Raad vir nat toestande op landerye

Gepubliseer: 4 Julie 2022

567
Piet Theron, afgetrede grond­bewaringstegnikus

Die afgelope seisoen se oormaat reënval het menige produsent raadop gehad met lande wat uitermatig nat was, terwyl daar in sommige gevalle ook ernstige erosie voorgekom het.

Alhoewel dit duidelik is dat daar op baie plekke aansienlik meer reën as normaalweg geval het, is daar tog raad om die effek van sulke toestande in die toekoms tot ’n groot mate te versag of selfs te voorkom.

Produsente wat reeds goeie uitlegte van afleibane en kontoerwalle het, behoort te kan getuig dat die invloed van oormatige reënval beduidend verminder kan word indien die volgende dinge in plek is:

  • Kontoerwalle moet op standaard in stand gehou word.
  • Inlate by waterbane moet behoorlik oop wees (ten minste 2 m wyd).
  • Afleibane moet goeie grasbedekking hê en die gras moet gereeld kort gesny word.

Dit is wel waar dat sulke lande ook besonder nat kan word wanneer abnormale reënval voorkom.

Produsente wat reeds ’n geruime tyd (ongeveer vier tot ses jaar lank) bewaringsbewerking toepas, kan verder getuig dat daar aansienlik minder tot geen gronderosie op hulle lande voorkom nie, aangesien die afloopwater op goeie vaste grond uit die land uitloop. Sonder goedgeplaaste afleibane kan daar wel erosie voorkom waar afloopwater dalk teen ’n grensdraad of wenakker uit die lande moet loop.

Die beste raad vir sulke uitermatig hoë reënval is definitief goed beplande waterafloopbeheerbeplanning, op voorwaarde dat alle afleibane en kontoerwalle in ’n goeie toestand gehou word. Die alternatief is om bewaringsbewerking toe te pas, alhoewel die voordeel van hierdie bewerking nie binne die eerste drie tot vier jaar benut kan word nie.

In ’n opvolgartikel sal die beginsels van water­afloopbeheerbeplanning, die toerusting wat benodig word asook nuwe tegnologie wat beskikbaar is, verduidelik word.

Aanbevelings
Die outeur, met ondervinding van meer as 40 jaar in grondbewaring, verduidelik en bevestig graag die volgende:

  • Ordelike waterafloopbeheerbeplanning kan vir seker help om oormatige reënval uiters doeltreffend te beheer – veral waar die ligging van afleibane korrek uitgelê is.
  • Kontoerwalle wat met die korrekte gradiënt uitgemeet is met kanale wat ten minste 2 m wyd oopgemaak is, kan afloopwater vinnig en veilig uit lande dreineer.
  • Sonder behoorlike kontoerwalle is plantrigting soms van so ’n aard dat oormatige afloopwater nie vrylik uit die lande kan dreineer nie. Wanneer daar dan wel oormatige afloop voorkom, akkumuleer die water op die laagste plekke en ontstaan daar gewoonlik spoelslote wat die oormatige afloopwater uit die land laat vloei – soms met ernstige spoelskade. Sulke spoelslote kom dikwels voor waar afleibane opgerig moes gewees het.
  • Produsente in die Viljoenskroon- en Bothaville-areas, maar ook in vele ander gebiede, kan getuig dat plantrigtings wat volgens ’n deurlopende gradiënt uitgemeet is, oormatige afloopwater ook baie effektief uit die lande kan dreineer, sonder die oprigting van kontoerwalle. Goed geplaaste afleibane is egter van kardinale belang sodat die afloopwater vanaf die plantrye in die afleibane ingelei kan word, in welke geval die afleibane dan die afloopwater veilig uit die lande uit dreineer.