October 2017

Nelia Rousseau, Bayer CropScience

Gebaseer op internasionale syfers, is daar reeds in 2016 bepaal dat 252 verskillende onkruidspesies weerstand in 91 verskillende gewasse en in 68 verskillende lande ontwikkel het. Dit is ook waar dat die laaste nuwe metode van werking in onkruiddoders reeds in 1985 ontdek is en daar nie enige nuwe opsies in die nabye toekoms verwag word nie.

Dit is daarom vir ons as ‘n kleingraanbedryf belangrik om die oplossings wat vandag tot ons beskikking is, met verantwoordelikheid te bestuur en sodoende ons eie langtermynvolhoubaarheid in die bedryf te verseker.

In die Australiese onkruiddoderkenner, prof Steve Powles, se eie woorde: “Die goue era van onkruiddoders is verby. In die 1980’s was nuwe onkruiddoders algemeen en weerstandige onkruide skaars. Vandag is dit andersom. Die chemie wat ons nou tot ons beskikking het, is kosbaar en moet beskerm word.”

Weerstandsbestuur is soos ‘n konstante skaakspel, wanneer jy jou volgende twee skuiwe beplan, is dit van kardinale belang om die vorige twee skuiwe nooit uit die oog te verloor nie. Mnr Richard Hinchliffe, ‘n produsent van Yorkshire in Noord-Engeland, het onkruidbestuur soos volg opgesom: “As dit werk, verander dit – voor dit breek – en onkruid jou breek.”

Bayer het reeds in 2005 die Bayvolution-projek geloods waartydens daar in samewerking met 40 verskillende leierprodusente vanuit die kleingraangemeenskap onkruidweerstandsbepaling ge­doen is. Die plase was verteenwoordigend van die Suid-Kaap sowel as die Swartland. Die Bayer Boer Wa is ingespan om verskillende produkte, wat op daardie stadium die beste beskikbare oplossings was, oor proefpersele te spuit om effektiwiteit en gevolglik ook persentasie van weerstand in raaigras, te bepaal.

Teen die einde van die projek, wat oor ‘n tydperk van vyf jaar gestrek het, is dit bewys dat die beskikbare oplossings op daardie stadium in ‘n aantal areas slegs 60% effektiewe werking kon verseker om probleemonkruide soos Lolium spp. te beheer.

Suid-Afrika is op die oomblik nog in die bevoorregte posisie dat ons nuwe oplossings van navorsingsgebaseerde maatskappye
soos Bayer tot ons beskikking het. Een so ‘n produk is Sakura, wat goeie beheer teen probleemonkruide soos raaigras (Foto 1 en
Foto 2), verskaf. Vir volhoubare, langtermyngraanproduksie is dit belangrik om die beskikbare onkruiddoders te bestuur om te ver­seker dat die beheer op die lang duur effektief is.

Ons het daarom die geleentheid om proaktief ons praktyke aan te spreek en te verander terwyl ons nog produkte soos Sakura het wat werk. Daarom is dit belangrik om:

  • Verskillende chemiese groepe op ‘n seisoenale basis met mekaar af te wissel. Meer inligting hieroor is beskikbaar by http://hracglobal.com/tools/classification-lookup.
  •  Gewasrotasiepraktyke toe te pas om onkruidbeheer in spesifieke lande deur verskillende gewasse te roteer en te kan vergemaklik oor tyd.

Dit het ten doel om langtermynvolhoubaarheid van die klein­graanbedryf te verseker. Vir dié rede promoveer Bayer die verantwoordelike gebruik en aanbeveling van Sakura deur:

  • Toediening vir meer as een jaar op dieselfde kampe (die beskikbare voorraad word ook so bestuur) te vermy;
  • rekordhouding deur produsente en gewasbeskermingsadviseurs te verseker; en
  • alternatiewe gewasse soos kanola te oorweeg.

Dit is in die graanbedryf se belang dat alle insetverskaffers en rolspelers saam staan om ‘n bydrae te lewer om die opbou van weerstand deur onkruide te beveg en te bestuur. Bayer neem dan ook hierdie seisoen die inisiatief om te begin bepaal hoe en waar ons oplossings gebruik, maar ook hoe dit bestuur word en vertrou dat jy ons graag in hierdie proses sal wil bystaan deur ‘n vinnige meningspeiling in te vul.

Raadpleeg derhalwe eersdaags jou landboubesigheidsverteen­woordiger om jou meer hiervan te vertel en toegang tot die meningspeiling te gee.

Publication: October 2017

Section: Focus on