September 2017

Nico Barnard, landboukundige, Pannar Saad

Teen dié tyd het die meeste produsente al klaar hul mielies gestroop. Amper elke produsent het ‘n land of twee waar die mielies omgeval het. Gewoonlik is dit net kolle wat omval, maar dié jaar sien ons sommer met tye ‘n hele blok mielies wat plat lê.

Gesonde mielieplante wat genoeg voeding en water gekry het, bly gewoonlik regop staan. Die mielieplant moet genoeg koolhidrate deur middel van fotosintese produseer om die wortel- en stam­kernselle te vul en dit lewendig en gesond te hou. Dit moet ook genoeg koolhidrate kan stoor vir die groot vraag daarna tydens graanvulling. Hierdie koolhidrate word gebruik om die stysel in die pit te maak.

Wanneer mielies enige stremming tydens graanvulling ervaar, word fotosintese verminder of selfs tydelik gestaak. Dit veroorsaak dat die koolhidrate wat vir graanvulling bestem is, baie afneem en nie genoegsaam vir graanvulling is nie. Mielieplante reageer hierop deur gestoorde koolhidrate uit die blare, stamkern en wortels te onttrek en na die ontwikkelende graan te vervoer.

Hierdie “kannibaliseringsproses” verseker die voorsiening van koolhidrate aan die ontwikkelende kop ten koste van die stam – wat aanleiding gee tot die vroeë afsterwe van die stamkern en wortels. Hierdie vroeë afsterwe gee gewoonlik aanleiding tot swaminfeksie van die wortels en stamkern.

Die eerste simptome hiervan word eers waargeneem wanneer die plante amper fisiologies ryp is en die onderste blare skielike tekens van agteruitgang toon – soos vergeling wat gevolg word deur die afsterwing van die blare.

Enige ander stremmingsfaktore kan ook stam- en wortelvrot ver­oorsaak. Dit sluit in:

  • Die verlies of vernietiging van blaaroppervlakte deur blaarsiek­tes (soos noordelike mielieblaarskroei), insekteskade, sonbrand of hael.
  • Enige skade aan die wortels deur insekte of chemikalieë.
  • Wanbalanse in voedingselemente – veral te hoë stikstof in ver­houding tot kalium.
  • Kompaksie in die grond wat wortelontwikkeling beperk.
  • Aalwurminfestasie.
  • Té hoë plantpopulasie vir die kultivar of grondpotensiaal.

Meeste kultivars toon geen simptome van stam- en wortelvrot tot kort voor fisiologiese volwassenheid nie. Dit is gewoonlik moeilik om tussen die verskillende swamme wat vir infeksie verantwoordelik is te onderskei, omdat daar gewoonlik ‘n kompleks van twee of meer swamme teenwoordig is. Hiermee saam kan stronkboorderskade die simptoom vererger. In seisoene, soos die afgelope een, waar láát herfsreën in Mei geval het, kan die infeksie tot ‘n groot mate ver­erger word.

Die teenwoordigheid van stamvrot veroorsaak egter nie altyd omval by mielies nie. Dit kan ontduik word deur die geïnfekteerde lande vinnig te stroop. Heelwat mieliebasters se stamwande is baie sterk, wat tot beter staanvermoë bydra – al is die stamkern totaal vernietig deur stamvrot.

Omval kan egter steeds voorkom – veral in gevalle waar die mielies laat gestroop word of die plante lank genoeg aan winterreën en/of sterk winde blootgestel word. Deur landinspeksies te doen, kan ‘n probleemland vroegtydig gestroop en potensiële skade verminder word.

Die vernietiging van die stamkern is ‘n simptoom van alle stamvrotte. Dit kan maklik getoets word deur die internode tussen jou duim en wysvinger plat te druk. Die plant kan ook getoets word deur die plant by die kop vas te hou en vir 15 cm tot 25 cm in die rigting van die volgende ry te druk. Indien die plant tussen die kop en die wortels knak, is stam- en wortelvrot gewoonlik teenwoordig.

Om verliese deur omval te voorkom, moet die geïnfekteerde lande so gou as moontlik geïdentifiseer word, sodat dit eerste gestroop kan word. Die lande wat aan die einde van die seisoen droogte ervaar het of wat geïnfekteer is met noordelike mielieblaarskroei (witroes), is die eerste kandidate vir inspeksie en stroop.

Kontak gerus vir Nico Barnard by 082 850 1503 oor hierdie onder­werp of as jy enige vrae het.

Publication: September 2017

Section: On farm level