Oesversekering: ‘n Oorsig oor indeksversekering vir landbou

1123

August 2017

Johan van den Berg, Santam Landbou

Indeksversekering is in wese ‘n indirekte versekeringsproduk waardeur gepoog word om die werklike skade as gevolg van
‘n versekerde gevaar te dek deur ‘n voorafvasgestelde indeks.

Tipes indeksversekering
Daar is verskeie indeksversekeringsprodukte beskikbaar, maar die twee hoofgroepe is weer- en area-indeksversekering.

Weerindeksversekering
Weerindeksversekering is seker die bekendste van die twee. Hier-mee word een of meer klimaatselement gedek in terme van afwykings vanaf óf die langtermyngemiddeld óf ‘n gekose afsnypunt. In die geval van reën, word dit in verband gebring met produksie en millimeters reën word omgeskakel na byvoorbeeld kilogram saad of pitte.

Die “waarborgreënval” word dus omgeskakel na “waarborgopbrengs”. ‘n Voorbeeld hiervan is waar daar ‘n hoeveelheid reën vir ‘n spesifieke periode “gewaarborg” word en indien die gewaarborgde hoeveelheid reën nie voorkom nie, word die verskil in reënval uitbetaal as verlies aan opbrengs.

‘n Ander voorbeeld is waar ekstreme hitte gedek word. Indien daar lang periodes van ekstreme hitte voorkom (dit word vooraf ge-spesifiseer, byvoorbeeld as daar meer as vyf agtereenvolgende dae met temperature bokant 40°C voorkom), word elke dag met temperature bokant 40°C geag om ‘n persentasie skade aan oeste te veroorsaak en word ‘n voorafooreengekome eisbedrag uitbetaal om die beraamde skade veroorsaak aan die oes te probeer vergoed.

Area-indeksversekering
‘n Tweede vorm van indeksversekering is die sogenaamde area-indeksversekering. Hier word ‘n homogene produksiearea saam gegroepeer en alle versekerdes binne die area word dieselfde hanteer in terme van skade.

Daar word egter net steekproewe van skade in die gebied gedoen en die gemiddelde verlies word toegepas op alle versekerdes in die gebied. ‘n Variasie hiervan is waar van satellietbeelde gebruik gemaak word om die huidige toestand van die gebied te vergelyk met historiese beelde. Historiese beelde is verwerk in terme van die opbrengs (verlies) wat in vorige seisoene voorgekom het om die huidige seisoen se opbrengs (verlies) te bepaal.

Voordele van indeksversekering
Die vraag is hoekom indeksversekering gebruik word en nie tradisionele versekering waar elke gedekte skade getakseer word nie.

Die groot oorweging vir indeksversekering is dat dit groot areas met baie versekerdes kan hanteer en daarom veronderstel is om minder arbeids- en koste-intensief te wees, want daar word nie ‘n individuele taksasie of skadebepaling by elke versekerde gedoen nie. Dink byvoorbeeld aan Indië waar daar ongeveer 120 miljoen produsente is en die gemiddelde oppervlakte per produsent omtrent een hektaar is. Dit is byna onmoontlik om elke produsent se skade te gaan bepaal.

Indeksversekering het tot gevolg dat hierdie kleinboere dekking kon kry teen byvoorbeeld droogte. Andersins sou daar geen versekering vir hulle beskikbaar gewees het nie, omdat tradisionele versekering te arbeidsintensief is. Hier word ‘n groep van honderde en selfs duisende produsente as ‘n eenheid hanteer en die gemiddelde skade oor die hele gebied heen bereken en elke produsent kry dieselfde skadeaanslag indien daar ‘n gebeurtenis was wat die indeks se limiete oorskry het.

Weerindeksversekering is ‘n baie kliniese manier van skadebepaling, aangesien geen gevolglike skades wat kan intree, soos siektes, as eise bereken kan word nie. Dit kan dus uit ‘n versekeraar se oogpunt ‘n bydrae lewer om kontroversie oor gevolglike skades uit te skakel, want die presiese datum van skade word gebruik as taksasie-datum of presiese voorafbepaalde periode en nie eers ‘n paar dae later soos in tradisionele versekering nie.

Hoekom word indeksversekering nie algemeen gebruik nie?
Die groot leemte in hierdie tipe versekering is dat dit nie die werklike skade vir ‘n versekerde individu konstant korrek bereken nie. In versekeringsterme word gepraat van “basisrisiko” – wat hoog is.

Alhoewel die gemiddelde skade oor die gebied heen dalk korrek bereken word, is dit nie reg verdeel tussen die versekerdes nie. Dink byvoorbeeld aan hoe veranderlik die geografiese verspreiding van reënval is. Die reënval wat by ‘n spesifieke punt gemeet word, is eintlik net geldig vir die oppervlakte van die reënmeter en kan binne meters daarvan verskil; wat nog van kilometers verder?

‘n Ander probleem is dat indien reënval as die indirekte aanduiding van opbrengs gebruik word, oor watter periode moet die reënval gemeet en vergelyk word met die voorafbepaalde aantal millimeters of snellers (triggers)? As daar byvoorbeeld ‘n twee maande-periode se reënval vanaf byvoorbeeld 1 Januarie tot 28 Februarie “verseker” word, dan spesifiseer dit nie wanneer die reën kan voorkom nie. As die grootste deel van die reën in die eersteweek van Januarie voorkom in een jaar en dieselfde hoeveelheid reën kom voor in die laaste week van Februarie, is die ver­sekeringsdekking dieselfde, maar in praktyk kan dit ‘n verskil wees tussen ‘n rekordoes en ‘n misoes. Daar kan nou gevra word waarom daar nie vir korter periodes reënval verseker kan word nie? Uit ‘n tariefberekeningsoogpunt sal die premie of tarief só hoog wees dat niemand dit sal kan bekostig nie, juis omdat reënval so wisselvallig is.

Met korter versekeringsperiodes sal daar dan omtrent altyd oor ‘n groot gedeelte van die seisoen eise wees, want daar is relatiewe lang periodes wat daar geen reën in Suid-Afrika voorkom nie. Daar is dus ‘n fyn balans tussen die lengte van die dekkingsperiode en die premiekoste. Waar daar meer van die area-indeksmetode gebruik gemaak word, is die basisrisiko op ‘n ander manier weer baie groot. Deur van byvoorbeeld satelliettegnologie en beeldmateriaal gebruik te maak (Normalized Difference Vegetation Index [NDVI]), kan ‘n idee gekry word van die vegetatiewe groei van plante (chlorofil-aktiewe gedeeltes).

Die NDVI is nie altyd ‘n goeie aanduider van pitopbrengs nie, want die vegetatiewe gedeelte en die pitopbrengs is nie altyd gekorreleer nie – veral nie onder droëlandtoestande nie. Historiese vergelykings tussen die NDVI-waardes en werklike opbrengste kan egter gebruik word om ‘n aanduiding te kry van die opbrengs op die land, maar is nie baie akkuraat nie. Die uitdaging is egter om die korrekte tyd van die groeisiklus te gebruik om die NDVI-berekening te doen. Indien te laat in die seisoen, is die blare reeds aan die afgaan en dui die NDVI swak groei aan (maar kan daar goeie opbrengste wees). Te vroeg in die seisoen wanneer blare nog aktief groei, is dikwels weer te vroeg om ‘n goeie aanduiding van die finale oes te kry.

Indien daar boonop verskillende plantdatums in dieselfde homogene gebied is, word dit ‘n nog groter uitdaging om ‘n akkurate aanduiding van die pitopbrengs te kry. Die tyd van aanplanting ver-skil oor seisoene heen en maak dit dus ‘n groot uitdaging om seisoene in die geskiedenis te vergelyk. In Suid-Afrika word redelike wye ry-spasiërings gebruik, veral vir ons somergraangewasse soos mielies. Vanuit die lug gesien is daar dan gedeeltes wat grond vertoon en gedeeltes wat blare vertoon. Die afstandswaarnemingsbeelde wat van bo geneem word, sien hierdie gedeeltes anders as wat die blote oog dit sien.

Die beelde bestaan uit klein blokkies wat dieselfde gemiddelde refleksie het, genoem beeldelemente (pixels). Alhoewel daar alreeds baie fyn beeldelemente van enkele vierkante sentimeters beskikbaar is, is dit baie duur. By die meeste kommersiële satellietbeelde is die beeldelemente heelwat groter en sien dit ‘n mengsel van blare en grond as een beeld. Hierdie verhouding van grond tot blare varieer oor die seisoen heen en lande met verskillende plantoriëntasies gaan ook van mekaar verskil in terme van die NDVI – wat die interpretasie ‘n groot uitdaging maak.

Koste teenoor akkuraatheid
Die grootste koste by versekering bly steeds om die dekking teen spesifieke gevare te verseker en arbeid is ‘n relatiewe klein uitgawe. In die geval van droogteversekering, hetsy dit met die tradisionele multirisikoversekering is of met ‘n indeksgebaseerde produk, bly die droogterisiko dieselfde.

Dit is waarom die tariewe in ‘n groot aantal gevalle min verskil – omdat die koste van droogte-uitbetalings baie hoog is met die hoë voorkoms van droogte in Suid-Afrika. Indien ‘n produsent versekeringskoste aangaan, wil hy vertroue hê in die dekking wat
hy gekoop het om vir hom as individu te vergoed wanneer versekerde skade voorkom. Omdat eise in hierdie geval gebaseer is op die gemiddeld van die gebied of homogene sone, kan dit nie gewaarborg word in die geval van indeksversekering nie.

In die geval van weerindeksprodukte is die beskikbaarheid van verteenwoordigende klimaatsdata belangrik en in baie gevalle nie geografies oor ‘n lang tydperk beskikbaar nie. Historiese data word gebruik om die risiko af te lei en ook die premie te bereken. Hierdie aspek verhoog voorts die basisrisiko en dit neem ook nie die effek van klimaatsverandering in ag nie.

Indeksversekering is nie ‘n nuwe konsep nie en is op weinig plekke in die wêreld volhoubaar aangebied. Indeksversekering het wel ‘n plek om te vul waar tradisionele versekering te arbeidsintensief is, maar die gebrek aan die korrekte uitbetaling van eise aan die individu bly die grootste struikelblok. Die gebrek aan voldoende data om die korrekte risiko af te lei is voorts ook verantwoordelik vir swak-ontwerpte aanbiedings van indeksversekering. Dit is ook nie noodwendig ‘n goedkoper alternatief vir tradisionele versekering nie.

Opsommend
​​​​​​​
Indeksversekering is ‘n alternatief vir tradisionele versekering in spesifieke gevalle waar dit nie prakties moontlik is om gewone oes-versekering te gebruik nie. Dit is egter nie noodwendig goedkoper as gewone versekering nie, maar die grootste nadeel is dat dit nie die individu se werklike skade altyd korrek bepaal nie, aangesien dit altyd ‘n indirekte metode is wat vir ‘n groter gebied geld.

Publication: August 2017

Section: On farm level