Dié kultivars beskikbaar vir koring en sojabone

Valerie Cilliers, redakteur, SA Graan/Grain
Gepubliseer: 4 Oktober 2021

1957

Die ontwikkeling van nuwe kultivars en die navorsing daaroor is uiters belangrike komponente in die verbetering van koring- en sojaboonopbrengs onder besproeiing in Suid-Afrika.

Goed aangepaste kultivars met ’n hoë opbrengs is die sleutel tot sukses in hierdie produksiestelsels en daar is tans baie besproeiingskoring- en -sojaboonkultivars op die mark waaruit produsente kan kies. SA Graan/Grain het met saadmaatskappye gesels om uit te vind watter kultivars vir die nuwe seisoen beskikbaar is.

Koring
Pannar
Volgens Pannar vorder hulle ontwikkeling van besproeiings­koringkultivars teen ’n versnelde tempo met nuwe kultivars wat deur die navorsingspyplyn vrygestel word. Met die toename in kultivars vanaf navorsing moet addisionele proewe gedoen word om te verseker dat produsente die beste moontlike genetika in elke groeiperiode aangebied word. Pannar maak gebruik van P3-proewe (Pannar preferred products). Die proewe bestaan uit “kop-aan-kop”- en strookproewe wat reg oor die besproeiings­produksiegebiede plaasvind. Hierdie proewe word op kommersiële skaal deur Pannar se produklandboukundiges en verteenwoordigers in samewerking met produsente behartig. P3-proewe verseker dat wanneer ’n nuwe kultivar ’n bestaande een vervang, dit ’n verbetering is en nie net ’n nuwe nommer op die sakkie nie.

Tydens die 2021-seisoen word ’n nuwe medium lang groeier, PAN 3453, teenoor die bestaande PAN 3497 beproef. In die me­diumgroeiklas word PAN 3584 en PAN 3583 teen die bestaande PAN 3541 beproef en in die medium kort tot kort groeiklas word PAN 3681 teen die bestaande PAN 3400 (medium kort) en PAN 3644 (kort en nuut) getoets.

Sensako
Die teelprogramme van Sensako vir besproeiingskoring en -soja­bone konsentreer op die ontwikkeling en vrystelling van verbeterde kultivars wat die produsent in staat sal stel om hoër opbrengste en kwaliteit­graan te genereer. Die maatskappy gebruik nuwe teeltegnieke, genetika en verbeterde agronomiese praktyke, maar kyk ook na die geskiktheid van die kiemplasma in die toepassing vanpresisieboerderypraktyke. Verder fokus die teelprogram op opbrengs, stabiliteit, aanpasbaarheid, staanvermoë, siekteverdraag­saamheid sowel as graankwaliteit. Verbeterde stoelvermoë van besproeiingskoring geniet ook aandag.

Hul produkte word ontwikkel binne die beginsels van vooruitgang deur navorsing en alle nuwe produkte word eers deeglik in navorsings-, laboratorium- en veldtoestande getoets voordat dit in die mark geplaas word. In hierdie proewe word Sensako se produkte teen sy eie asook dié van ander maatskappye en die markleier in die segment getoets.

Wat besproeiingskoring in die Noord-Kaap betref, toon verwerkte resultate van meerjarige proewe dat SST 8205 die beste in die Douglas-omgewing gedoen het, met SST 8156, SST 8175, en SST 8135 kort op sy hakke.

In die Orania-omgewing het SST 8205 ook met die louere weggestap, met SST 8175 tweede. Ook in die Prieska-omgewing het SST 8205 bo aan die prestasielys geëindig, met SST 8135 in ’n naby tweede posisie.

Sensako beveel die volgende produkte aan vir ’n pakket met voortreflike risikoverspreiding:
SST 8156 is ’n nuwe mediumgroeiperiode-besproeiingskultivar wat wyd aangepas is vir vroeë en middelseisoenaanplantings – die ideale plaasvervanger vir die ou staatmakers SST 806 en SST 875. Hierdie nuwe semidwergkultivar het goeie weerstand teen uitloop en omval en toon matige weerstand teen stam- en geelroes. In die 2020-proewe in die Douglas-omgewing het hierdie kultivar uitgestaan met ’n opbrengs wat geraak-raak het aan die 11 t/ha.

SST 8205 is die nuwe hoëpotensiaal-semidwergkultivar in die Sensako-pakket en is wyd aangepas wat dit geskik maak vir alle besproeiingsgebiede. As ’n kultivar met medium tot kort groeiperiode kan dit gebruik word vir middelseisoen- en laat aanplantings. Dit toon verdraagsaamheid teen fusarium-aarskroei en bied ’n goeie staanvermoë en graankwaliteit.

SST 8135 is ook ’n hoëpotensiaal-semidwergkultivar met ’n medium tot kort groeiperiode – ’n nuwe wenner vir alle besproei­ingsgebiede met uitstekende graankwaliteit wat in die middel- of laat seisoen aangeplant kan word. SST 8135 bied ’n uitstekende opbrengspotensiaal en het ’n uiters goeie staanvermoë met tole­ransie teen fusarium-aarskroei en weerstand teen geelroes. In die 2020-proewe in die Douglas-omgewing het hierdie kultivar se opbrengs net onder 10 t/ha gedraai.

SST 8154 is ’n nuwe opsie met goeie graankwaliteit wat produsente tot hulle kultivarpakket kan toevoeg. Dit het ’n baie hoë opbrengspotensiaal en val in die groep met ’n kort groeiperiode. Dit is verdraagsaam teenoor fusarium-aarskroei en toon ook matige weerstand teen blaar- en geelroes. Dit bied uitstekende weerstand teen uitloop, val nie om nie en is aangepas vir aanplantings in die middel van en laat in die seisoen.

SST 8175 is ook ’n nuwe mediumgroeiperiodekultivar met baie goeie opbrengspotensiaal wat in vroeë tot laat aanplantings geplant kan word. Dit het ’n uitstekende opbrengspotensiaal met goeie graankwaliteit en die semidwergeienskap bied baie goeie stoel- en staanvermoë.

SNK 8177 is ’n besproeiingskultivar met ’n lang groei­periode en goeie opbrengspotensiaal wat aanbeveel word vir vroeë aanplantings oor al die besproeiingsgebiede van die land. Dit is ’n semidwergkultivar met goeie stoel- en staanvermoë asook goeie graankwaliteit en aarvrugbaarheid. Dit beskik oor goeie pitvastheid en toon verdraagsaamheid teenoor die meeste koringsiektes.

Limagrain
Die kortseisoenbesproeiingsvariëteit, Koedoes, bied volgens Limagrain uitstekende opbrengs. Dit is ’n kortgroeilengtekultivar, met uitstekende staanvermoë en is goed aangepas vir die warm sowel as die koeler besproeiingsgebiede. Die kultivar is weerstandbiedend teen uitloop op die aar en bied ’n hoë hektolitermassa.

Renoster is ook ’n kortseisoenbesproeiingskultivar met ’n kort halmlengte wat uitstekende opbrengspotensiaal en besondere staanvermoë bied. Die kultivar is matig weerstandbiedend teen uitloop op die aar en lewer ’n hoë hektolitermassa.

Sojabone
Pannar
Die sojaboonreeks van Pannar bied ’n volledige reeks groeiklasse wat geskik is vir byna enige plantdatum, plantestand en produksiegebied en sukses vir alle Suid-Afrikaanse sojaboonprodusente behoort te verseker.

PAN 1479 R is ’n nuwe glifosaat-tolerante, vinnige (MG 4,6) sojaboonkultivar wat PAN 1454 R vervang. Dit is ’n baie homogene kultivar wat saam met die gevestigde PAN 1532 R hierdie gedeelte van die mark bedien. PAN 1479 R word vir die hoofplantvenster in die koel produksiegebiede aanbeveel. Dit is ook aangepas vir die gematigde en warm produksiegebiede indien ’n vinnige kultivar benodig word.

Agricol
Opbrengs bly steeds een van die belangrikste aspekte wat ’n produsent se besluit beïnvloed om ’n kultivar deel van sy pakket te maak. Agricol het drie sojaboonkultivars wat baie gewild is onder besproeiingsprodusente. DM 5953 RSF, DM 5351 RSF en DM 5302 RSF kan met groot sukses onder besproeiing aangeplant word met populasies van tussen 300 000 plante/ha en 320 000 plante/ha. Die drie kultivars het elkeen ’n uitstekende opbrengspotensiaal en werk baie goed saam in ’n pakketaanplanting.

Southern Hemisphere Seeds
Southern Hemisphere Seeds (SHS) het reeds tien jaar gelede begin met navorsing oor sojaboonkultivars in Suid-Afrika. Hierdie navorsing is gedoen met die doel om die wydste reeks van volwassenheidsgroepe en produksietoestande te bepaal. SHS het dit reggekry om kultivars te selekteer wat die beste vir plaaslike toestande aangepas is. Die geselekteerde kultivars se prestasie jaar na jaar veroorsaak dat produsente se vertroue in die kultivars aanhou groei. SHS het daarop gefokus om kultivars te ontwikkel wat beide goed in droëlandtoestande en onder besproeiing presteer.

Uit SHS se reeks is daar twee spesifieke kultivars wat die beste onder besproeiing sal presteer.

Y 540: Hierdie kultivar is ideaal vir besproeiing in die koeler gebiede van Mpumalanga, KwaZulu-Natal en die Vrystaat. Die kultivar se volle potensiaal word bereik met vroeë aanplantings van begin tot einde November. Hierdie plant is kompak van aard en weerstandig teen omval. Hierdie eienskap laat die produsent toe om sy plantdigtheid per hektaar te verhoog asook om die rywydte smaller te maak. Die resultaat is ’n bogemiddelde prestasie met hoër opbrengste per hektaar asook ’n vroeër oes.

Y 627: Hierdie kultivar word voorgestel vir die warmer en matige areas waar die lengte van die seisoen tot sy volle potensiaal benut kan word. Die kultivar het die hoogste potensiaal in produksie met beheerde groei en is ’n baie goed gekompak­teerde plant vir sy volwassenheidsgroep. Hierdie plant het ook soos die Y 540 ’n baie hoë weerstandigheid teen omval, wat lei tot ’n gesonde plant wat makliker is om te stroop. Hierdie plant laat ook hoëdigtheidsaanplantings toe.

Sensako
Wat sojabone betref, bied Sensako die volgende produkte wat geskik is vir besproeiings- of droëlandproduksie.

SSS 5052 tuc is ’n stabiele en wyd aangepaste mediumgroeiperiodekultivar met ’n hoë opbrengspotensiaal. Hoewel die plant bosagtig is, groei dit regop in ’n onbepaalde groeiwyse, terwyl die peule op ’n baie gunstige hoogte op die plant verskyn. Dit bied weerstand teen omval en die oopspring van peule. SSS 5052 tuc is ’n Roundup Ready-kultivar wat goeie weerstand bied teen die meeste siektes.

SSS 5449 is ’n wenner in die oostelike Hoëveld. Dit is ’n semibosagtige plant met ’n onbepaalde groeiwyse in die mediumgroeiperiodeklas. Dit het uitstekende peulhoogte en is veral geskik vir nouer rywydtes. Die kultivar bied ook goeie siekteverdraagsaamheid.