasse het gespesialiseerde toerusting nodig vir die verbouing daarvan, of dit is geweldig arbeidsintensief en kan tot groot kapitale uitgawes lei – wat die oorhoofse koste aansienlik kan laat toeneem en druk op die produsent se kontantvloei sal plaas.

Winsgewendheid
Winsgewendheid is in die meeste gevalle een van die hoofdryfvere waarom produsente diversifikasie van verskillende gewasse vir ‘n spesifieke seisoen se aanplantings oorweeg. Indien die winsgewendheid van ‘n gewas onder druk is, wat meestal gepaard gaan met pryse van die kommoditeit wat onder druk is, neig produsente om makliker oor te beweeg na ander gewasse – veral indien die winsgewendheid van hierdie gewasse beter is teen die heersende markprys van die gewas.

Produsente moet egter steeds die alternatiewe gewasse wat oorweeg word, se fundamentele faktore in ag neem om sodoende vas te stel wat die moontlike prystendens in die mark is en hoe die verwagte prystendens die winsgewendheid van die gewas kan beïnvloed.

Maak die nodige berekeninge
Indien produsente die risiko’s verbonde aan die verskillende gewasse oorweeg het en gemaklik is dat die verskillende gewasse wat oorweeg word sal inpas by die huidige strukture van die plaas, moet die produsent verskeie berekeninge, wat noodsaaklik is vir effektiewe besluitneming, gaan maak.

Daar is verskeie alternatiewe wat produsente kan oorweeg, wat redelik-akkurate aanduidings gee van hoe die gewasse met mekaar kan vergelyk. ‘n Praktiese voorbeeld van maatstawwe wat produsente kan toepas om hul in die berekeninge en besluitneming te ondersteun, word vervolgens bespreek.

‘n Praktiese voorbeeld
Gestel die produsent boer in ‘n omgewing waar hy hoofsaaklik mielies verbou en dat dit sy hoofgewas is, maar die produksie van sonneblomsaad en sojabone pas ook gemaklik by sy plaas se strukture in – en hy kan dit gemaklik aanplant sonder om groot aanpassings aan sy boerderystrukture te maak.

Die produsent moet dan verskeie besluite neem om vas te stel teen watter vlakke dit die moeite werd sal wees om sy risiko tussen die verskillende gewasse en deur middel van diversifikasie van die drie alternatiewe, te versprei.

Tabel 1 tot Tabel 3 toon die sensitiwiteitsanalise van mielies, sojabone en sonneblomsaad onderskeidelik, wat aan­-dui waar die gelykbreekprysvlakke vir die produksie van die ver­skillende gewasse teen die gemiddelde opbrengs van die gewas is.

Uit die tabelle is dit duidelik dat die gelykbreek Safex-prys van mielies, sojabone en sonneblomsaad R2 616/ton, R4 867/ton en
R4 469/ton onderskeidelik is.

Tabel 4 illustreer die prysverwantskappe tussen hierdie drie gewasse en dit is duidelik uit Tabel 4 dat, gegewe die boonste inligting, die prysverhouding tussen sojabone en mielies ongeveer 1,86 is en die prysverhouding tussen sonneblomsaad en mielies 1,71 is.

Dit beteken dat die pryse van sojabone en sonneblomme onderskeidelik 1,86 en 1,71 keer hoër as die mielieprys moet wees om dit vir die produsent te regverdig om eerder meer van hierdie gewasse as mielies teen gemiddelde opbrengste aan te plant.

Die produsent moet dan gaan vasstel wat die huidige prysverwantskap tussen die verskillende gewasse wat hy wil produseer, is en wat is die verwagtinge vir die prysbewegings – wat ‘n impak op die prysverhoudings en dus die winsgewendheid van die verskillende gewasse sal hê.

Deur hierdie faktore in perspektief te plaas, kan die produsent vasstel wat sy moontlike prysrisiko is en wat die impak op die winsgewendheid kan wees sou hy die alternatiewe gewasse oorweeg.

Ten slotte
Diversifikasie strek aansienlik verder as slegs die aanplant van verskillende gewasse. Aspekte soos lewendehawevertakkings komplimenteer gewasproduksie ook in die meeste gevalle betrek­lik goed, aangesien die lewendehawe- en die mielieprys in die
meeste gevalle onder normale omstandighede redelik negatief met mekaar gekorreleer is.

Produsente kan ook ander tipe beleggings vir diversifikasie­doeleindes oorweeg. Dit is egter belangrik om te onthou dat risikobeperking die grootste rede vir diversifikasie is en produ­sente moet besluite daarvolgens neem.

Diversifikasie moet egter nie van so ‘n aard wees dat dit juis dié faktor is wat die risiko in die boerdery laat toeneem nie.
Publication: December 2017

Section: On farm level